Nieu-Seelandse historikus gee Bybels terug aan boerefamilies

Die Nieu-Seelandse historikus Nigel Robson (Foto: Verskaf)

Nigel Robson, ’n historikus van Wellington in Nieu-Seeland, het die taak op hom geneem om Bybels van boerefamilies wat deur Nieu-Seelandse soldate tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 geplunder is, aan die regmatige eienaars terug te besorg.

Robson het in sy meestersgraadtesis aan die Universiteit van Massey in Nieu-Seeland die uitwerking van die Anglo-Boereoorlog op die Nieu-Seelandse gemeenskap belig. Dit is tydens dié navorsing waar die verlore Bybels van boerefamilies sy aandag getrek het.

Robson het aan Maroela Media vertel dat hy met die verloop van sy navorsing oor die Boereoorlog op inligting afgekom het wat verband hou met Familiebybels wat tydens die oorlog deur Nieu-Seelandse soldate geplunder is. “Ek het diepgaande navorsing begin doen en bevind dat ’n beduidende aantal Bybels gevat is voor dit saam met die plaashuis vernietig sou word,” vertel hy.

Nóú het Robson besluit om nóg gesteelde Familiebybels op te spoor en aan die boerefamilies in Suid-Afrika terug te gee.

“Ek kan nie met sekerheid sê dat hier nog Bybels in Nieu-Seeland is nie. Gegewe die aantal Bybels wat deur Nieu-Seelandse, Kanadese, Australiese en Engelse soldate tydens die oorlog geplunder is, dink ek daar is ’n sterk moontlikheid dat nog Bybels te vinde is,” vertel Robson.

In samewerking met die Erfenisstigting in Pretoria, probeer hy om bewusmaking en belangstelling onder Suid-Afrikaners te skep om op só ʼn manier hopelik nóg boerefamilies op te spoor wat Familiebybels tydens die oorlog kwyt is. Robson maak ook staat op Suid-Afrikaanse media om lig op dié storie te werp.

‘n Plaashuis word tydens die Anglo-Boereoorlog afgebrand (Foto: Verskaf/Erfenisstigting argiewe)

Robson dink nie dit is ʼn algehele onbegonne taak om die regmatige eienaars van die Bybels op te spoor nie: “Indien ek nog Bybels kan opspoor, sal ek kyk hoeveel inligting oor die families in die Bybel opgeteken is, byvoorbeeld geboortedatums vir kinders, huwelike en dies meer. As die Bybels nie sterk leidrade soos hierdie inligting bevat nie, sal dit egter byna onmoontlik wees om die regte eienaars te vind,” sê Robson.

Dié kranige navorser was al van kleintyd gefassineerd in oorlog en geskiedenis en veral die Anglo-Boereoorlog. “Ek het eens op ’n tyd ’n oorspronklike Suid-Afrikaanse oorlogsbajonet besit.”

Volgens Robson weet die meeste Nieu-Seelanders baie min van die Nieu-Seelandse praktyke tydens die Anglo-Boereoorlog. Hy is tans besig om ’n boek, getiteld Well Done, Little New Zealand, te skryf wat gegrond is op sy studies wat hy vir sy meesterstesis gedoen het. “Ek wil met my boek mense weer bewus maak van die verhaal van die Anglo-Boereoorlog en veral die verhaal van die plundering van die Bybels.”

Robson toon ’n groot waardering vir die Suid-Afrikaanse kultuur en sy mense. “Nieu-Seelanders en Suid-Afrikaners het baie in gemeen. Hulle het tydens die Eerste en die Tweede Wêreldoorlog langs mekaar geveg. Daar is ook natuurlik die hewige sportwedywering tussen die All Blacks en die Springbokke, maar dit is wedywering gegrond op wedersydse respek vir mekaar.”

Agtergrond

Die plundering van boerefamilies se plase en die lotgevalle van vroue en kinders in konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog, speel ’n integrale rol in die vorming van die eietydse Afrikaner-identiteit.

‘n Afgebrande plaashuis (Foto: Verskaf/Erfenisstigting argiewe)

Vee en groente was veral primêre teikens onder Nieu-Seelandse soldate wat moeg geword het vir die rantsoenering wat op daardie stadium onder soldate plaasgevind het. Die soldate wou méér uit dié oorlog uitkry, al het dit beteken om artikels van boerefamilies vir hulself toe te eien.

Luke Perham, ’n soldaat van Akaroa in Nieu-Seeland, het plunder as “berugte diefstal” beskryf. Luke se broer, en ook ’n soldaat in die oorlog, vertel dat “die pret begin het” die oomblik toe hulle by die plaashuise aangekom het, want tóé kon hulle vat wat hulle harte begeer.

Alhoewel plundering ’n aanloklike gedagte was, was party Nieu-Seelandse soldate ongemaklik met die idee om van boerefamilies “te steel”. ’n Ander Nieu-Seelandse soldaat het gekla dat “hulle siek en sat is om heeltyd oorlog op vroue en vee te moet voer”.

Dit is in hierdie tydperk waar veral Bybels van boerefamilies gewilde en ook omstrede teikens onder dié plunderaars geword het. Die boerefamilies se verlies van hul erfenisskatte het geestelike en emosionele littekens op hulle gelos. Nie net word hulle van aardse goedere met onskatbare waarde beroof nie, maar ook van hul ewige erfeniswaarde.

Robson kan nie definitiewe redes vir die plundering van Bybels van boerefamilies tydens die Boereoorlog gee nie. Hy glo wel omrede die eeue oue skatte dikwels te groot was om saam te dra, het die boere dit in hul plaashuise agtergelaat en daarom was dit so ʼn maklike teiken.

