Nuwe NWU-visekanselier wil Afrikaans behou

Dr Bismark Tyobeka is deur prof Marlene Verhoef, registrateur van die NWU, as visekanselier ingehuldig.

Dr. Bismark Tyobeka is Vrydag amptelik ingelyf as die nuwe visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU).

Tydens sy aanvaardingstoespraak het hy klem geplaas op die belangrikheid van meertaligheid en veral die behoud van Afrikaans aan die universiteit.

“Die NWU bly ʼn nisbestemming vir Afrikaanssprekende studente wat gehalte-onderrig in hul moedertaal wil hê – waarskynlik die laaste oorblywende bestemming van sy soort.”

Terwyl ander die behoud van Afrikaans beskou as ʼn bedreiging en ʼn afwyking van die universiteit se transformasiepogings, beskou die NWU dit as ʼn geleentheid om te demonstreer dat transformasie nie aan die uitwissing van inheemse Suid-Afrikaanse tale – waarvan Afrikaans een is – gelyk is nie, het hy gesê.

“Ons transformasie- en dekoloniseringspogings moet Afrikaans gebruik as ʼn norm om ander tale te ondersteun, soos daar reeds gesê is. Dit is moontlik solank ons nie een van hierdie tale, Afrikaans ingesluit, as hindernisse vir toegang en insluiting gebruik nie.”

Tyobeka wil ook graag fokus op die ontwikkeling van ander inheemse tale, veral Tswana, Suid-Sotho en Zoeloe as volwaardige onderrigtale.

Dr Bismark Tyobeka is ingehuldig as die Noordwes Universiteit se hoof en visekanselier.

Tyobeka is aangestel in die plek van prof. Dan Kgwadi, wat in November as visekanselier van die universiteit bedank het.

Hy het sy vyfjaartermyn as hoof en visekanselier op 1 Junie 2022 begin en is amptelik tydens ʼn prestigegeleentheid by die Feather Hill Hotel in Potchefstroom ingehuldig. Hy het ʼn doktorsgraad in kern-ingenieurswese aan die Penn State-universiteit in Pennsilvanië, Amerika, verwerf en dien al sedert 2014 in die NWU se raad.

“Dít is ʼn opwindende nuwe reis vir die universiteit,” het die NWU se bestuur in ʼn verklaring gesê.

Tyobeka sê die inhuldiging lui die begin in van ʼn reis wat gekenmerk sal word deur die konsolidering van die NWU se suksesse en die hervestiging van die universiteit om nuwe velde en geleenthede – nasionaal en internasionaal – te verken.

Hy sal veral in sy termyn fokus op die verhoging van die indiensneembaarheid van gegradueerdes en die ontwikkeling van entrepreneurskap, asook die dekolonisering van die kurrikulum.

Die NWU wil ook die haalbaarheid van ʼn skool vir mynwese en mynbou-ingenieurswese verken, en innoverende oplossings ten opsigte van energie- en watersekerheid op die universiteit se kampusse ontgin.

Die NWU wil boonop binne die volgende vyf jaar ʼn veeartsenyskool op die been bring. Die Universiteit van Pretoria is tans die enigste universiteit met só ʼn fakulteit in Suid-Afrika.

Bert Sorgdrager, voorsitter van die NWU-raad, het dr. Tyobeka gelukgewens en gesê sy aanstelling as hoof en visekanselier is welverdiend en kom op die regte tydstip om die NWU op ʼn nuwe trajek te plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

007 ·

Dit is afterall die Afrikaans sprekendes wat die Pukke gebou en na die uitstekende Kampus wat hy is gevat het. Dankie Prof. Bismark.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.