Nuwe loterykommissie moet ‘regte ding’ doen

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Nationale Lotteries Commission/Facebook)

Die minister van handel en nywerheid het vier nuwe raadslede van die nasionale loterykommissie aangewys sowat ʼn week voor die termyn van die huidige raadslede verstryk.

Onder die vier nuwe lede is Willie Hofmeyr, ʼn voormalige hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se batebeslagleggingseenheid en ʼn man met ʼn goeie reputasie dat hy korrupsie vasvat.

Daar is egter reeds sprake van omstredenheid oor die nuwe raadslid, Cassius Lubisi.

Mail & Guardian het vroeër berig dat die maatskappy Morar Incorporated, waarvan dr. Lubisi die voorsitter is, persoonlike beskermingstoerusting ten bedrae van R4 miljoen in twyfelagtige omstandighede aan die KwaZulu-Natalse departement van onderwys verskaf het.

Roshan Morar, eienaar van die maatskappy, is tydens oudpres. Jacob Zuma se termyn aangestel in die rade van verskeie openbare instellings wat sedertdien vir beweerde onderduimshede uitgewys is. Morar het glo ook ʼn R30 miljoen-kontrak met eThekwini losgelaan, wat later met 300% toegeneem het.

Mat Cuthbert, die DA se woordvoerder oor handel, nywerheid en mededinging, sê Lubisi moet duidelikheid oor die bewerings teen sy werkgewer verskaf, voor hy met sy termyn as raadslid by die loterykommissie begin.

Volgens Cuthbert is die nuwe raad se hoofdoelwit om die kommissie om te keer en met wetstoepassingsowerhede saam te werk om te verseker dat diegene wat aan korrupsie skuldig is, aan die pen ry. Bewerings van korrupsie van miljoene rande volg die kommissie die afgelope paar jaar soos ʼn skaduwee.

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het aan die begin van die maand aan LP’s gesê dat die kommissie se [vorige] raad glo R300 miljoen gesteel het. Die geld was bedoel vir dwelm-rehabilitasiesentrums, ouetehuise en die bemagtiging van vroue en jongmense.

Cuthbert sê die vorige raadslede het nie die vermoë gehad om die enorme plundering van staatsgeld te hanteer nie. “Ons moedig die nuut aangewese raadslede aan om die regte ding te doen,” sê hy.

Volgens Cuthbert is Suid-Afrikaners moeg vir die “voortgesette korrupsie” by die kommissie en moet dit terugkeer na die oorspronklike doel daarvan: om geld beskikbaar te stel vir niewinsgewende organisasies om die kwesbaarste lede van die samelewing op te hef.

  • Die ander lede van die raad is Precious Mvulane, ʼn rekenmeester, en Beryl Ferguson, ʼn sakevrou, adjunkvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut en voormalige Cope-LP.

 Bykomende bron: GroundUp

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

marius ·

Is die ander spul gearresteer ? Nee , want almal het ‘n hand in die blik . Diefstal en korrupsie sal in die hool net vordering maak .

Pietertjie ·

Hulle moet seker maak dat hulle nie so maklik uitgevang word soos die vorige spul nie.

domheks ·

gulsig – kan nie ophou as hulle eers begin het nie! Maar dit is al so algemeen in SA – nie meer snaaks nie.
Hulle kom in in elk geval skotvry.

Sê Ook Maar Net ·

‘n Ander bekommernis wat ek het is dat deesdae se nommers deur ‘n rekenaar gekies word. Nie meer soos vroëer regte egte balle wat voor ‘n kamera “live” gekies word. Enige goeie kuberkraker of selfs werknemers kan mos nou vir die rekenaar sê watter nommers het hulself of hul maatjies gekies om sodoende te wen.

Nico ·

Alle loterye moet toe gemaak word, dit verarm die mense. Alle dobbels is onbybels ‘n mens speel nie die dobbel afgod nie.

Deon Ronald ·

Ek dink die WK moet sy eie lottery kry. Dit verbeter nie noodwendig net jou kaanse nie maar die kanse is goed dat die geld hier spandeer word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.