OB spreek Ramaphosa vry oor Phala Phala-skandaal

President Cyril Ramaphosa (Foto: Marco Longari / AFP)

In ʼn tussentydse verslag wat die Openbare Beskermer (OB) oor die Phala Phala-ondersoek bekendgemaak het, word pres. Cyril Ramaphosa van enige oortreding in dié skandaal vrygespreek.

Daar is in die verslag bevind dat Ramaphosa sy verpligtinge nagekom het om sy belange op sy plase te verklaar en die saak by die polisie aan te meld.

Die waarnemende Openbare Beskermer, adv. Kholeka Gcaleka, het bevind dat Ramaphosa geen etiese kodes oortree het nie.

Dié verslag van 191 bladsye is Vrydag aan die onderskeie partye gelewer vir hul finale insette. Dié partye het tien dae om betoë aan die OB te rig, wat dan in die finale verslag saamgevat sal word.

Die verslag laat ernstige vrae ontstaan oor genl.maj. Wally Rhoode, hoof van die president se beskermingsdiens, wat volgens Gcaleka sy posisie misbruik het in ʼn nie-amptelike ondersoek waarin polisiehulpbronne gebruik is.

Die verslag lewer ook kritiek oor die polisie en sy hantering van die saak.

Die DA het Woensdag aan Gcaleka geskryf om die inligting wat die party van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verkry het oor Ramaphosa se “vuil dollars” aan haar te voor te lê.

Die SAID het Maandag bevestig dat hy geen rekord van die verklaring van buitelandse valuta, wat die Soedannese sakeman Hazim Mustafa glo by sy aankoms in Suid-Afrika ingevul het, kon vind nie.

Mustafa het die $580 000 (sowat R10,5 miljoen) glo gebruik om 20 buffels op Ramaphosa se Phala Phala-wildsplaas in Limpopo te koop. Hy het vroeër luidens mediaberigte aangedui dat hy die geld wel verklaar het.

John Steenhuisen, DA-leier, het gesê die DA se aanvanklike versoek aan die OB vir ʼn ondersoek na die Phala Phala-aangeleentheid het gesentreer rondom ʼn moontlike oortreding van die uitvoerende etiekkode.

“Ons glo egter nou dat hierdie nuwe inligting ook kan dui op oortredings van bykomende wette. As sodanig het ons dit onder die aandag van adv. Gcaleka gebring aangesien die SAID-verklaring ʼn invloed op die aanvanklike ondersoek kan hê wat nog deur haar kantoor aan die gang is,” het Steenhuisen gesê.

Vincent Magwenya, woordvoerder van die president, het bevestig dat Ramaphosa kennis neem van die verslag.

“Soos voorheen genoem, herhaal ons dat die president nie aan enige verkeerde optrede deelgeneem het nie, en ook nie die eed van sy amp oortree het nie. In plaas daarvan was die president ʼn slagoffer van ʼn misdaad wat hy behoorlik by die betrokke owerhede aangemeld het,” het Magwenya gesê.

Lees vorige berige oor Phala Phala hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SjN ·

Die skuld gaan op sy werknemers gepak word, die buitelandse valuta moes verklaar gewees het deur die besoeker/toeris by aankoms en ook met die transaksie, ongeag wie dit in ontvangs geneem het. Het daar ooit n transaksie plaasgevind? Dit klink meer na omkoopgeld wat weggesteek is en toe verdwyn het en dit probeer verbloem is.

Aanhouer ·

So alles word onder die mat ingevee. Ons sal wel sien wat die uiteinde hiervan sal wees. Nog lank nie verby nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.