Nzimande stel kanseliers aan in geslagsgeweld-taakspan

blade-nzimande

Blade Nzimande. Foto: Ntswe Mokoena

Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys, het nog drie aanstellings gemaak tot die ministeriële taakspan wat tans seksuele teistering en geslagsgeweld by die land se universiteite ondersoek.

Die moord op Precious Ramabulana, ʼn student aan die Capricorn TVET-kollege in Limpopo, wat met 52 steekwonde dood in haar bed gevind is, het onlangs weer skokgolwe oor die land gestuur.

Nzimande beoog om, met die aanstelling van prof. Sibongile Muthwa as voorsitter van die taakspan, voortaan dié soort misdaad op kampusse te probeer voorkom. Muthwa is die visekanselier by die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) in Port Elizabeth.

Verder het Nzimande ook prof. Pamela Dube, visekanselier by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), dr. Mercy Mushwana van die Universiteit van Venda en Moliehi Rajonase, ʼn verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Unie van Studente, aangestel in die taakspan.

Die taakspan bestaan nou uit 13 lede.

“Die taakspan, wat reeds in Julie met sy werk begin het, ontleed tans beleid en prosesse by alle openbare universiteite om gapings te identifiseer en standaardbeleid, ondersteuningsnetwerke en prosesse in te stel om geslagsgeweld te voorkom en te bestuur in die hoëronderwysstelsel,” sê Nzimande.

Die taakspan ondersoek ook die moontlikheid dat konsultasies in die sektor vroeg in 2020 plaasvind.

Nzimande het ook voorgestel dat bewusmaking rakende seksuele teistering en geslagsgeweld tydens universiteite se oriënteringsweke geprioritiseer word. “Uiteindelik moet die kwessie van geslagsgebaseerde geweld elke dag op elke kampus in elke instelling aangeraak word,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Scalla ·

Nog n taakspan, nog vermorsing van geld, die probleem is die onbevoegde regering wat nie wet en orde kan en wil toepas nie.

Feite ·

Dit is die geweldadige, intimidasie ideologiee en dan ook die onrealistiese verwagtinge wat geskep word en beloftes wat nie nagekom word nie van die ANC wat ingespan was tydens die “struggle” en ook nou met transformasie wat die psige van mense beinvloed en aantas. Daar is absoluut geen ander rede van hoekom mense onverdraagsaam is teenoor nie net ander groepe en geslagte nie, maar ook teenoor selfs hulle eie mense wie dit sou waag om van hulle te verskil of hulle teen te gaan! Geweld vier hoogty in meeste townships tydens diensleweringbetogings. Gaan vra vir die mense hoekom hulle nie verdraagsaam en vreedsaam betoog of verskille tussen mekaar vreedsaam en sonder boendoehowe besleg nie dan se hulle vir jou reguit dat geeneen van hulle leiers dan na hulle sal luister nie. Nou daardie geweld stop nie daar nie, dit volg die mense totdat hulle niks kan uitsorteer sonder geweld nie! Die ANC en hulle denke is te blameer vir die geweld, net soos wat die ANC te blameer is vir die haglike stand van die SOE’s, die staat en die ekonomie. “Put the blame where the blame belongs” en daarvoor het jy beslis nie n ministriele taakspan nodig nie. Onverdraagsame en geweldadige denke het bose dade tot gevolg wat onheil oor almal bring wat in die pad daarvan kom!

GB ·

Net so, Feite. Die struggle was niks meer as ‘n strategie om townships onregeerbaar te maak met geweld en intimidasie nie. En kinders is as wapens gebruik – geindoktrineer en gemilitariseer. Sekerlik was een gevolg daarvan die totale vernietiging van familie- en gemeenskapsbande. Die kinders van daardie jare het intussen ouers geword, maar hulle is ouers wat nooit die vaardighede, kennis en waardes geleer is wat nodig is om kinders te sosialiseer nie. ‘n Belangrike rede hoekom ons vandag met soveel maatskaplike euwels sit.

JohanR ·

En nog drie kry skielik ‘n vet salaris. Dankie belasting betaalers!

Irma ·

En gaan die taakspan, buiten om ook vet salarisse te kry die polisie lede wat hul mag soos boewe misbruik, ook ondersoek?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.