Nuwe taalbeleid vir Unisa op pad

Prof. Puleng LenkaBula, visekanselier van Unisa. (Foto: Maroela Media)

Unisa is verbind tot die regte van sprekers van alle tale wat in die Grondwet vervat word en volg ʼn benadering van veeltaligheid, wat Afrikaans ook insluit.

Prof. Zodwa Motsa Madikane, viseprinsipaal van leer, onderrig, gemeenskapskakeling en studentesteun by Unisa, het Dinsdag op ʼn mediakonferensie van die universiteit gereageer op vrae oor die universiteit se taalbeleid.

Volgens haar is die universiteit besig met die ontwikkeling van ʼn nuwe taalbeleid, wat reeds in ʼn gevorderde stadium is. Dit sal ook Suid-Afrikaanse gebaretaal insluit.

Die Konstitusionele Hof het verlede jaar bevind dat Unisa Afrikaans as onderrigtaal moet behou en dat die universiteit se Engelse taalbeleid, wat hy reeds in 2016 aanvaar het, ongrondwetlik is. Die burgerregtegroep AfriForum het die saak aanhangig gemaak en het onder meer aangevoer Unisa het die beleid op ʼn onregmatige manier aanvaar.

Die land se hoogste hof het Unisa tot 2023 tyd gegun om modules wat in 2016 in Afrikaans beskikbaar was, weer daarin beskikbaar te stel.

“Ons glo alle tale in die Grondwet is draers van kennis en hierdie soort kennis mag nie uitgesluit word nie. In ons onderrig moedig ons die gebruik van moedertaal aan,” sê Madikane.

Dit word volgens haar reeds in die eerste jaar van studie aangemoedig en vind beslag in alles van die leermateriaal tot die eksamens wat in studente se moedertaal aangebied word sodat “studente hulself gemaklik en met vertroue kan uitdruk”.

“Ek wil benadruk dat ʼn fiksering met net een taal simptomaties van marginalisering is; en dit is iets waarvan ons as universiteit wil ontslae raak. Ons wil Afrikaans nie marginaliseer nie, ons wil Engels nie marginaliseer nie ons wil Siswati ook nie marginaliseer nie,” sê Madikane.

“Al hierdie tale is draers van die beste van ons kundigheidstelsels.”

Puleng LenkaBula, viserektor van Unisa, het kort tevore gesê die universiteit erken die billikheid, gelykheid, tersaaklikheid en resonansie van alle tale, maar dat dit verkeerd van die universiteit sou wees om Afrikaans te behandel asof dit “verhewe” bo alle ander tale in die land is.

LenkaBula sê Unisa het voldoen aan die hofuitspraak en dat Afrikaans net een van die tale is wat die universiteit gebruik.

Unisa onder skoot

LenkaBula het ook terugvoer gegee oor verskeie kwessies waaroor Unisa die afgelope ruk in die spervuur was. Die universiteit is verlede jaar onder meer daarvan beskuldig dat hy ʼn “kwalifikasiefabriek” is wat vasgevang is in ʼn netwerk van korrupsie wat gelei het tot institusionele kaping.

Sy het benadruk dat Unisa die afgelope paar jaar sy posisie op plaaslike en wêreldranglyste vir universiteite deurentyd met verskeie plekke verbeter het en dat die universiteit se kwalifikasies gesog bly en deure vir gegradueerde werksoekers open.

Unisa se topbestuur het saam met die visekanselier vrae beantwoord oor voortgesette ontevredenheid met studentefinansiering en personeelkwessies by die universiteit.

Nagenoeg 185 000 van Unisa se sowat 372 000 studente is van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, beter bekend as NSFAS, vir hul voortgesette studies afhanklik. Daar is nou onder meer planne beraam om studente met beperkte uitstaande skuld te help om hul kwalifikasies ten spyte van die skuld te verwerf.

Unisa is ook gekritiseer oor opgraderingswerk – glo teen R2 miljoen – wat vir Cloghreen, die visekanselier se amptelike woning, geoormerk is. LenkaBula het teruggekap hieroor en gesê soortgelyke vrae is nooit aan enige van haar voorgangers gestel nie.

Sy sê daar word aangeneem wanneer vroue ʼn leierskapsposisie inneem, hulle in ʼn misbruikende of kleptokratiese manier optree.

“Dit is ʼn ongeregtigheid.”

LenkaBula sê sy het self die hoë kwotasies vir die opknappingswerk aan die geskiedkundige gebou bevraagteken, maar dat daar nooit melding gemaak is dat sy die een is wat die departement oor die hoë kwotasies die stryd aangesê het nie. LenkaBula sê pleks daarvan word sy uitgebeeld as ʼn “slawekoningin” wat van die mense steel.

Dinsdag se mediavergadering is aanvanklik ontwrig toe ʼn groep mense by die ingang van die konferensielokaal gedreunsing het. ʼn Man het kort daarna die vertrek binnegekom en onder meer verwys na griewe van Unisa-werkers.

Hy is aanvanklik gevra om die vertrek te verlaat – en het dit ook gedoen – waarna LenkaBula aangedui het dat studente welkom is om ook die vergadering by te woon en vrae te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nettie ·

Die Engelse wou die Afrikaners verengels in 1820-1830, een van die redes vir Die Groot Trek. Daarna weer na 1902. En vandag is dit die ANC. Al wat julle almal regkry, is dat ons soveel harder veg vir Ons Taal.

God is aan ons kant, het julle dit nog nie raak gesien nie? HY veg vir ons taal, want HY het dit die enigste, werklike inheemse taal in Suid Afrika gemaak. Die enigste taal wat ontstaan het op hierdie grond bodem.

NIKS wat julle doen, sal die taal vernietig nie. Nie nou nie, nie in die verlede nie, en nie in die toekoms nie, want God het GROOT planne vir ons taal.

VaalDonkie ·

Unisa kannie ‘n taalbeleid he nie, want hulle antwoord nooit enige navrae nie. Selfs nie in heilige Engels nie.

FBS ·

Dit is wat n mens skaam maak om te se jy het daar studeer.
In 1974 beste Universiteit wat ek kon gebruik. Het nou geen waarde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.