‘Oorlog dreig’ tussen taxi’s, trokke by grens

Dit ruk vragmotoroperateurs se sakke om die bande van die vragmotors te vervang (Foto: Verskaf)

“Eendag gaan die trokbestuurders nog terugskiet. En dan is dit oorlog.”

Dit is die vrees van talle vragmotoroperateurs wie se voertuie glo deur lede van taxi-verenigings by die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek geteiken en aangeval word.

Volgens die operateurs is daar die afgelope sewe weke op tientalle vragmotors geskiet, voertuie se ruite gebreek of met klippe stukkend gegooi, bande afgeblaas en hul bestuurders self aangerand. Die operateurs beweer dit is taxi-base wat die aanvalle uitvoer.

Maroela Media het video’s en foto’s van aanvalle op vragmotors naby die grenspos gesien. Beeldmateriaal wys ʼn gemerkte taxi, wat glo deel van ʼn patrolleringspan aan die grens is, wat betrokke is by dié aanvalle. Verskeie sake in dié verband is by die polisie aangemeld.

Sowat 29 taxi-verenigings landwyd het verlede maand ʼn patrolleringspan, onder die vaandel van die Lebombo Maputo Corridor Transport Logistics, begin om die vragmotors op die N4-tolpad na die Lebombo-grenspos te begelei. Dit is in ʼn poging om verkeersopeenhopings daar te bestuur.

Beeldmateriaal wys ʼn gemerkte taxi, wat glo deel van ʼn patrolleringspan aan die grens is, wat betrokke is by dié aanvalle [Foto: Skermskoot]

Hier strek die ry van vragmotors wat wag om die grens oor te steek dikwels sover as 35 km. Volgens wet word beheer oor vragmotors in die eerste tien kilometer van die grenspos af deur die grensbestuursowerheid uitgeoefen. Daarna doen vragmotorbestuurders dikwels wat hulle wil, met geen wetstoepassingsowerhede om padreëls af te dwing nie.

Die taxi-verenigings se patrolleerders ry in bakkies langs die ry af om te verseker die vragmotors staan in een ry en druk nie voor mekaar in nie.

Soms word vragmotors met klippe bestook of ruite uitgeslaan (Foto: Verskaf)

Dit gebeur gereeld dat die vragmotors se voorruite deur die patrolleerders uitgegooi word, sê die vragmotoroperateurs (Foto: Verskaf)

Die vragmotorbestuurders word soms fisies ook aangerand (Foto: Verskaf)

Volgens Barbara Mommen, ʼn handel- en vervoerkorridorkonsultant, het die patrolleringspan aanvanklik goed beheer uitgeoefen, maar voorvalle van geweld het die afgelope ruk begin kop uitsteek.

ʼn Eienaar van ʼn vervoermaatskappy het op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media gesê soveel as 15 aanvalle is aangemeld op ʼn WhatsApp-groep van plaaslike vragmotoroperateurs van Komatipoort.

Hy het bevestig dat sake van onder meer poging tot moord, die rig van ʼn vuurwapen, ontvoering en aanranding by die polisie aangemeld is. “Maar die sake staan stil,” sê hy.

“Ons kry geen hulp van die polisie nie en ons vrees die dag gaan aanbreek wanneer vragmotorbestuurders self teen die patrolleerders gaan begin optree.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn vragmotor is verlede Maandag op die N4-hoofweg tussen Komatipoort en Hectorspruit aangeval. Daar is op die vragmotor geskiet en die bestuurder is glo daarna ontvoer en aangerand. ʼn Video van die voorval is wyd op sosiale media versprei.

ʼn Direkteur van die betrokke vervoermaatskappy, wat ook anoniem wil bly, beweer dit is lede van die patrolleringspan se toedoen.

