OB-komitee vir soveelste keer vertraag

Adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die parlement se artikel 194-komitee, wat belas is met die proses van adv. Busisiwe Mkhwebane se moontlike verwydering as Openbare Beskermer (OB), moes sy verhoor vir die soveelste keer uitstel weens Mkhwebane se regverteenwoordiging.

Die komitee is ingelig dat adv. Dali Mpofu, Mkhwebane se gekose regsverteenwoordiger, steeds nie deur die opdraggewende prokureurs opdrag gegee is nie en dat Hope Chaane, die prokureur wat aangestel is om Mkhwebane se korrespondensie met die komitee te behartig, in die hospitaal opgeneem is.

Die prokureur-generaal het intussen aangedui dat as gevolg van die verhoogde tarief wat die OB se advokaat versoek het en die feit dat Chaane siek is, hy die kantoor van die OB in kennis gestel het dat hulle dit eerder moet oorweeg om die dienste van die kantoor van die staatsprokureur te gebruik. Die komitee is verder ingelig dat die kantoor van die OB tot hierdie voorstel ingestem het en dat die Chaane-prokureursfirma se dienste gevolglik beëindig is.

Lede van die komitee het ook die bewerings van omkopery wat tans nuusopskrifte haal, uitgewys en gepoog om dit op die agenda van die komitee te plaas. Die meerderheid lede wat aan die besprekings deelgeneem het, het egter gevoel dat daardie bewerings nie deel van die mandaat van die komitee vorm nie en deur die forums waar dit aangemeld is, hanteer moet word.

Qubudile Dyantyi, komiteevoorsitter, het aangedui dat hy ’n brief van Mkhwebane ontvang het waarin hy versoek word om hom aan die komitee te onttrek, en dat indien hy dit nie doen nie sy haar prokureurs opdrag sal gee om ’n aansoek om onttrekking te bring weens die jongste bewerings in die media. Dyantyi het aan die vergadering gesê dat daar in hierdie stadium geen herroepingsaansoek voor die vergadering gedien het nie.

Die komitee het ingestem dat hy geen mondelinge aansoek in die verband sal oorweeg nie en dat dit die nodige aandag sal geniet indien daar teen Vrydag om 13:00 skriftelik aansoek gedoen is. Dyantyi het verder ingestem om teen Maandag om 13:00 te reageer indien so ’n aansoek gebring word.

Tydens haar insette het die komitee se regsadviseur, Fatima Ebrahim, die komitee verseker dat dit nie ongewoon is dat die staatsprokureur optree vir staatsorgane wat teen mekaar litigeer nie.

Dyantyi het gesê die komitee weet nou dat die staatsprokureur Mkhwebane se nuwe prokureur is en dat daar Vrydag met Mkhwebane se getuienis voortgegaan kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Kokerboom ·

Kan ‘n mens belastingbetalersgeld so minag en verag? Ja, die ANC doen! Die ergste is die massas wat hul aan bewind hou dra die minste by tot fiskus en verwag meeste!Absolute arrogansie en diefstal. Hoe lank gaan belastingbetalers hul nog verdra?

CHRISTINE ·

Ek voel jou pyn.
Om met ‘n ID nommer te stem, moet verander na ‘n belastingnommer met hierdie mafia anc.

Aai ·

Kyk hoe gelukkig lyk sy in die foto lag al die pad na die bank en na die sal sy aftree Golden handshake.

Marthinus Johannes ·

Almal volg nou Zuma se voorbeeld en aan die einde van die dag word geen straf uit gedeel nie, almal skep, mors miljuisende belasting geld. Aan die anderkant van die draad word vonnise Sommer binne n week of twee gevel en dadelik tjoekie toe. Wonder hoeveel korrupte ANC lede is Al toegesluit oor hul korrupsie en hoeveel van die sake is al ooit afgehandel.

Hedda ·

Hulle kon die belastingbetalers miljoene gespaar het en van die begin af ‘n staatsprokureur gebruik het! Wat maar haar so spesiaal dat dit nié gedoen is nie?

Errol ·

Hoekom mors hulle hope geld en tyd met haar ?? Sy gaan binnekort vervang word want haar tyd as ob is amper klaar.

gatgogga ·

Dit is die hele punt. As sy kan aftree sonder enige kwalifisering, dan is haar volle pensioenvoordele in haar sak.

Fanie ·

STEEK HAAR IN DIE PAD. Sy het nie haar werk reg gedoen nie – wat is so verdomp moelik om te verstaan

SomeOne ·

sy en haar span speel vir tyd, doen die aanbeveling van skorsing sonder haar of haar span en kry klaar, daars alreeds te veel geld verkwis op haar

annie ·

Miskien kan die vorige of steeds bestaande OB sommer ook staan of sit vir president volgende jaar want almal is bang vir haar. Sy weet ook hoe om mense aan ‘n toutjie te hou terwyl sy al sittende miljoene rande blaas. Haar darling het nou al so baie pawpaws gekry, hy soek nou ‘n slag ‘n paar rande vir sy diepsinnige gekieriekieriekwaakkwaakkwaak….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.