Nog ’n week van beurtkrag

Argieffoto (Foto: Engin Akyurt/Unsplash)

Fase 2-beurtkrag is Maandag om 05:00 ingestel en sal tot verdere kennisgewing geld.

Eskom het Sondag gesê twee opwekkingseenhede het oor die naweek die gees gegee. Dit terwyl daar deesdae meer beplande instandhouding gedoen word “as deel van Eskom se plan om sy opwekkingsvloot se betroubaarheid te verbeter”.

Eskom het voorts gesê sy spanne by die kragstasies werk ywerig om opwekkingseenhede so gou moontlik weer aanlyn te bring, hetsy dié eenhede onbeplande onderbrekings of beplande instandhouding ondergaan.

Daar word verwag dat ’n totaal van 3 830 MW in opwekkingsvermoë teen Woensdag weer tot die netwerk gevoeg sal kan word.

Altesaam 14 641 MW in opwekkingseenhede is egter in dié stadium weens onklaarrakings onbeskikbaar, terwyl 7 850 MW aan beplande instandhouding afgestaan word.

Maroela Media het verlede week berig beurtkrag word in die stadium grootliks ingestel om meer beplande instandhouding te doen ten einde Eskom se opwekkingseenhede gesond te hou en die algemene prestasie van die nasionale kragnetwerk te verbeter.

Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, het verlede week erken dat sou beplande onderhoud van September 2023 tot Februarie 2024 met tussen 25% en 50% verminder kon gewees het, beurtkrag gedurende die tydperk heeltemal afgeweer kon gewees het.

“Dit sou egter die stelsel kwesbaar en swakker laat in aanloop tot die komende winter,” het die minister verduidelik.

Ramokgopa het ook toegegee dat al was die toename in instandhouding ʼn bewuste besluit, dat dit bygedra het tot Eskom se swakker prestasie die afgelope paar maande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Blikkies ·

Hulle reken dan dit gaan so voor die wind met die opwek van krag, een van die dae gaan die minister van krag nie meer werk hê nie………………Ek hoop hy skrik gou wakker uit droomland.

Papsak ·

Ek dink dan dit gaan so goed nou by Eskom krag is onder beheer hoe dan nou Minister van krag skrik wakker kom uit jou nagmerrie uit niks beter word nie nie solank julle asn bewind bly nie punt ……..

domheks ·

Nog ‘n week, nog ‘n maand, nog ‘n jaar, nog ‘n eeu! So lieg ons voort en verwag die mense moet hulle glo!

tweeling ·

Daar is nie ‘n minister van krag nodig nie. Dinge sal dieselfde wees al is hy nie daar nie.

Casper ·

Hoeveel eenhede verteenwoordig 14641 MW wat weens onklaarrakings nie beskikbaar is nie terwyl 7850 MW aan beplande instandhouding afgestaan word of word beurtkrag ingestel om noodreserwes aan te vul.Die minister van krag hou ons aan ‘n lyntjie net soos sy baas die hele SA om die bos lei.

Michael ·

Loadshedding en volgende geen water en sou die ANC die volgende verkiesing wen sal Suid-Afrika vir die volgende 5 jaar beurtkrag hê, bygesê as die infrastruktuur dit toelaat.

Johan ·

@Tweeling, ek stem 100% saam! Dis maar net nóg n onnodige senior pos wat geskep is vir kaders van kaders. En dis veronderstel om n tydelike pos te wees, maar daai pos sal vir altyd bestaan… hulle werk so.

Cassie Carstens ·

Ek hoop net die herstelwerk wat hulle nou doen, is op standaard, wanr die kragstasies word tot hulle uiterste gedryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.