Numsa wil Takatso-kontrak stuit

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Michele Spatari/AFP)

Die metaalwerkersvakbond Numsa steek viervoet vas teen die kontrak wat die Takatso-konsortium ʼn  beherende belang in die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sal gee omdat dit glo “stink van korrupsie”.

Die vakbond het ʼn skrywe aan die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gerig in ʼn poging om die ooreenkoms te stuit.

Die Mededingingskommissie het verlede week goedkeurig gegee dat Takatso Aviation altesame 51% van SAL se belange hou en die departement van openbare ondernemings 49%. Die konsortium het onderneem om kapitaal van R3 miljard te lewer, maar daar moet eers aan ʼn aantal voorwaardes voldoen word voordat die ooreenkoms gefinaliseer word.

Irvin Jim, hoofsekretaris van Numsa, sê die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het die ooreenkoms “georkestreer”.

“Die ooreenkoms is deurspek met die stank van korrupsie, daarom is ons teleurgesteld in die Mededingingskommissie se besluit om die proses wettig te verklaar.”

Numsa beweer dat Gordhan SAL aan “vriende en voormalige seniorlede van die regerende party” verkoop word sonder dat behoorlike parlementêre prosesse gevolg word.

“Jabu Moleketi is die voormalige adjunkminister van finansies en voormalige LUR van finansies in Gauteng. Hy is per toeval ook die direkteur van Harith General Partners, wat ʼn meerderheidsaandeel in die Takatso-konsortium besit,” sê Jim.

Hy beweer dat Gordhan nie aan die publiek of die parlement wil sê hoe daar op Takatso as vennoot besluit is nie.

“Gordhan het nie hierdie proses bekend gemaak nie; daar word bloot van ons verwag om sy woord te aanvaar dat behoorlike prosesse gevolg is,” sê Jim.

“Hierdie ooreenkoms is korrup en die parlement moet Gordhan verantwoordelik hou vir sy optrede.”

Hoewel Takatso onderneem het om ʼn minimum aantal werknemers by SAL te behou vir ʼn tydperk van vyf jaar ná die goedkeuring van die samewerkingsooreenkoms, sê Numsa dat die werkers juis die mense is wat die meeste onder hierdie hele proses ly.

Die vakbond is boonop bekommerd dat Takatso in sy onafhanklike waardasie van die lugredery dit doelbewus onderwaardeer het omdat hy nie die nodige kapitaal het om SAL weer op die been te kry nie.

“Ons ondersteun hierdie ooreenkoms glad nie,” sê Jim.

“Sou die president toelaat dat die ooreenkoms voortgaan, sal Numsa aandring dat ʼn ondersoek na die proses gedoen word, want in hierdie stadium sien ons dit net as nog ʼn vorm van staatskaping.”

Numsa het in April reeds na die komiteevoorsitter uitgereik oor die saak, maar het nog nie terugvoer ontvang nie, sê die vakbond.

“Die vertraging in Khayalethu Magaxa [voorsitter van die komitee] se reaksie op ons bekommernisse laat ons glo dat Gordhan nie tot verantwoording geroep sal word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Agie@toeka ·

Whaaa!! Ja want hulle staan n groot kans om uit te verloor! Die Unies is mos deel van alle bestuur by baie maatskapye en het mos n vinger in baie pastye!

B-Man ·

Ja-nee, as jy twyfel of jy vir of teen iets moet wees, dan kyk jy net wat die unies sê en kies dan die teenoorgestelde.

Sandra ·

“Stink van korrupsie”, dan behoort dit mos heeltemal aanvaarbaar te wees in Suid Afrika.

Amelia ·

Noem my een plek watn ie kurup is nie tot van tshwane bus drywers is laat nie mense betaal nie en dit is maar plus minus r10

Eugene ·

“Stink van korrupsie”, DIS AL VEREISTE WAT JY MOET HE IN DIE LAND en natuurlik ‘n waarborg dat KADERS ‘n aandeel het

Manie ·

Gordhan se naam duik deesdae te veel op by aangeleenthede wat nie so lekker verloop nie.

Nozi ·

Se ek ook. Hy sleep hom sommer deesdae self deur die modder. En so is hul almal korrup

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.