Nie nodig vir slapelose nagte oor gryslys

Argieffoto bloot ter illustrasie van Suid-Afrika. (Foto: Unsplash)

Suid-Afrika se onlangse insluiting op die internasionale gryslys gaan géén verskil in die lewe van die meerderheid Suid-Afrikaners maak nie.

Dit is wel kommerwekkend dat die regering skynbaar min gedoen het om dit te verhoed.

Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsroep, is nes pres. Cyril Ramaphosa én die tesourie min gepla oor Suid-Afrika se toevoeging tot die gryslys. Botha is inderwaarheid “glad nie bekommerd nie”. Selfs wanneer dit by buitelandse beleggings by fondsbestuurders kom.

“Daardie geld wat direk of indirek in die buiteland belê is, is nog steeds daar en sal steeds dividende en rente verdien,” sê Botha.

Banke sal ook nie juis geraak word nie, aangesien hulle reeds die beste internasionale prosesse volg.

Die koste van internasionale transaksies van uitsonderlike groot bedrae tussen ’n betaler en begunstigde, waaroor daar onduidelikheid heers en dit verdere ondersoek verg, sal wél hoër wees. Hierdie hoër koste kan wel kapitaalvloei, spesifiek buitelandse investering, ontmoedig.

Die rand het wel kort ná die aankondiging effe verswak en op R18,46 teen die dollar verhandel. Dit is meer as ’n week later en dit verhandel nou teen sowat R18,40.

Prof. Waldo Krugell, professor in ekonomie aan die Noordwes-Universiteit (NWU), is meer versigtig en sê niemand kan in dié stadium met sekerheid sê wat die uitwerking hiervan gaan wees nie.

“Die omvang daarvan is moeilik om te kwantifiseer. Niemand het syfers om daarvoor te wys nie. Dit is wel moontlik dat die koste van sake doen effens hoër gaan wees en dat dit effens meer moeite gaan verg.”

Investec het vandeesweek daarop gewys dat die insluiting van ’n land op die internasionale gryslys ’n beduidende negatiewe uitwerking op kapitaalinvloei kan hê. Navorsing deur die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) toon dat kapitaalvloei na lande op die gryslys aanvanklik met tot 7,6% van die BBP kan inkrimp.

(Argieffoto: Unsplash)

“Dit is egter nie te sê dat dieselfde hier gaan gebeur nie aangesien daar baie ander faktore is wat kapitaalvloei beïnvloed,” sê Krugell.

Krugell is daarom nie soseer bekommerd oor die uitwerking wat Suid-Afrika se insluiting op die lys op die finansiële sektor gaan hê nie.

Hy is wel bekommerd daaroor dat die regering toegelaat het dat Suid-Afrika in die eerste plek op die gevreesde lys beland. “Dit is duidelik wat gedoen moes word om dit te verhoed, maar dit het te stadig gebeur.”

Maroela Media het vroeër berig die regering het gans te laat gewag om die nodige stappe te doen om die gryslys te vermy. Die Wysigingswetsontwerp op Algemene Wetgewing (Bekamping van Geldwassery en Terrorisme-finansiering) is onder meer eers einde November in die parlement gedebatteer.

Vir die Vereniging vir Staatsamptenare (PSA) is dit nietemin “’n ontstellende werklikheid” dat Suid-Afrika deel is van ’n groep van 23 lande ter wêreld met ondoeltreffende stelsels om geldwassery en terrorismefinansiering te bekamp.

“Die land kan nie bekostig om gemerk te word as gevaarlik om mee handel te dryf weens die versuim om aan wêreldstandaarde te voldoen om geldwassery, terrorismefinansiering en verspreidingsfinansiering te bekamp nie,” sê die vakbond.

Botha gee toe dat dit “nie lekker is” dat Suid-Afrika op die gewraakte lys verskyn nie.

Hy wys egter daarop dat die internasionale waghond oor geldwassery en terreurfinansiering, die Financial Action Task Force (FATF), nié ’n statutêre organisasie is nie.

Dié instelling stel standaarde en bevorder die inwerkingstelling van wetlike, regulatoriese en operasionele maatreëls om geldwassery, terreurfinansiering en verwante bedreigings te bekamp om die integriteit van die internasionale finansiële stelsel te beskerm.

Botha en Krugell vermoed albei dat Suid-Afrika hom vinnig van die lys sal kan verwyder indien die kwessies wat die FATF geopper het, so gou moontlik aandag geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johann ·

Wat van die feit sat dit als behalwe ‘n kompliment is om op die lys gesit te word nie. Als behalwe ‘n prestasie. Inteendeel, ‘NOG ‘n klad op ons eens trotse land se naam.

Papsak ·

In my oe glad nie n prestasie nie moes glad nie op gryslys geplaas gewees het nie skande

Eugene ·

Dr roelof botha. U stem sekerlik vir die regerende party. Nevermind die gryslys, suid-afrika is Rommel status.

Republikein in die Wes Kaap ·

Miskien moet Dawie Roodt vir Botha verduidelik hoe werk dinge.

Prinses Bella ·

Die impak word reeds deur gewone mense gevoel. Alle betalingsfasiliteite vir Saffas expats in die buiteland is met onmiddellike effek gekanselleer. ‘n Suid-Afrikaner wat tans in die buiteland werk, kan nie ‘n hamburger of ‘n taxi bestel en met ‘n kaart daarvoor betaal nie. Ewenseens is daar groot kommer oor hoe salaris wat in die buiteland verdien word, nou na ‘n SA bankrekening oorgeplaas sal kan word. Oorsese banke het reeds kennisgewings uitgestuur om Suid-Afrikaners te waarsku oor die nuwe beperkings wat ingestel word. Vrot ANC…en ons betaal die prys op alle vlakke.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek weet van ‘n span vlieëniers wat ‘n SA geregistreede vrag vleigtuig in Indië gebruik vir werk. Hulle sit al vier dae vas op ‘n lughawe daar want hulle sukkel met betaling van brandstof en ander uitgawes. Daar is ook onsekerheid hoe hul vergoeding oorbetaal gaan word na SA. Die gryslys veroorsaak ‘n geskarrel om nuwe reëlings te tref, teen ekstra kostes.

skurweberg ·

So word ons gekondisioneer om middelmatigheid te aanvaar.

Elizabeth ·

Dit slaan my dronk. Ek werk by een van die grootste finansiële instellings in die land en die reëls word al jare lank streng toegepas. Elke jaar skryf ons eksamen daaroor. Hoe dan nou?

Republikein in die Wes Kaap ·

Watter reëls? Duidelik nie aanvaarbare internasionale reëls nie.

Jr ·

Ja dit affekteer die rand, petrol gaan dan op. Nog persentasie punte op die repo koers. Kos op, alles op maar huh duh paddakop dis nie iets om oor te worry. Nee want jy het nie loadshedding. Jy kry petrol, krag en alles verniet. You are so out of touch with us and this country

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.