Nuwe ondersoeker in Fochville-molesteringsaak

Die tienjarige meisie wil steeds nie oor die gebeure gesels nie. Haar ma sê hulle geniet dit deesdae om saam te bak en spandeer so gehaltetyd saam.

ʼn Nuwe ondersoekbeampte is aangestel in ʼn Fochville-molesteringsaak wat nou al ʼn geruime tyd sloer.

Maroela Media het vroeër berig oor ʼn ma van Fochville wat moedeloos met die regstelsel is omdat die saak – waarin haar man van haar tienjarige dogtertjie se molestering beskuldig word – nou al verskeie kere uitgestel is.

Volgens die ma het sy foto’s en video’s op haar nou vervreemde man se skootrekenaar en selfoon ontdek waar hy glo sy stiefdogter molesteer. Sy sê sy het onder meer een van haar dogter se broekies op die beeldmateriaal herken.

Die ma sê haar dogtertjie en dié se agtjarige sussie het sedertdien albei forensiese sielkundige evaluerings ondergaan. Dié verslae sal aan die hof voorgelê word sodra die saak weer hervat word.

Die saak teen die man sou Dinsdag voortgesit word, maar is weens die staat van algehele afsondering wat sedert Vrydag geld, onbepaald uitgestel.

“Alle sake is uitgestel. Die hof het gesê hulle sal persoonlik met ons kontak maak om ʼn nuwe datum te verskaf,” het die ma Donderdag gesê.

Sy sê die polisie het die skootrekenaar en foon ook nou eindelik vir forensiese ontleding weggestuur.

Die ma sê dit gaan in dié stadium goed met haar dogters. Die oudste wil egter steeds nie oor die gebeure gesels nie. “Ons praat nie daaroor nie. Dit ontstel haar steeds baie.

“Ons doen skoolwerk. Gister het ek haar geleer beskuit bak en vandag gaan ons leer piesangbrood bak. Sy geniet dit geweldig baie.”

Afgesien van die druk wat die hofsaak veroorsaak, eis die staat van algehele afsondering ook nou ʼn groot finansiële tol. Haar vervreemde man moet ingevolge sy borgtogvoorwaardes die gesin se huurgeld betaal, maar of dít ná die afsonderingstydperk nog gaan gebeur, is in dié stadium onduidelik, sê sy.

Die vrou sê sy kan egter nie die saak laat vaar nie. “Ek gaan nie ophou nie, ek sal nie die saak laat vaar nie. Wat van die toekoms? Wat van al die ander kinders wat beskerm moet word? Eendag word my meisiekinders groot en wat antwoord ek as hulle vra ‘mamma, wat het jy gedoen om ons te help?’”

“Ná die afsonderingstydperk sal ek terug wees in die hof.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Louwrens ·

Mevrou ek is n man en self pa van twee dogters en n seun. Net soos jy sal ek enige iets doen om hulle ten volle te beskerm.
Ek weet nie wie jou vervreemde man is nie maar ek skaam my dat mans tot sulke lae vlakke daal.
Sterkte vir jou en jou dogters, pas hulle op soos goud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.