‘Onveranderde rentekoers ʼn skrale troos’

(Foto: Maroela Media)

Suid-Afrikaners verwelkom die Reserwebank se besluit om die rentekoers vir ʼn tweede agtereenvolgende keer onveranderd op 8,25% te hou. Verskeie kenners meen dat dit die regte besluit was omdat stabiliteit vir die ekonomie nou noodsaaklik is.

Maroela Media het vroeër berig Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het gesê drie van die vyf lede van die monetêre beleidskomitee het ten gunste daarvan gestem om die rentekoers onveranderd te laat, terwyl die ander twee lede die rentekoers met 25 basispunte wou verhoog.

Volgens Kganyago het inflasie deur die loop van die jaar afgeneem, maar ʼn verdere verlangsaming in inflasie lyk minder seker. “Groeivoorspellings bly gedemp. Die ekonomiese vooruitsigte op langer termyn word egter vertroebel deur aanhoudende risiko’s vir die inflasietrajek, die negatiewe uitwerking van klimaatsverandering en voortdurende geopolitieke spanning.”

Inflasieverwagtinge vir 2023 is tot 5,9% verlaag, teenoor die 6% wat in Julie voorspel is. Vir 2024 word die inflasieverwagting tot 5,1% verhoog teenoor die 5% wat in Julie voorspel is. Daar word verwag dat dit in 2025 op 4,5% sal stabiliseer.

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê die monetêre beleidskomitee het die regte besluit geneem met inagneming van die algehele globale en plaaslike faktore wat tans Suid-Afrika se ekonomiese omgewing vorm.

“Die stabiliteit in leningskoste wat sedert Mei vanjaar ervaar word, is nietemin ʼn positiewe faktor vir sake- en verbruikersvertroue in ʼn tyd waarin albei dit bitter nodig het en verbruikersbesteding onder groot druk is.”

Volgens Thys van Zyl, uitvoerende hoof van Everest Wealth, is die onveranderde rentekoers ʼn skrale troos, hoewel die tweede pouse in rentekoersverhogings ʼn positiewe invloed op sake- en verbruikersvertroue sal hê en ekonomiese groei ʼn hupstoot gee.

“Hoë rentekoerse tesame met beurtkrag, duurder krag, kos en brandstof plaas groot druk op ondernemings en individue. Hierdie tweede pouse in die rentekoers sal vir verbruikers ʼn broodnodige blaaskans gee – veral vir dié met skuld.”

Van Zyl meen verbruikers het die afgelope anderhalf jaar swaar getrek en sukkel om kop bo water te hou.

“ʼn Verlaging in die rentekoers kan hulle help om ʼn sug van verligting te slaak en om uit die skuldspiraal waarin miljoene Suid-Afrikaners hulle bevind, te ontsnap.

“Die hoë rentekoers veroorsaak dat verbruikers hul hand nog dieper in die sak moet steek vir kredietkaart- en winkelskuld wat al hoe duurder word, of persoonlike lenings en motor- en huispaaiemente wat toenemend styg.”

Hy sê verbruikers wat skuld aangegaan het toe die rentekoers heelwat laer was, swoeg nou behoorlik om hul skuld te onderhou of kan dit bloot net nie meer bekostig nie.

“Die gemiddelde salaris in die land verhoog ook nie teen dieselfde koers nie en Suid-Afrikaners raak net al hoe armer. Enige verdere rentekoersverhogings sal katastrofies vir verbruikers wees.

“Die rentekoers moet eerder nou stabiel gehou word en dan stelselmatig afwaarts aangepas word. Verbruikers is vuisvoos en dit is tyd om hulle te beskerm voor die laaste strooi die kameel se rug breek.”

Samuel Seeff, voorsitter van Seeff Property Group, sê die besluit om die rentekoers onveranderd te hou, is welkome nuus én die regte besluit vir die ekonomie en eiendomsmark.

“Stabiliteit is nou noodsaaklik vir die ekonomie. Die Reserwebank kan onmoontlik enige verdere rentekoersverhogings oorweeg. Ons verdra dit reeds te lank; die trefslag van die hoë rentekoers kan in die ekonomie en eiendomsmark gesien word.

“Ná drie jaar van ekonomiese stres kan ons nie meer nie. Die ekonomie het ʼn noodsaaklike hupstoot nodig; ons sal graag ʼn daling van 25 basispunte in November voor die kleinhandelseisoen wil sien,” sê Seeff.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Adriaan ·

Die Reserwebank het net 1 tool in sy toolbox en dis n hamer (rentekoerse). Gevolglik is alles n spyker (rentekoerse verandering). Daai skroef? Dis n spyker. Daai hakkie? Dis n spyker.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Reserwebank se magte is beperk. Hulle begin wel meer navorsing doen oor sake soos die nasionale begroting, staatsbestuur en brandstof pryse. Duidelik wil hulle meer betrokke raak by alle aspekte van die sukkelende ekonomie en mislukte regering.

Alida ·

Dis goeie nuus vir mense sonder skuld en met ‘n spaargeldjie in die bank.

Piet 6 ·

Rentekoers verhoging bevoordeel ryk mense wat inflasie veroorsaak en net koop sonder om na die pryse te kyk. Die arm mense wat die sente moet omdraai om deur die maand te kom het nog minder sente om om te draai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.