Nóg ’n interdik om stakers te stuit

(Foto: Nehawu/Facebook)

Die Gautengse departement van gesondheid het ná dae lange wydverspreide wetteloosheid nou eindelik ’n interdik van die Johannesburgse arbeidshof bekom wat enige verdere staking van die vakbond Nehawu verbied.

Die tussentydse interdik is Woensdag toegestaan en onmiddellik van krag.

Stakende werkers word ingevolge dié interdik verhoed om enigiets te doen wat toegang tot gesondheidsfasiliteite oor die hele Gauteng direk of indirek belemmer.

Dit verhoed ook die beskadiging van enige departementele eiendom, hetsy roerend of onroerend, asook die versperring van ingange of geboue.

Stakende werkers word nou voortaan verbied om pasiënte, personeel, kontrakteurs óf amptenare van die departement te dreig, intimideer of aan te rand.

Dít nadat Nehawu versuim het om gehoor te gee aan ’n aanvanklike interdik wat bekom is om die staking in die eerste plek te stuit en wat tientalle hospitale tot stilstand gedwing het.

(Foto: Nehawu/Facebook)

By die Kopanong-, Sebokeng-, Thelle Mogoerane- en Bheki Mlangeni-hospitaal in Gauteng is pasiënte aan hul eie lot oorgelaat nadat stakende werkers die sale ingevaar en personeel verjaag het.

Bedrywighede by die Charlotte Maxeke- en Chris Hani Baragwanath- akademiese hospitaal is ook ontwrig.

Die provinsiale nooddienste is nie ontsien nie en paramedici is gedreig, sou hulle op noodoproepe reageer. Ambulanse is ook toegang tot hospitale geweier.

Motalatale Modiba, woordvoerder van die departement, sê Nehawu het hom ná die afgelope paar dae se gebeure met geen ander keuse gelaat as om weer die hof te nader nie.

Verskeie politieke partye, waaronder die DA en die VF Plus asook die Menseregtekommissie (MRK), het reeds hul kommer oor personeel en pasiënte se veiligheid uitgespreek sedert lede van Nehawu Maandag by hospitale en distrikskantore in onder meer Gauteng, Noordwes en die Vrystaat begin opruk het.

Die vakbond is een van dié betrokke in ’n loongeskil met die regering. Die departement van staatsdiens en administrasie bied ’n salarisverhoging van 4,7% aan. Vakbonde eis egter salarisverhogings van tussen 10% en 12%.

Lees al Maroela Media se berigte oor die staking en die gepaardgaande ontwrigting hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Frikkels ·

Waar is mr cele nou? Hy is mos veronderstel om wet en orde te handhaaf. Waar is die siek pasiënte se menseregte heen? Slegs terroriste organisasies kwalifiseer vir menseregte in ons siek bestel. Skiet die belhamels dood en kyk hoe verdwyn die res van die lafhartige spul. Hulle maak staat op getalle. Die sap behoort dit mos te kan hanteer!

Republikein in die Wes Kaap ·

Dán is daar ‘n volskaalse rewolusie. Die nuttelose SAPS en SANDF sal net hulpeloos sonder ammo toekyk. Party sal ook saam winkels plunder. Die regime sal dan Zim se polisie en weermag vra om te kom help om in beheer te bly. Jou geliefde Suid Afrika is af in die riool.

TruthDealer ·

In n Laeveld dorpie is selfs die staats veearts beveel om te sluit vir hierdie storie. Ja julle lees reg. Die staats VEEARTS. Nee kyk ek gaan maar liewer verder niks sê nie.

melaney ·

Talle walglike stories wat nou vorendag kom. Geen respek vir mense se lewens nie.

Jaco ·

Nehawu is deel van COSATU
COSATU is in alliansie met die ANC
Die ANC regeer SA en beheer dus die departemente van gesondheid, polisie en arbeid wat almal by dié staking betrokke is
Dis dus eintlik alles 1 groot ANC ding
Hoe is daar dan sulke onmin in die ANC-huis?
Het die ANC en hulle SA Kommunistiese Party pêlle dan NIKS tydens hulle exile in kommunistiese lande geleer nie? Party en Staat was EEN daar. Sulke nonsens soos in dié berig het eenvoudig nooit gebeur nie. En, terloops, meeste van daardie kommunistiese lande, veral Rusland, Pole, Oos-Duitsland en Hongarye, was ook SONDER beurtkrag, swak vuil staatshospitale, swak of geen munisipale dienslewering, lae standaard onderwys en en en.

Michael ·

Al die dinge wat hierdie interdik nou kwansuis verhoed-is dit nie in elk geval teen die wet gewees nie. Die SAPS moes net die wette afgedwing het-wat hulle natuurlik nie doen nie. Ek verstaan nie hoe daar na die howe gegaan word om ‘n interdik te kry vir optrede wat reeds oortredings van die wette is nie.Help my verstaan asb

annie ·

Van die unies het skaars 30% betalende lede maar hul gaan so aan asof die maan aan hulle behoort. Slim vang nou al die pad sy baas… Met Cyril, ‘n gewese groot unie-voorbok, nou president van SA, wat vasdraai in selfgeskepte ANC-aangevuurde gierigheid.

domheks ·

Wonder WIE regeer die land. Korrupte cANCer of die unies?
Ou cele is missing in action. Hy mos nou weer klaar deur ramaparra aangestel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.