‘Noem hul name’; talle wil opruk na Paarl-streekshof

Action Society beplan om Dinsdag in groot getalle na die Paarl-streekhof op te ruk waar die vermeende moordenaar van Siphokazi Booi sal verskyn. (Foto: Facebook / Action Society)

Die drukgroep Action Society beplan om Dinsdag in groot getalle saam met lede van die gemeenskap na die Paarl-streekshof op te ruk waar die vermeende moordenaar van Siphokazi Booi sal verskyn.

Die hofverskyning vind op dieselfde dag plaas as wat Bheki Cele, minister van polisie, die kwartaallikse misdaadstatistieke bekendmaak.

Maroela Media het vroeër berig dat die 27-jarige Booi se verkoolde liggaam in ʼn asblik langs die Mbekweni-spoorlyn in die Paarl in die Wes-Kaap aangetref is. Haar gewese kêrel, Sithobele Qebe, word van haar moord aangekla. Hy is ʼn maand voor Booi se moord op borgtog vrygelaat nadat hy aanvanklik in verband met haar beweerde aanranding in hegtenis geneem is.

Die saak sloer al byna twee jaar lank.

Action Society, wat vroeër ʼn regspan aangestel het om die moordsaak dop te hou, sê Dinsdag se byeenkoms is deel van die drukgroep se groter veldtog teen geslagsgebaseerde geweld.

Action Society het ook ʼn hutsmerk, #SayHerName, begin, wat gebruik sal word vir alle vroue wat slagoffers van geslagsgeweld was, maar wie se sake óf sloer óf net onopgelos bly. Dinsdag sal Booi se naam spesifiek op die drukgroep se lippe – en op sosiale media – wees.

“Ons het besluit om voort te gaan met die samekoms ondanks die aankondiging van die misdaadstatistieke,” het Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, aan Maroela Media gesê.

Hy meen Booi se moord en verminkte liggaam verteenwoordig die talle ander slagoffers van geslagsgeweld in Suid-Afrika, maar ook geweldmisdaad in die algemeen.

Cameron verwag ʼn opkoms van sowat 300 mense by die hof.

Hy sê Booi sou waarskynlik nog geleef het as haar vermeende moordenaar nie vroeër op borgtog vrygelaat is nie.

“Dit lyk vir ons of beskuldigdes en oortreders se regte swaarder as dié van slagoffers weeg.”

Action Society is ook uiters teleurgesteld in die stadige vordering wat daar die afgelope twee jaar met die saak gemaak is – soos die geval met verskeie ander sake.

“Wat ook vir ons baie belangrik is om te noem, is die moord op ds. Liezel de Jager wat nou nog nie afgehandel is nie. Ons praat heeltyd oor haar en Siphokazi se moorde wat boekdele spreek, of jy nou arm, middelklas of ryk in Suid-Afrika is. As jy nie politieke bande het nie, gaan jou saak nie prioriteit geniet nie. Daar is talle voorbeelde.”

Cameron beklemtoon dat daar in die De Jager-moordsaak nog nie eens ʼn inhegtenisneming gedoen is nie. In Booi se geval is iemand wel aangekla, maar elke keer verander die beskuldigde van regsverteenwoordigers en word die saak opnuut uitgestel. Só bly die gemeenskap en Booi se geliefdes op geregtigheid wag.

“Hoe is dit regverdig?”

Cameron sê die drukgroep hoop dat Cele môre tydens die bekendmaking van die jongste misdaadsyfers sal besef dat mense soos Siphokazi regte mense is wat deur die stelsel in die steek gelaat is en nie net syfers op ʼn dokument nie.

“Sonder ʼn geïntegreerde plan van die departemente van polisie, justisie, korrektiewe dienste en sosiale ontwikkeling beteken misdaadstatistieke niks nie.

“Ons wil hê al hierdie ministers, asook pres. Cyril Ramaphosa, moet haar [Siphokazi Booi] naam noem sodat hulle nie vergeet wie hulle in die steek laat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tanniepetoors ·

Feit: Ons het te min tronke, te min eerlike polisie, te min onomkoopbare regslui in ons howe, te min eerlike politici en bowenal kort ons leierskap in ons land! Ek wil.nou.sommer in hoofletters daai laaste paar woorde skree.

Janine ·

“Dit lyk vir ons of beskuldigdes en oortreders se regte swaarder as dié van slagoffers weeg.” Want almal het ‘menseregte’, selfs gemors wat nie verdien om tussen ons te leef nie…..

Chris ·

Dit is skokkend dat weerlose vroue en kinders , ook hul families, moet ly as gevolg van ons “regverdige” ANC regering met sy lui kaders. Ek wonder soms oor hul optrede as een van hul familielede se lewe so moet beëindig. Sal hul die aarde platvee om die skuldige aan die pen laat ry? Vra maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.