Onafhanklike ondersoek ná BLO-vliegongeluk

Die Cessna 550 Citation II het by die George-lughawe opgestyg en minute later van die radar verdwyn. (Foto: Burgerlugvaartowerheid)

’n Onafhanklike ondersoek gaan van stapel gestuur word na die vliegtuigongeluk vroeër vanjaar wat die lewe van drie amptenare van die Burgerlugvaartowerheid (BLO) geëis het.

Dít kom nadat die onafhanklikheid van die BLO se afdeling wat ongelukke en voorvalle ondersoek, in twyfel getrek is.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het die naweek met die families van kapt. Thabiso Collins Tolo (49), eerste offisier Tebogo Caroline Lekalakala (33) en vluginspekteur Gugu Comfort Mnguni (36) vergader. Die familielede versoek dat ’n onafhanklike ondersoek na die dood van hul geliefdes gedoen word.

Die departement van vervoer sê in ’n verklaring die minister het nou besluit om gehoor aan dié versoek te gee. “Hoewel ons volle vertroue het in die onafhanklikheid van die BLO se afdeling wat ongelukke en voorvalle ondersoek, moet ons die wense respekteer van diegene wat hul geliefdes verloor het. ’n Onafhanklike ondersoek sal ingestel word na die omstandighede wat tot hierdie ongeluk gelei het. Dit sal berusting vir die families bring,” lui die verklaring.

Gugu Mnguni. (Foto: BLO)

Maroela Media het vroeër berig ’n Cessna Citation S550 S/II van die BLO het in Januarie by die George-lughawe opgestyg en minute later van die radar af verdwyn. Die wrak met drie bemanningslede aan boord is ure later in die omgewing van die Robinson-pas tussen Mosselbaai en Oudtshoorn gevind.

Tolo, Lekalakala en Mnguni was besig met kalibrasiewerk vir die lughawe toe die vliegtuig neergestort het. Al drie het in die vliegtuigongeluk omgekom.

Mbalula het kort daarna gesê hy het met kommer kennis geneem van berigte wat die onafhanklikheid van die ondersoekspan bevraagteken het. Die minister het egter volgehou dat die span verantwoordbaar is aan sy departement en nié aan die BLO nie.

Volgens Mbalula het die ondersoekspan hom vantevore nog net uitstekend van sy taak gekwyt en is daar geen rede om hul onafhanklikheid en bevoegdheid in twyfel te trek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marius ·

Wie gaan vir die onafhanklike ondersoek betaal ? Die familie ?

Scalla ·

Frikkie, dit is nie die keer Jan se skuld nie, berus met die besluit aan die BLO, gaan klomp geld spaar.

Pieter J ·

Hoekom word die besluit nou eers geneem. Dit moes in die eerste plek so gedoen gewees het. Nou wonder ń mens wat is intussen gedoen om feite te verdoesel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.