Nóg storms, vloede in dié dele voorspel

(Foto: Verskaf)

Verwoestende storms het Sondag en Maandag in groot dele van Suid-Afrika gewoed en aansienlike skade in dele van die land aangerig. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sal dié stormagtige weerstoestande egter Dinsdag voortduur.

Maroela Media het vroeër berig die SAWD het ʼn geel vlak 2-waarskuwing vir Maandag in die westelike en sentrale binneland van Mpumalanga, Limpopo, Gauteng, die noordoostelike dele van die Vrystaat, die oostelike dele van Noordwes en die westelike dele van KwaZulu-Natal uitgereik.

Sterk rukwinde, swaar reën, donderstorms en haelkorrels so groot soos gholfballe is in dié dele aangemeld en sommige huise is beskadig. Die Steve Tshwete-munisipaliteit het luidens ʼn verklaring sy rampbestuurspanne ontplooi en gesê geaffekteerde gesinne ontvang ondersteuning. Huise waarvan die dakke afgewaai het, sal met ʼn seil bedek word.

“Daar is gelukkig geen beserings tot dusver aangemeld nie. Ons spanne sal 24 uur per dag werk om die skade te herstel,” lui die verklaring.

Volgens die weerdiens sal die reën na verwagting Dinsdag nog in al bogenoemde gebiede voortduur.

ʼn Oranje vlak 6-waarskuwing vir ontwrigtende reën wat tot oorstroming van paaie en nedersettings kan lei, is Dinsdag vir dele van KwaZulu-Natal uitgereik.

Sommige paaie in dié provinsie is reeds oorstroom en noodreaksiespanne is op hoë gereedheidsgrondslag nadat die waarskuwing vir ontwrigtende reën en wydverspreide oorstromings in die provinsie uitgereik is.

ʼn Geel vlak 2-waarskuwing is ook op plekke tussen Buffalo City Metro en Port Edward in die Oos-Kaap aangemeld.

“Ontwrigtende reën kan tot oorstromings van informele nedersettings, paaie, laagliggende gebiede en brûe lei en ontwrigting van munisipale dienste kan hier verwag word,” lui ʼn verklaring van die SAWD.

Limpopo sal ook nie die storms vryspring nie.

“Erge donderstorms met moontlike skadelike winde, hael en swaar reënbuie sal na verwagting skade aan bome en swak geboude nedersettings in die westelike en sentrale binneland van Limpopo aanrig.”

Inwoners van die noorde van Gauteng kan ʼn warm dag verwag, andersins bewolk en koel met geïsoleerde buie en donderbuie. Dit sal gedeeltelik bewolk in die suidweste van die provinsie wees.

Inwoners van Mpumalanga kan warm toestande in die Laeveld verwag, andersins bewolk en koel met enkele buie en donderbuie. Verspreide donderbuie kan in die suidoostelike dele van die provinsie verwag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bolandse Nooi ·

“Huise waarvan die dakke afgewaai is, sal met seile bedek word” … en volgende jaar dié tyd, is die mense nog nie gekompenseer vir die skade nie en is die dakke steeds met seile bedek. Kyk maar hoe lyk dit nog in KZN na April 2022 se vloede, kyk hoe het dit gelyk na die September 2023 vloede in die Kaap (en hoe lyk dit nou – paaie/strate is LANKAL-AL herstel, mense is geholpe met tydelike verblyf/hervestiging en ander opruimingwerk is volstoom aan die gang of reeds afgehandel).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.