Onafhanklike ondersoek van Sassa-begunstigdes geëis

(Foto: Barbara Maregele/GroundUp)

Ná onthullings van onreëlmatige en onbehoorlike betalings van Sassa-toelaes, versoek die DA pres. Cyril Ramaphosa om ʼn onafhanklike oudit van die databasis van Sassa-begunstigdes te doen.

“Die doel van ʼn onafhanklike oudit is om die integriteit van data te hersien, om onregmatige ontvangers te identifiseer en prosesse in te stel om geld te herwin wat onbehoorlik uitbetaal is,” sê Bridget Masango, die DA se skaduminister oor maatskaplike ontwikkeling.

Maroela Media het vroeër berig minister Lindiwe Zulu het in reaksie op ʼn parlementêre vraag van die DA onthul dat die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) ʼn bedrag van R140 miljoen aan 75 000 oorlede begunstigdes uitbetaal het in die afgelope drie boekjare.

In ʼn afsonderlike saak het die minister van staatsdiens en administrasie, Sizwe Mchunu, in reaksie op ʼn parlementêre vraag van die DA onthul dat 5 812 Covid-19-toelae en 33 833 maatskaplike toelae aan onverdiende staatsamptenare uitbetaal is. Dit is gekanselleer ná dit bevind is dat die aansoekers of begunstigdes die Wet op Maatskaplike Bystand oortree het toe hulle vals inligting verskaf het.

“Hierdie twee reaksies is duidelike bewys dat die integriteit van die databasisse wat gebruik word om maatskaplike toelaes te betaal, nie vertrou kan word nie. Dit kan die belastingbetaler miljoene rand kos indien uitbetalings gemaak word aan onregmatige persone,” sê Masango. “Indien hierdie databasisse steeds gebruik sal word, ondanks die duidelike tekortkominge, sal uiters onverantwoordelik en ʼn onaanvaarbare versuim van pligsbesef wees deur Ramaphosa as hoof van die uitvoerende owerheid.”

Die DA is ook besorg dat daar skynbaar geen volgehoue poging is om geld te herwin wat onreëlmatig uitbetaal is nie.

“Ondanks 40 000 oortredings het die staatsdiensstelsel slegs dissiplinêre stappe gedoen teen 42 van die betrokke staatsdiensamptenare vir onbehoorlike gedrag. Dit is net ʼn druppel in die oseaan as die omvang van die bedrog in ag geneem word.”

Die DA meen buiten die herwinning van die geld wat op bedrieglike wyse verloor is, moet strafregtelike ondersoeke ook ingestel word teen alle betrokke individue. “Dissiplinêre stappe kan nie gevolg word in ʼn saak waar die wet klaarblyklik oortree is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bolandse Nooi ·

Ag die Da is ook maar eintlik net die ANC-“lite”. Klim nou, soos alle politieke partye, op die “bandwagon” en skree-sing saam met die “band”, net om direk na die verkiesing weer in die dun, blou lug in te verdwyn …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.