Nóg treine kan opeenhoping by Richardsbaai-hawe verlig  

Vraglaaier by Richardsbaai-hawe (Foto: Transnet Port Terminals/Facebook)

Bykomende treine op Transnet se Noordkorridor (die steenkoolspoorlyn van Lephalale in Limpopo na Richardsbaai in KwaZulu-Natal) sal moontlik ʼn oplossing bied vir die enorme opeenhoping wat by dié hawe ondervind word.

Volgens Transnet sal sewe bykomende treine elke week van middel Desember op die Noordkorridor-spoorlyn loop, wat die aantal treine na Richardsbaai op 28 te staan bring. Transnet beoog om teen Maart altesame 35 treine per week op sy Noordkorridor te hê.

Dié ingrypings sal poog om die prestasie van die Noordkorridor te verbeter en vorm deel van Transnet se algehele herstelplan wat geïmplementeer word om die bedryf- en finansiële prestasie van die maatskappy te verbeter.

Die Noordkorridor hanteer tans 41% van Transnet-vragspoorvervoer (TFR) se algehele volumes en genereer 38% van TFR se inkomste. Die Noordkorridor ondersteun ook kernmarkte wat ongeveer 3% tot Suid-Afrika se BBP bydra.

Spoorkommoditeite soos uitvoersteenkool en chroom word op dié spoorlyn vervoer. Die prestasie van die spoorlyn het egter oor die afgelope jare agteruitgegaan, onder meer weens ʼn tekort aan beskikbare en betroubare lokomotiewe, hoë vlakke van kabeldiefstal en die beskadiging van infrastruktuur.

Maroela Media het vroeër berig aansienlike agterstande by die Durbanse hawe en ʼn opeenhoping by die Richardsbaai-hawe hou groot negatiewe gevolge vir die ekonomie in. Die dringendheid van die situasie het Transnet gedwing om deurslaggewende ingrypings in werking te stel wat daarop gemik is om die ekonomiese impak te verlig.

Die vertragings is glo te wyte aan verskeie faktore, insluitend ongunstige weerstoestande en beskikbaarheid van toerusting.

Transnet se bestuur meen egter die onderneming is ten volle opgewasse om aandag te gee aan die probleem.

Die eerste groep bykomende treine sal die vervoervolume tot 15 400 ton per week verhoog. Transnet sê dít beteken ʼn jaarlikse tempo van 739 200 ton per jaar, wat gelykstaande is aan 452 padvragmotorritte per week, en 21 747 padvragmotorreise per jaar.

Die eerste vier lokomotiewe sal oor die volgende paar dae in gebruik geneem word.

Die toename in die aantal lokomotiewe beskikbaar, is glo deels as gevolg van bykomende

lokomotiefkapasiteit wat herstel is en nou in die korridor ontplooi kan word.

ʼn Afname in kabeldiefstalvoorvalle beteken ook dat TFR-treine meer doeltreffend en sonder onderbrekings bedryf kan word, wat beter omkeertye verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kiepie ·

Nog treine kan die opeenhoping op ons paaie ook verlig maar helaas sien ons regering nie die nut daarin om infrastruktuur in stand te hou en op te gradeer nie.

electricmango ·

Kiepie hulle het mos treine gekoop so ruk terug maar toe pas dit nie op ons spoorlyne nie. Probleem is dit verg dink werk en jy weet hoe voel die manne oor werk, nevermind as dit dinkwerk is.

Jan Jacobs ·

Daar is geen infrastruktuur, meer oor van die spoorweg nie, weet nie waar gaan die treine loop nie.

honeybee ·

Wonder of hierdie treine rubber wiele het, want spore is daar nie meer nie.

Andre ·

…pure verkiesing-stories!
A en C worry nie eers meer as hulle uitgevang word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.