NVG wil voortgaan met korrupsiesaak teen oud-Eskombaas

Matshela Koko (Argieffoto: ANA)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat (OD) is vol vertroue dat die saak rakende beweerde korrupsie by Eskom se Kusile-kragstasie weer voor ʼn hof sal dien sodra ontbrekende aspekte van die ondersoek afgehandel is.

Die Middelburg-handelsmisdaadhof het Dinsdag die saak van korrupsie teen Matshela Koko, voormalige waarnemende uitvoerende hoof van Eskom, sy vrou, Mosima, en sy stiefdogters, Koketso Aren en Thato Choma, van die hofrol geskrap en bevind daar was “onredelike vertragings” in die saak teen Koko en sy medebeskuldigdes.

“Daar moet kennis geneem word dat hierdie besluit nie neerkom op ʼn vryspraak of terugtrekking van die aanklagte nie,” het Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die OD, gesê.

“Die OD sal voortgaan om die saak te ondersoek in ooreenstemming met die oorspronklike strategie wat vir hierdie komplekse aangeleentheid ontwikkel is.”

Volgens Seboka is daar kennis geneem van die kwessies wat die hof geopper het. “Die OD sal binne ʼn redelike tydperk weer aansoek doen dat die aangeleentheid weer op die hofrol geplaas word, sodra die ontbrekende aspekte van die ondersoek afgehandel is.”

Koko en agt ander beskuldigdes is in Oktober verlede jaar van korrupsie beskuldig. Daar is aangevoer dat hulle ʼn aandeel in onreëlmatige kontrakte by Eskom gehad het. Die beweerde korrupsie spruit uit kontrakte ter waarde van R2,2 miljard wat vir die bou van die Kusile-kragstasie in Mpumalanga toegestaan is.

Die NVG het aangevoer dat Koko die meesterbrein van die korrupsie was, maar Koko het intussen gesê dat die NVG “verkeerd” was om hom strafregtelik te vervolg.

“Die NVG het nie sonder vrees of vooroordeel opgetree nie,” het hy gesê.

“Die geskiedenis sal diegene van ons vryspreek wat die ligte vir drie ononderbroke jare in die tydperk van 2015 tot 2018 suksesvol aangehou het sonder om geld met diesel te verbrand en sonder om op instandhouding te besnoei.

“Ons harte was altyd op die regte plek.”

Koko het gesê die skade wat hierdie aanklagte aan sy familie gerig het, is “onmeetbaar” aangesien hy reeds in die hof van openbare mening skuldig bevind is.

“Ek sien uit daarna om my lewe as ʼn private burger te leef en vir my gesin die beste te doen wat ek kan.”

Koko het dit duidelik gestel dat hy geensins belangstel om die politieke arena te betree of weer aan die stuur van ʼn staatsinstelling te staan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

CHRISTINE ·

HOE MEER HOE BETER
EK IS SO BLY DIE NUWE ANC SE FLUITJIE IS GEBLAAS.

Dup ·

SA se regstelsel is reeds getransformeer.Daarom sal vele hofsake nog “van die rol geskrap word”.

domheks ·

Dieselfde sou met die zuptas gebeur. Ons vervolgingsgesag het nie tande nie! Kon hulle nie in die tyd vanaf 2015 tot 2018 iets kry om die mense voor aan te kla nie? Ons is nou in 2023, 5 jaar??? Is daar iets gedoen met die miljarde deur koko en kie?

Danie ·

NVG wanneer sal julle instaat wees om die sake suksesvol te vervolg.?? Net so korrupt soos julle broers.

annie ·

Koko het reeds planne om terug te keer as die Eskom-baas. Die uitstel-mode in die howe sal kortgevat moet word anders is Zuma en die Guptas weer binnekort terug op hul trone.

Niklaas ·

Die saak is geskrap van die rol weens….“onredelike vertragings” in die saak teen Koko . Dis nou lekker. So in die toekoms gaan aangeklaagdes net hard probeer om die verrigtinge vreeslik te laat vertraag en siedaar , vryheid wag. Dis net ongelooflik.

Andre ·

…wie dink die NVG bluf hulle; die saak sal nooit verhoor word nie!
Geld het klaar gepraat .

Jakes ·

Koko is nie vrygespreek nie alhoewel hy so dink. Hy is arrogant verby en die rede dat die saak teruggetrek is maar net dat die NVG gesoer het met sy saak. Klae hom en sy familie weer aan en hopelik sal hulje sy sel se sleutel weg gooi sodra hy sy vonnis begin uitdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.