Openbare verhore rondom NGV begin binnekort

(Foto: pixabay.com)

Die regering se portefeuljekomitee oor gesondheid gaan sy eerste rondtes van openbare verhore rakende die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)- wetsontwerp volgende week in Mpumalanga van stapel stuur.

Die openbare verhore begin op 25 Oktober in die Blok B-gemeenskapsaal in Malelane en sal tot 28 Oktober duur.

Die komitee sal daarna openbare verhore in die Noord-Kaap hou om die publiek se insette in dié provinsie te kry. Dit sal van 1 November tot 4 November geskied, met die eerste verhoor in die Kimberley-stadsaal.

Die wetsontwerp beoog om universele toegang tot kwaliteit gesondheidsorgdienste vir alle Suid-Afrikaners te bied. Die NGV is egter die afgelope paar jaar heftig gekritiseer deur veral die DA, die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge en Solidariteit. Die sogenaamde Genesis-verslag, wat deur verskeie privaatsektorinstellings saamgestel is en die NVG se loodsprojekte ondersoek het, het ook verskeie tekortkominge in die plan uitgewys.

Die komitee het aan die begin van September ook aan die publiek ʼn versoek gerig om geskrewe voorleggings rondom die wetsontwerp te lewer. Die sluitingsdatum vir die voorleggings is 29 November.

Gemeenskappe moet teen ‘destruktiewe’ plan optree

Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan oor dieselfde tydperk sy eie gemeenskapsvergaderings in Mpumalanga en die Noord-Kaap hou. “Ons wil die gemeenskap mobiliseer om die openbare verhore by te woon en om kommentaar teen dié destruktiewe wetsontwerp te gee,” het AfriForum in ʼn verklaring gesê.

Die organisasie sal ook tydens die gemeenskapsvergaderings meer duidelikheid gee oor die “skadelike impak” wat die implementering van die NGV-wetsontwerp kan hê en sal ook enige vrae van die publiek beantwoord. Verteenwoordigers van AfriForum sal ook die regering se openbare verhore bywoon om teenstand teen die NGV te kommunikeer.

“Ons wil die publiek aanmoedig om die NGV op elke moontlike wyse teen te staan. Hulle kan dit doen deur aanlyn kommentaar in te dien, asook deur AfriForum hul mandaat te gee om die wetsontwerp namens die gemeenskap teen te staan. Ons wil egter beklemtoon dat dit belangrik is dat mense die openbare verhore bywoon om weerstand teen die NGV te bied. Hoe meer teenstand die gemeenskap bied, hoe kleiner is die kans dat die wetsontwerp uiteindelik as wet uitgevaardig word,” sê Natasha Venter, AfriForum se woordvoerder vir die NGV.

Datums vir verhore in ander provinsies is nog nie deur die regering se portefeuljekomitee vir gesondheid verskaf nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jerry ·

Hoe meer weerstand, hoe meer gedetermineerd sal die ANC die teenoorgestelde van voorleggings van anti-rewolusioneres implementeer as die rewolusionere plan om weerstand te breek. Julle skadelike impak voorleggings sal nie in die paai plan wees nie, maar wel in die implementeringsplan. As julle nie kan sien dat dit is hoe die ANC n plan saamstel nie, dan sal julle dit nooit sien nie. Julle onkunde is erg teleurstellend. Indien julle die leiers van vandag is dan waarborg ek dat daar nie n more gaan wees nie. Onteiening sonder vergoeding voorleggings moes tog vir julle gewys het hoe die ANC te werk gaan. Hulle gebruik die teenoorgestelde van anti-rewolusionere voorleggings en planne as hulle rewolusionere implementeringsplanne, wat n ander plan is as die paai plan. Sterkte aan n ieder en elk van julle wie julle kundigheid in voorleggings aan die ANC op n skinkbord gaan gee. Ek dink nie julle besef hoe effektief die teenoorgestelde van julle kundigheid kan wees nie!

Hendrik ·

Jerry hoe ander sal jy die NGV opineer? Onthou indien die NVG wettig word kan ons mag jy nie alternatiewe gesondheidspraktyke vestig nie. In ‘n sosialistiese staat is alles wat nie deur die staat beheer word nie onwettig.

Neels ·

Nog n verhoor nog n komitee nog geld wat gemors word. Die Anc het hulle oog op die miljarde van die mediese findse en niks of iemand gaan hulle verhoed om die lang vingers op daar die geld te le nie . Klaar besluit die verhore is maar net n formaliteit

humor ·

As die huidige haglike omstandighede in die staat se gesondheidsdienste hul nie kan oortuig nie, is hierdie ook maar n futiele oefening.

Anoniem ·

Soos gezien met die grond onteiening is dit tydmors. Hulle het geen intensie om enige notisie te neem van enige persoon wat nie met hulle saamstem nie

Hanna Hoekom ·

Ja, laat mens terugdink aan daardie sirkus! Sprekers wat nie die regering nagepraat het nie, is gedreig of sommer doodgeskree en dan was die meeste bymekaarkom plekke boonop in gevaarlike areas. Die skrif is aan die muur: die ANC het reeds die besluit geneem. En miljoene van hul breinlose kiesers gaan saamstem!

Johanna Botha ·

Met die anc se rekord van onbevoegtheid wanbestuur en korripsie gaan hulle vereker die NGV ook opvoetter !

Ongelowige Thomas ·

Wys eers vir my dat julle die Staats hospitale en klinieke soos privaat hospitale en klinieke kan laat lyk en bestuur, dan sal die hele land die NGV ondersteun, maar tot dan is dit ‘n groot NEE!!!!

Dis Nou ·

Mense hou op negatief wees. Ons het die reg en ons kan die NGV stop en ons gaan dit ook regkry. Hulle het reeds te veel van ons geld misbruik, ons gaan nie nog toelaat en klaar

Hendrik ·

Daar is natuurlik groot maatskappye/organisasies wat hul eie mediese personeel/fasiliteiete het. Hulle kyk natuurlik na die maatskappy/organisasie se werknemers se gesondheid en behandel hul natuurlik ook. Sal die Solidariteit Beweging ook so iets vir sy lede kan bied?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.