Nog oorstromings op Kaapse paaie

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Jessica Knowlden / Unsplash)

Kaapstad se rampbestuursentrum sê verskeie paaie in die stad het reeds oorstroom nadat swaar reën Sondag en Maandag oor groot dele van die provinsie uitgesak het.

Charlotte Powell, woordvoerder van die rampbestuursentrum, het Dinsdag gesê informele nedersettings in Khayelitsha, Langa, Ottery, die Strand, Philippi, Gugulethu, Delft en Vrygrond is die ergste geraak.

“Die stad se vervoerdepartement verskaf gruis en sand waar moontlik om grondvlakke te lig.

“Huise het ook in Eerstelaan, Ravensmead, oorstroom nadat ’n retensiedam oorgeloop het. In Freedom Park, Ottery, het die dakke van tydelike strukture ook weens swaar reën ineengestort.”

Powell sê verskeie paaie het oorstroom en dat die departement met opruimingswerk besig is.

Kragonderbrekings word ook weens die weerstoestande in Mitchells Plain, Bridgetown, Rosebank, Mowbray, Claremont, Philippi, Houtbaai, Grassy Park en Zeekoevlei ondervind.

“Die elektrisiteitsdepartement werk tans om kragtoevoer te herstel.”

Kevin Jacobs, woordvoerder vir die stad se verkeersdiens, sê die verkeersdiens is na verskeie tonele ontbied waar stedelike paaie en roetes weens oorstromings versper is.

Groot kruisings wat tans geraak word, is:

  • Japhta K Masemola‑ en Duinefonteinweg
  • Frans Conradierylaan en Norwoodweg
  • Borchards Quarry voor die N2 in Nyanga
  • 35ste Laan tussen Robert Sobukwe- en Owenweg.

“Motoriste word versoek om alternatiewe roetes te gebruik, versigtig te ry, spoed te verminder en ’n veilige volgafstand te hou,” het Jacobs gesê.

Maroela Media het Maandag berig dat die R44 naby die Mooiberge-padstal tussen Stellenbosch en Somerset-Wes ná ’n wolkbreuk oorstroom het.

Reën in dié gebied bied welkome verligting nadat brandspanne vyf dae lank gespook het om ʼn brand wat op die Lourensford-landgoed naby Somerset-Wes ontstaan het, te blus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Helene ·

Ja mag Onse Vader vir ons genadig wees en die hemele oop maak oor ons opvangsgebiede.

SjN ·

Dankie vir die reen, skade aangerig kan gelukkig herstel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.