“Ek glo die Bybels was aanloklike aandenkings van die oorlog wat die soldate saam met hulle kon terugneem huis toe. Ek verneem ook, alhoewel ek geen bewyse hiervoor het nie, dat sommige soldate skuldig gevoel het en eers die Bybels verwyder het voordat hulle die plaashuise aan die brand gesteek het,” vertel hy.

Familiebybels

Robson het tydens sy navorsing rekords ontdek wat dui op drie Bybels wat alreeds na Suid-Afrika teruggestuur is. Dié Bybels is aan hulle regmatige eienaars – JA van Antwerpen van Bospoort in die Lichtenburg-distrik, MP Janse van Vuuren van Witpoort in die Middelburg-distrik en Joachim Frederick Sarel Mentz van die plaas Ongegund in die Heilbron-distrik – terugbesorg.

Robson skryf in sy navorsing van die Nieu-Seelandse soldaat Patrick Mulhern wat die Bybel van die Janse van Vuuren-familie uit hul brandende huis in Witpoort tydens die oorlog verwyder het. In 1929 het die regering ’n brief met die versoek gerig om dié Familiebybel, wat in die 1600’s gepubliseer is en 25 pond weeg, aan die familie terug te besorg. Die Jansen van Vuuren-Familiebybel is sewe-en-twintig jaar na die oorlog aan die familie terugbesorg.

‘n Groep soldate bymekaar (Foto: Verskaf/Erfenisstigting argiewe)

Die Bybel wat aan die Fritz-familie behoort het, is in 1901 in die Nieu-Seelandse parlementsbiblioteek uitgestal terwyl ’n ander Familiebybel deur soldaat George Powell in die huis van ’n boere-magistraat in Arundel, Engeland, gevind is. “Dié Bybel was oorgetrek met swart sy en die geboortes van Anna Margaritha Adriana in 1877 en Margaritha Isabella J van Rensburg in 1878 is daarin aangeteken,” skryf Robson.

Powell het dié Bybel na Nieu-Seeland teruggeneem waar dit toe in die Wanganui-museum uitgestal is. “Een van die museumbesoekers was ontsteld oor die versameling van geplunderde Bybels van boerefamilies en het gevra dat hulle dit aan die oorspronklike eienaars moet terugbesorg.”

In 1903 het ’n redakteur van ’n plaaslike Nieu-Seelandse koerant berig dat die Bybels van boerefamilies in stede reg oor Nieu-Seeland uitgestal word. Sommige is na bewering opgeveil, en ’n ander een is in die venster van ’n pandjieswinkel in Wellington gevind.

Van die plaaslike koerante het na dié geplunderde Bybels as “gesteel” verwys, terwyl ander beweer dat hul dit “gekry” het.

Robson vertel van die Wellington Peace and Humanity Society wat kort na die oorlog in 1902 die spreekbuis was vir diegene wat versoek het dat die boere se erfstukke wat tydens die oorlog geplunder is, terugbesorg moet word.

Vele pogings is oor die jare aangewend om dié Bybels na die boerefamilies terug te stuur.

In 1903 het die Britse bevelvoerder lord Roberts versoek dat al die Bybels wat tydens die oorlog van die plase af “verdwyn” het aan hul regmatige eienaars terugbesorg moet word. Aan die einde van 1903 het die eerste minister van Nieu-Seeland, Richard Seddon, volgens berigte ook so ’n beroep op die Nieu-Seelandse gemeenskap gedoen.

In 1936 berig die Auckland Star dat ’n voormalige Nieu-Seelandse soldaat ’n Bybel van mev. J van Rensburg vir haar teruggegee het, maar hy het ook bygevoeg dat daar “steeds baie boere se Bybels in die hande van Nieu-Seelanders is”.

Robson se ideaal is om soveel as moontlik Bybels op te spoor en aan boerefamilies terug te besorg. Indien enigiemand nóg inligting hieroor het, stuur gerus ’n e-pos vir Estelle Pretorius by [email protected], die senior navorser by die Erfenisstigting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Philippus Janse van Rensburg

Dit is net moontlik dat daar ‘n Marè en Rossouw bybel ook hier ter sprake mag wees.

Stephan de S

Wat n wonderlike inisiatief…..en net so wonderlik dat n moontlike nageslag vd verontregtes reeds gereageer het.

Ruiklont

Woorde en nogmaals woorde. Die NZ het saam met die engelse ons vroue en kinders gemoor en geplunder. Dit help nie om agterna te sê dit het nie “reg” gevoel nie …

Johann M van Heerden

Wys weereens hoe ons Afrikaners deur die Britse magte behandel is. Die Bybels is nie eers die oortjies van die seekoei nie. Dink net hoe moeilik dit was om na die misdade weer te herbou. Ek haal my hoed af vir ons mense wat weer opgestaan het uit die as. Geen haan kraai oor hierdie misdade nie. Ek dink die Britte, Nieu-Seelanders en Australiers wat hierdie misdade teen die Afrikaner gepleeg het, moes voor stok gekry gewees het. Maar in teendeel is ons later deur daardie lande verguis en hoog heilig tot op ons kniee met sanksies gebring. Die direkte… Lees meer »

PieterJohannes

Die boere gesinne het die bybel gelos want hulle was nie toegelaat om dit saam te neem nie. Hulle het ook geglo die vyand sal nie so laag daal nie. Wys jou net!