Die koeëlgat in die vragmotor se voorkant [Foto: Verskaf]

“Die skade wat aan die vragmotors aangerig word, ruk die maatskappy se sak. Dit is egter nie net die vragmotormaatskappy wat finansiële verliese ly nie. Daar is ook ʼn enorme ekonomiese impak op uitvoere. Wanneer ʼn aanval op ʼn vragmotor plaasvind, staan die vrag stil en kan dit nie betyds afgelaai word nie,” sê die direkteur.

Die aanvalle is ook traumaties vir vragmotorbestuurders en sommige bestuurders keer nie ná die aanvalle terug werk toe nie, uit vrees vir hul lewens.

Wetteloosheid noodsaak patrollies

Die vragmotors wat die Lebombo-grenspos gebruik het ook ná die Covid-19-pandemie in rasse skrede toegeneem (Foto: Verskaf)

Volgens Linda Grimbeek, hoof van die Kruger-Laeveld‑sakekamer, het taxi-verenigings nie toestemming om te patrolleer nie.

“Niemand keer hulle egter nie, want daar is geen aktiewe wetstoepassing op die pad nie,” sê Grimbeek.

“Die grenspos-owerhede doen goeie werk in die tien kilometer waaroor hulle beheer het. Die krisis ontstaan weens die tekort aan metropolisiebeamptes in die provinsie wat die hele roete behoort te patrolleer. Boonop werk die metropolisie nie na-ure nie omdat hulle nie as ʼn noodsaaklike diens beskou word nie.”

Die Lebombo-grenspos is verreweg die besigste grenspos in Suidelike Afrika, sê Grimbeek. “Die vragmotors wat dié grenspos gebruik het ook ná die Covid-19-pandemie in rasse skrede toegeneem. In die laaste twee maande is daar daagliks 900 meer vragmotors wat die grens wil oorsteek as voorheen”.

Een van die groot redes vir die opeenhoping van vragmotors die laaste tyd is omdat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) onderbrekings in sy aanlyn stelsel ervaar, wat tot vertragings by die land se onderskeie grensposte bygedra het.

Vragmotors se wiele word pap geskiet (Foto: Verskaf)

Die vragmotoroperateurs vrees dat hulle een dag op die taxi-patrolleerders sal terugskiet (Foto: Verskaf)

“Namate die vragmotors by die grenspos toeneem, word die tyd wat bestuurders in die ry moet staan ook al hoe langer. Vragmotorbestuurders begin kanse vat deur by die ry in te druk. As een vragmotorbestuurder besluit om dit te doen, is daar nog bestuurders wat dieselfde doen en dan veroorsaak hulle chaos op die pad. Later sit ons met ses trokke langs mekaar, wat die pad vir ander motors versper en verkeervloei belemmer.”

Grimbeek en Mommen sê dit is ook te verstane dat vragmotorbestuurders oorweldig voel omdat hulle dae lank in ’n ry in haglike omstandighede moet wag – sonder die nodige badkamergeriewe, kos of water.

ʼn Betroubare bron het aan Maroela Media gesê van die vragmotormaatskappye beloof boonop aan vragmotorbestuurders bonusse of dubbelbetaling indien hulle hul reis binne ʼn sekere tyd voltooi.

Volgens Joseph Ntamele, voorsitter van Lebombo Maputo Corridor Transport Logistics, maak die taxi-patrolleerders net seker die vragmotors bly in die ry en wil hulle verhoed dat chaos uitbreek. Hy het ontken dat die patrolleerders geweld gebruik om beheer uit te oefen.

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie oor die aangeleentheid gerig, maar wag nog vir terugvoer.

Volgens Grimbeek is daar ʼn behoefte aan metropolisiebeamptes wat dag en nag die N4 kan patrolleer en wet en orde handhaaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stofdonkie ·

So wat het die taxi’s uit te waai met die trokke? Is daar dalk taxi-base wat trokke besit en nou sy eie trokke wil laat vinniger deurgaan? Enige iets is moontlik in die mafia-staat waarin ons leef. Plaas dat die taxi’s optree teen die taxi’s wat so baie padreels verontagsaam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.