Numsa-staking: ‘Ooreenkoms naby’

Numsa-stakers. Foto: Sapa

Numsa-stakers. Foto: Sapa

‘n Ooreenkoms wat ‘n einde sal bring aan die staking in die metaal- en ingenieurswesebedryf is glo in sig, volgens die minister van arbeid se woordvoerder.

“Die partye is baie naby aan ‘n ooreenkoms. Ons probeer ‘n paar taai kwessies uitsorteer,” het Mokgadi Pela, minister Mildred Oliphant se woordvoerder, gesê.

Pela sê daar is heeldag Maandag met die werkgewers vergader en dat hulle nou met Numsa sal vergader. “Die onderhandelinge is in ‘n sensitiewe stadium.”

Pela wou geen verdere besonderhede bekend maak oor die vergadering nie en sê hy wil nie die uitkoms vooruitloop nie.

Pela het vroeër gesê die “taai kwessies” is rakende arbeidsmakelaar, die jeugloonsubsidie en behuising.

Numsa-lede in die metaal- en ingenieurswesebedryf staak sedert 1 Julie en dring aan op ‘n verhoging van tussen 12% en 15%, ‘n behuisingstoelaag van R1 000 en ‘n bemiddelingsooreenkoms van een jaar. Numsa eis ook dat die gebruik van arbeidsmakelaars gestaak word.

Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika (Naesa) het vroeër Maandag gesê onderhandelings om die staking te beëindig was onsuksesvol. Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van Naesa, het gesê die werkgewer het Vrydag met Numsa vergader ten einde ‘n oplossing te probeer vind.

Die Federasie van Staal- en Ingenieursbedrywe van Suid-Afrika (Seifsa) het Donderdag ‘n driejaar aanbod van tussen ‘n agt persent en 10%-verhoging in die eerste jaar gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Retha Roux ·

Die stakers verstaan nie, hoe meer hul staak, hoe hoër jaag hul die lewenskoste. Pensioentrekkers moet maar tevrede wees met hul druppel in die emmer, maak nie saak
hoe duur alles word nie, dan moet ons maar sonder die nodige bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.