NGV: Uitgelewer aan staat se burokrasie

Argieffoto (Foto: Go Nakamura/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Sou die wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) soos dit tans is deur pres. Cyril Ramaphosa aanvaar word, sal burgers aan ʼn gesondheidsorgstelsel onderhewig wees wat “in die burokrasie van ongunstige prosesse” vasgevang is.

“Hierdie stap gaan die grootste kompromis wees vir mense wat self kan besluit waar en hoe hulle gesondheidsorg ontvang. Hul lot gaan wesenlik aan die staat se monolitiese enkelfinansieringstruktuur oorgelaat word.”

Só sê Craig Comrie, voorsitter van die drukgroep Health Funders Association (HFA), oor die “katastrofiese gevolge” wat die instelling van die NGV op menselewens gaan hê.

Die NGV-wetsontwerp stel dit duidelik dat enige prosedure of diens wat deur die NGV gelys word, nie deur ʼn private mediese skema gedek word nie.

“Almal sal dus aan die genade van ʼn monolitiese enkelfinansieringstruktuur uitgelewer wees, wat die reg op vryheid van keuse oor hoe en waar ʼn persoon toegang tot gesondheidsorg in Suid-Afrika kry, in gedrang bring,” sê Comrie.

“Pasiënte wat standaardprosedures soos mangeloperasies en heup- en knievervangings benodig, sal dan geen ander keuse hê nie as om in ongemak te leef totdat hul beurt op die NGV se waglyste aanbreek.”

Comrie sê Suid-Afrika se NGV-wetsontwerp is op Brittanje se bestaande stelsel gebaseer, maar dat pasiënte in Engeland die reg voorbehou om die private roete te kies om toegang tot lewensverbeterende prosedures buite die openbare gesondheidstelsel te kry. Suid-Afrikaners sal egter nie dié reg geniet indien die wetsontwerp in sy huidige vorm aanvaar word nie.

Hy meen soos die wetsontwerp tans staan, sal daar ʼn “diepgaande seismiese verskuiwing in die samestelling van Suid-Afrika se gesondheidsorg” moet gebeur.

“Presies hoe die NGV in praktyk sal werk, blyk doelbewus onduidelik te wees, en besonderhede oor finansiering en die lys van dienste wat beskikbaar sal wees, is nog nie eens gedefinieer of voor begroot nie.”

Die HFA sê daar is meer as een pad na universele gesondheidsorg, asook vinniger en doeltreffender maniere om die land se huidige tweevlakkige gesondheidstelsel in nouer ooreenstemming met sy gestelde doelwitte te bring.

“Dit is moontlik om te werk aan die doelstellings van universele gesondheidsorg terwyl Suid-Afrika se gesondheidsbates beskerm en gebou word én burgers se grondwetlike regte beskerm word,” sê Comrie.

“Private mediese skemas is niewinsgewende ondernemings wat gestig is om private gesondheidsorg te finansier en die druk op openbare gesondheidsdienste te verlig,” sê hy.

“Tans verwyder mense wat aan mediese skemas behoort die verpligting van die staat om hul gesondheidsorgbehoeftes te finansier, terwyl hulle steeds belasting bydra om openbare gesondheidsdienste te onderhou.

“Daarom moet ons realisties wees oor universele gesondheidsorg.

“Om die openbare gesondheidstelsel nader aan die private stelsel te bring om toegang tot gehaltegesondheidsorg vir almal te verbeter terwyl die opsie vir bykomende finansieringmeganismes gehandhaaf word, sal die doelwitte van universele gesondheidsorg vinniger bevorder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

GWS ·

Die NGV gaan eenvoudig nie werk nie! Tans kan die staat nie eers aan die huidige behoeftes voorsien nie. Dit gaan ‘n groot gemors wees!

Euodia ·

Hierdie NGV is uit die bose. Ons het nie mediesefonds nie en wag vir maande vir operasies by Karl Bremer. Dank Vader vir die uitstekende dokters daar en vir die Weskaap se goeie hospitale. Hoe lank gaan mense dan wag by buitepasiënte en operasies ??!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Hoe kan ‘n pasiënt wag vir operasies. Jy het chronies hoë koors of kan nie loop nie. Jy kan nie werk nie of moet jou besigheid sluit. Wat van hartomleiding, drukking op die brein of pynlike dermprobleme. Kom ons hoop howe gee opdragte dat pasiënte onmiddelik in ambulansvliegtuie na die buitland gevlieg word vir operasies.

Andre ·

…dis maar dieselfde as grond onteiening;
om dit weg te vat wat ons altyd onderskei het as uniek!

Johan ·

Daar is iets soos karma… Die idiote wat hierdie onding so dryf, gaan waarskynlik nie meer in hul huidige posisies wees wanneer/as dit in werking gestel word nie. Mag hulle dan ook maande lank wag vir noodsaaklike operasies. Ons sal sien hoeveel goeie dokters is dan nog oor in die land.

Johann ·

Dis maklik. Dit gaan soos BEURTKRAG werk. As dit nie jou beurt is nie…MAG JY NIE SIEK WORD NIE!

Pinoccio ·

Iemand, behalwe die kaders, gaan grooooot munt slaan uit hierdie wetgewing…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.