Nog meer hospitale van beurtkrag kwytgeskeld

(Argieffoto)

Nog meer openbare hospitale is nou van beurtkrag kwytgeskeld as deel van Eskom se ooreenkoms met die departement van gesondheid om hospitale se ligte aan te hou. Dit beteken dat amper 80 uit die 213 openbare hospitale nie meer deur beurtkrag geraak word nie.

Die departement van gesondheid het onlangs in antwoord op ʼn vraag deur die VF Plus in die Nasionale Vergadering onthul dat die getal hospitale wat nou kwytgeskeld is, verdubbel het sedert Eskom in September verlede jaar bekend gemaak het dat 37 hospitale kwytgeskeld is.

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, sê die departement het vroeër ʼn lys van 213 openbare hospitale aan Eskom gegee vir oorweging.

“Sowat 67% van hierdie hospitale se krag word deur munisipaliteite voorsien, terwyl die res krag direk van Eskom af ontvang,” sê hy.

“Uit die lys van 213 hospitale het Eskom eindelik besluit om ʼn bykomende 39 hospitale van beurtkrag kwyt te skeld. Altesaam 76 hospitale word nou kwytgesteld. Altesaam 26 hiervan ontvang direk van Eskom af krag, terwyl 50 afhanklik is van munisipaliteite se verspreiding van krag.”

Die meeste van die hospitale wat kwytgeskeld is, is in Gauteng (18), gevolg deur 15 hospitale in KwaZulu-Natal en 14 in die Vrystaat.

Die Wes-Kaap en Mpumalanga het elk slegs vier hospitale wat nie verder deur beurtkrag geraak sal word nie.

Volgens Phaahla is daar nie in hierdie stadium enige klinieke en gemeenskapsgesondheidsentrums kwytgeskeld nie, aangesien dié fasiliteite deel uitmaak van die regering se plan om instellings minder afhanklik van Eskom te maak.

“Die departement, in samewerking met die raad van wetenskaplike en industriële navorsing, ondersoek tans die opsie om sonpanele by al die openbare gesondheidsfasiliteite te installeer.”

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder vir gesondheid, sê die party is teleurgesteld in die getal openbare hospitale wat kwytgeskeld is en dat private hospitale klaarblyklik oorgesien word in die proses.

“Die VF Plus wil sien dat alle openbare hospitale en klinieke kwytgeskeld word en dat dit op ʼn dringende grondslag geskied,” sê hy.

“Dit is boonop nie net openbare hospitale wat onder beurtkrag gebuk gaan nie, maar ook private hospitale wat geld beskikbaar moet stel om behoorlik na hul pasiënte se welstand om te sien.”

Volgens Van Staden is dit uiters belangrik dat die minister die private gesondheidstelsel ook help om van beurtkrag kwytgeskeld te word. Daarvoor sal hy egter die onderskeid tussen openbare en private hospitale moet laat vaar.

“Dit moet hier nie gaan oor die openbare gesondheidstelsel teenoor die private gesondheidstelsel nie, maar oor die doeltreffende behandeling van alle pasiënte ongeag van watter sektor hulle gebruik maak,” sê hy.

“Die regering moet toesien dat pasiënte voldoende mediese sorg ontvang en eerder krag wat gebruik word om die ligte in ministers se wonings aan te hou, herlei na alle hospitale en klinieke.”

ʼn Groep politieke partye en vakbonde het reeds ʼn hofaansoek ingedien om Eskom te dwing om onder meer sowat 1 100 polisiestasies, openbare gesondheidsinstellings soos hospitale en klinieke, sowat 23 000 openbare skole, selfoonnetwerke en kleinhandelaars wat bederfbare kos verkoop, van beurtkrag kwyt te skeld.

Die voormalige Eskom-hoof, André de Ruyter, het egter met die aansoek aangevoer dat hierdie besluit die land verder in ʼn krisis sal dompel met Suid-Afrikaners wat ʼn swaarder beurtkraglas sal moet dra om die netwerk stabiel te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Marthinus Johannes ·

Die land is nog nie regtig in n krag krisis nie ( Zimbabwe hardloop 16 ure beurtkrag op n dag). Maar alles wat nou gedoen word kan gedoen word sonder om n noodtoestand af te kondig. Hierdie is net weer n verskoning om sekeres vol te stop en geld stelery soos met COVID.

Mieke ·

Hier is die begin van BAIE groot moeilikheid… Die las gaan al hoe meer beurtkrag veroorsaak.

Johanna ·

Dit is Baie goed,maar wat van ons wat pasiente tuis verpleeg? Ons het ook elektrisiteit dringend nodig.

Truman Burbank ·

En wonings wat op die “hospitaal lyn” is kry ook nie beurtkrag. Soos bv al die wonings wat op die unitas lyn is, is “vrygestel”

Maggies ·

Alle hospitale, lykshuise en tehuise vir bejaardes en gestremdes moet kwytgeskeld word van deelkrag. Dit behoort nie eens ‘n opsie te wees nie.

Witbaard ·

En dan is jy op permanente fase 8 en hoër. Lyk nie jy verstaan hoe kragopwekking werk en hoekom beurtkrag toegepas word nie. Daar IS nie opwekkingskapasiteit nie, so waar gaan die krag vandaan kom vir die hospitale?

philippus ·

Hoekom kry die staat wat die oorsaak van die krisis is kwytskelding. Ons is al.al gelyk. Waar trek ons die Lyn. Boere, slaghuise, koelkamers, hoender boerdery, brand weer, polisie, lykshuise. Hospital moet maar die diesel in sy generator gooi soos die private hospitale.

Keelvol ·

Nie een polisie word kwyt geskel van beurtkrag nie. Eskom moet die probleem oplos. Niemand anderste kan nie.

Harley Davidson ·

As die netwerk dit kan verskaf dan is dit reg om dit te doen alternatief moet die staat alternatiewe krag soos solar aan die hospitale gee om self onderhoudend te wees.

Witbaard ·

As dit gaan gebeur, is ons permanent op fase 8 en hoër. Verduidelik asb vir die VF Plus se woordvoerder van gesondheid dat daar bloot nie genoeg krag opgewek kan word om dit te bewerkstellig nie. Dit is ‘n edele gedagte, maar ongelukkig nie haalbaar, tensy ons bereid is om self in die donker te sit.

SjN ·

As die job reg gedoen was soos voorheen en instandouding, onderhoud en uitbreiding gedoen was soos benodig, was die berig en gesprek nie nodig, nog n bewys van mislukking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.