Nog maselgevalle aangemeld

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Nog 12 gevalle van masels is die afgelope week in Limpopo en Mpumalanga aangemeld, met ’n totaal van 71 gevalle wat tussen 1 September en 22 November in hierdie provinsies aangemeld is.

Dié getal het ’n week gelede op 59 gevalle gestaan.

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) is altesaam 60 gevalle in Limpopo aangemeld, met vier in die Capricorn-distrik, 26 in die Groter Sekhukhune-distrik, 24 in die Mopani-distrik, twee in die Vhembe-distrik en vier in die Waterberg-distrik.

Die eerste gevalle van masels in Mpumalanga is verlede week bevestig, met vyf gevalle wat in die Ehlanzeni-distrik in Mpumalanga aangemeld is.

“Die uitbreking het verder in die distrik versprei en nog vier gevalle is die afgelope week aangemeld, met die totale aantal gevalle in die distrik wat tans op nege staan. Een geval elk is in die Gert Sibande- en Nkangala-distrik aangemeld,” sê Nios.

Die hoogste voorkoms van masels in Limpopo is by kinders tussen die ouderdomme van een en vier jaar oud en in Mpumalanga by kinders tussen vyf en nege jaar oud.

In die Ehlanzeni-distrik in Mpumalanga is die hoogste voorkoms van masels by persone tussen die ouderdomme van 18 maande en tien jaar oud.

Nios het bevestig dat drie laboratorium-bevestigde maselgevalle in die hospitaal opgeneem is en geen sterftes weens masels is aangemeld nie.

“In Limpopo het 38 van die gevalle ’n onbekende inentingsgeskiedenis, 11 het geen maselentstofdosisse ontvang nie, nege is ten volle met twee dosisse ingeënt en twee is gedeeltelik met een dosis ingeënt.

“In Mpumalanga is dit by drie van die gevalle onbekend of hulle teen die siekte ingeënt is, vyf het geen entstof ontvang nie, en drie is ten volle teen die siekte ingeënt.”

Volgens Nios gaan die distrikte wat deur die uitbreking van masels geraak word, voort met openbare gesondheidsreaksie om mense op te spoor wat in aanraking was met diegene wat deur die virus besmet is. Inentings is ook nodig om die verdere verspreiding van masels hok te slaan.

Masels word deur die rubeola-virus veroorsaak en pasiënte wat die virus opdoen, toon een of meer van die volgende simptome: hoes, rooi oë en loopneus, ʼn uitslag op die vel. Persone van enige ouderdom wat nie ingeënt is nie, kan masels opdoen.

Komplikasies van masels sluit in longontsteking, diarree, dehidrasie, enkefalitis, blindheid en selfs die dood. Komplikasies kom veral voor onder ondervoede kinders en babas onder twee jaar oud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Perdeby ·

Het julle niks beter om te doenie nie, DIT IS MASEL TYD hierdie tyd van die jaar. Toe ek baaaaie jare terug op skool was, was die hele skool omtrent afsiek met masels. Ek sien het het 44 oorskry.

Delia ·

Perdeby, en as die Regering niks doen en dit raak buite beheer, sal mense steeds sê hoekom is niks gedoen.
Give credit where it is due

Anel ·

Ja, en? En dis die spul wat die nasionale gesondheidsorg op ons wil afdwing!!! Hulle kan nie eers hulle kinders inent nie!!!!!!

Delia ·

Anel, as jy dink dis net daardie groepering wat kinder immunisasies mis, het jy dit mis

Truth2bfree ·

So what?!! Dis normale kindersiekte en dit bou imuunsisteem om dit te kry. My 2 oudste kids het masels gehad toe ek swanger was met die jongste en behalwe vir ‘n paar kolletjies op hul lyfies het hulle rondgejol buite en vir presies 2 aande biki koors gehad. Behandeling Panado.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.