Nog ʼn Stellenbosch-skool groet beurtkrag

Laerskool iKaya in Stellenbosch. (Foto: Verskaf)

Beurtkrag of nie, nóg ʼn skool op Stellenbosch gaan binnekort die ligte deurlopend kan aanhou danksy ʼn sonkragaanleg wat by die skool geïnstalleer word.

Die hibriede 15,12 kW- fotovoltaïese (FV-) stelsel gaan boonop verseker dat Laerskool iKaya bykans R50 000 op sy jaarlikse kragrekening spaar.

iKaya is die tweede skool op Stellenbosch wat baat by die sonkragprojek wat in samewerking met die Wes-Kaapse onderwysdepartement, die Universiteit Stellenbosch (US) se afdeling vir sosiale impak en ander vennote van stapel gestuur is.

Die projek finansier die installering van hernieubare energiestelsels en doeltreffende beligtingsopsies by 75 skole in die Wes-Kaap wat nie skoolgeld hef nie.

Die eerste skool wat by die projek gebaat het, was Laerskool Cloetesville wat ʼn FV-stelsel van 7,5 kW ontvang het.

Hierdie stelsel wek jaarliks sowat 14 MWh (14 000 eenhede) op, wat jaarliks byna 13 ton koolsuurgas en R20 000 in elektrisiteitskoste bespaar. Terselfdertyd kan die skool krag terug aan die netwerk verkoop.

Laerskool Cloetesville was ook die eerste skool en tweede gebou wat ʼn energieprestasiesertifikaat (EPC) ontvang het. As sodanig sal die skool nou opgegradeer word na ʼn hibriede stelsel met ʼn hibriede omskakelaar en batterye.

Volgende aan die beurt vir só ʼn energiebesparende stelsel is Hoërskool Cloetesville, wat as deel van die US se program vir sosiale impak met die stelsel toegerus sal word.

Laerskool Cloetesville. (Foto: Facebook)

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement sal op sy beurt nog sewe skole in die provinsie van soortgelyke stelsels voorsien.

Dr. Leslie van Rooi, senior direkteur van sosiale impak en transformasie aan die US, sê die universiteit het net meer as R1 miljoen tot die projek bygedra omdat hulle glo in die potensiaal wat plaaslike skole kan bereik.

“Ons doen dit omdat ons weet dat ons samewerking, ondersteuning en leer fundamenteel is vir die US en ons dorp se geleenthede,” sê sy.

“Ons hoop dat hierdie broodnodige verandering nie net die uitwerking van beurtkrag en elektrisiteitskoste positief sal beïnvloed nie, maar ook leerders se leerervarings sal aanhelp. Leerders behoort immers te verstaan hoe energie deur die son geproduseer word, by skole geberg en dan gebruik word.”

Jason Samuels, wat onlangs sy doktorsgraad aan die US voltooi het, en sy span het die afgelope twee jaar uitgebreide energie-oudits by verskeie skole gedoen om te bepaal hoe hulle met energiebesparende ligte en meters toegerus kan word om hul energieverbruik te meet en te bestuur.

“Deur dit te doen, verminder ons ʼn skool se energierekeninge met enigiets van 21% tot 39%.”

Met die US se hulp het meer as 25 skole reeds hul gloeilampe met energiebesparende LED-gloeilampe vervang.

Ná die sukses van die loodsprojek is nog 100 skole geïdentifiseer wat by hierdie soort ingrypings kan baat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

domheks ·

Positief! Wonder net x-eskom gaan nie meer geld in kry nie! Dan is die trog leeg.

Johan Tredoux ·

Dankie de Ruyter. Jy het nou veroorsaak dat hierdie skool Sonkrag gebruik. So trots op jou.

Jacobus ·

Waar het die skool sy elektrisieteit teen R1-42 per eenheid aangekoop? Ons betaal amper R3-00 per eenheid? Of noem n mens sit kruissubsidieering?

Dahlia ·

Mooi so Wes-Kaap, Universiteit van Stellenbosch en ander betrokkenes wat mee gehelp het! Dis verblydend om te verneem dat nog 100 skole geïdentifiseer is wat by hierdie soort ingrypings kan baat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.