Nuwe stelsel moet vee help naspoor

Lede van Vrystaat Landbou (VL) het ʼn projek van stapel gestuur om dit makliker te maak om bek-en-klouseer in diere op te spoor. Foto: Maroela Media)

Lede van Vrystaat Landbou (VL) het ʼn projek van stapel gestuur om dit makliker te maak om bek-en-klouseer in diere op te spoor.

Dit kom ná afloop van die eerste bek-en-klouseer-voorval in 2022, wat geweldige finansiële gevolge vir die provinsie se veewaardeketting gehad het.

Tydens die organisasie se 2022-kongres het lede van VL dit goedgedink om verdere risiko’s te voorkom deur hierdie plan in werking te stel.

Volgens Francois Wilken, president van VL, het die organisasie verskeie moontlike oplossings ondersoek, onder meer veebestuursagteware, mikroskyfies en stelsels wat inligting deur middel van kunsmatige intelligensie invorder.

“Die stelsels, wat deur die internasionale komitee vir die rekordhouding van diere goedgekeur moes word, is op grond van praktiese toepassing, kostedoeltreffendheid en markgereedheid beoordeel,” sê Wilken.

Daar is uiteindelik op die diere-identifikasie-en-beweging-sisteem (AIMS ) besluit. Dié word reeds in Agri Oos-Kaap in werking gestel.

Die regstreekse webblad is tydens ʼn vergadering met die Bethlehem-distriksboere-unie bekendgestel.

Allfex, ʼn verskaffer van plaastoerusting, wat elektroniese identifikasie- en visuele lasergedrukte etikette (VID) voorsien, sal ook by die stelsel betrokke wees. VID-etikette bevat ʼn QR-kode van die unieke nommer wat akkurate datavaslegging met ʼn slimfoon moontlik maak.

Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder vir VL, verduidelik dat die stelsel ʼn platform bied om uniek genommerde oorplaatjies vir vee te bestel en toe te ken. Dit is nodig vir die aanteken van verkoop en oordrag van vee na nuwe plekke, met die nodige artikel 6- en 8-oordragvorms en ʼn dieregesondheidsvorm.

“Indien enige diere met die unieke etikette gevind word, kan eienaarskap vinnig opgespoor word.”

VL beoog om in samewerking met staatsveeartse en meentboere-komitees ʼn borgskap te bekom om die stelsel te finansier.

“Dít is ʼn uitreikoefening om ʼn verdere veiligheidsaspek by te voeg, asook om eienaarskap van meentvee op die stelsel te merk en aan te teken.”

Veeboere word aangeraai om van hierdie webblad gebruik te maak indien naspeurbaarheid en veiligheid in ʼn latere stadium benodig word.

“Persoonlike inligting soos kontakbesonderhede, ligging van plase en waar diere aangehou word, sal nie bekendgemaak word nie.”

Die Vrystaat en Oos-Kaap het ʼn ooreenkoms gesluit om AIMS in die toekoms verder te ontwikkel.

R1 van elke merker wat verkoop word, sal aangewend word om stelsels te verbeter en tred te hou met bedryfsneigings en -behoeftes.

“Indien en wanneer die staat uiteindelik ʼn nasionale vee-identifikasie- en vee-naspeurbaarheidstelsel (LITS) verpligtend maak, sal ʼn boer die opsie hê om sy of haar uitgesoekte data moeiteloos van FS-AIMS na die nasionale LITS oor te dra,” sê Armour.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Luckykat ·

Die las en koste en admin sal net op sekeres toegepas word. Los die eerstewereld twak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.