OG-verslag wys ramphulp is self ’n ramp

Vloede in KwaZulu-Natal in April vanjaar. (Foto: Cogta/KZN)

Die ouditeur-generaal (OG) het Woensdag ’n verslag aan die parlement se ad hoc-komitee oor vloede voorgelê, wat talle ongerymdhede en probleme rakende die regering se ramphulp aan vloedslagoffers in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap uitgewys het.

Inwoners van dié provinsies het in April vanjaar erge skade weens grootskaalse oorstromings gely, waarin talle mense dood is. Ernstige skade is ook aan infrastruktuur aangerig. Na verneem word, is nog net R125 miljoen uit ʼn begrote R2 miljard tot dusver aan rampverligting bestee.

Die OG het onder meer bevind dat daar onreëlmatighede in die verkrygingsprosesse met betrekking tot rampverligting deur die regering was, en dat die voorgeskrewe prosesse nie behoorlik gevolg is nie.

Die DA sê dit is duidelik dat die regerende party se “korrupte neigings” ook in dié geval voortduur, ondanks talle beloftes.

Luidens die party se verklaring blyk dit dat ʼn entiteit wat onder die departement van openbare werke en infrastruktuur val, die kern van die probleem is.

Die OG het onder meer bevind dat kontrakte verskeie kere aan maatskappye met dieselfde direkteur toegeken is, dat kwotasies eers ontvang is nadat kontrakte in werking getree het en dat aanvaarde kwotasies gemagtigde bedrae oorskry het.

Die Vryheidsfront Plus sê die verslag wys ook duidelik dat die regering nie voorbereid was om ʼn ramptoestand soos dié te hanteer nie.

“Die swak onderhoud van watertenkwaens het byvoorbeeld daartoe gelei dat inwoners drie dae en langer ná die vloede nie toegang tot skoon water gehad het nie. Dit het ernstige gesondheidsgevare veroorsaak,” het Fanie du Toit, VF Plus-lid in die nasionale raad vir provinsies.

“Daar was ook swak toesig oor kontrakteurs wat aangestel is om die staat se dienslewering aan te vul. Verder is slegs 254 tydelike behuisingseenhede in die afgelope drie maande opgerig, terwyl bykans 5 000 sulke eenhede benodig word. Die mikpunt om teen 31 Julie 1 810 wooneenhede op te rig, is nie naastenby bereik nie.”

Du Toit sê ál 30 wooneenhede wat deur die OG as steekproef vir dié oudit geïnspekteer is, was boonop foutief weens swak vakmanskap.

“Muurpanele is nie behoorlik geïnstalleer nie en byna die helfte van die eenhede het nie binnedeure nie.”

Die OG het ook bevind dat daar in die toekenning van die tenders geen voorsiening gemaak is vir die prestasie-evaluering en die bestuur van kontrakteurs nie.

Die OG het verskeie aanbevelings in die verslag gedoen en dit sal aan provinsiale en munisipale rade voorgelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

domheks ·

Auntie pat! wat gaan hier aan, jy is mos in bevel. Ramaparra se beloftes weereens net praat, praat en geen doen nie.

Johanncb ·

Ongerymdhede in die Regering se geledere, sal nóóit tot ‘n einde kom nie!

Mariana ·

Ongelukkig is dit nou al herhaaldelik bewys dat korrupsie oral in regering is en dat selfs mense in nood deurloop onder die korruptes. Skreiende skande.

Anel ·

Daar gaan nog baie rampe soos die kom. Hoop die mense het nou eens en vir altyd geleer dat GEEN, maar geen skenkings, maak nie saak of dit geld of kos is nie, aan die regering gemaak miet word vir herverdeling nie. Nog nooit het dit by die regte mense uit gekom nie! Ek sê maar net!

Barry ·

Haha, dis snaaks maar einlik ook nie. Pateties!!!
Maar kom ons vote weer vir hulle.

Chris dupreez ·

Die fondse moes onder die beheer van ,,Gift of the givers,, gewees het.

Di ·

Ons almal het van die begin af geweet dat hierdie HULP gaan “backfire” Hoeveel male van tevore is GROOT beloftes gemaak en NIKS is gedoen nie. ANC Kadres is ‘n korrupte spul skelms en leuenaars!!!!!!!! NIEMAND kan hulle vertrou nie

Swerwer ·

En dit weet ons van dag 1 af. Weereens ‘n bewys dat die ANC Regering so spoedig moontlik ontbind moet word en bevoegde/opgeleide persone verkies moet word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.