Oplossing vir kragkrisis vorder (stadig), maar darem

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit. (Foto: GCIS)

“Enige vermindering in beurtkrag is welkom, maar ons moenie toelaat dat dit ons tot selfvoldaanheid paai nie. Ons kragnetwerk kan steeds nie by ons ekonomie byhou nie.”

Só sê Busisiwe Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa (BLSA) en oud-Eskom-raadslid, nadat die elektrisiteitsminister die naweek die huidige stand van sake oor die kragkrisis uitgelê het.

Kgosientsho Ramokgopa het Sondag prontuit terugvoer gegee oor vordering om die voortslepende kragkrisis om te keer. Hy sê Eskom se aanlegte het die afgelope twee weke tasbare vordering gemaak en die kragvoorsiener se energiebeskikbaarheidsfaktor (EAF) staan tans op 60%.

Eskom was veronderstel om in Maart al ʼn EAF van 60% te behaal, maar beoog nou om teen die einde van die jaar ʼn koers van 65% te bereik. Ramokgopa sê die vordering wat gemaak is, is een van die hoofredes waarom minder beurtkrag die afgelope tyd ingestel is.

Die onafhanklike energiekenner Chris Yelland sê ondanks die stadige vordering wat gemaak is, lyk dit darem of daar stappe in die regte rigting is.

“Hoewel dit in hierdie stadium nog onduidelik is hoe volhoubaar hierdie vordering is, is dit nodig om dankbaar te wees vir die vordering wat wel gemaak is,” sê hy.

Volgens Yelland word die afwesigheid van beurtkrag deur die dag toegeskryf aan die feit dat daar minder onklaarrakings is.

“Dit is dus duidelik dat Eskom se pogings om die aantal onderbrekings te verminder, beslis vrugte afwerp,” sê hy.

Die aantal onbeplande onklaarrakings by Eskom-aanlegte het oor die afgelope paar dae met 3 000 MW verminder. Slegs ʼn maand gelede was die opwekkingskapasiteit wat afgestaan moes word aan onklaarrakings tussen 18 000 MW en 19 000 MW, terwyl dit nou tussen 14 500 MW en 16 000 MW is.

“Dit is moeilik om te sê of daar enige blywende vordering gemaak is deur net te kyk na die afgelope paar weke, maar Eskom moet die nodige krediet gegee word dat hy in Junie ʼn effense verbetering in die beskikbaarheid van krag verseker het,” sê Yelland.

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Parker Coffman/Unsplash)

Die nasionale energiekrisiskomitee (Necom) het ook die afgelope jaar heelwat gedoen om die land se energievooruitsigte om te keer. Necom het onder meer help sorg dat private opwekkingsontwikkeling aangewakker word deur wysigings aan die Wet op die Regulering van Elektrisiteit te maak. As gevolg hiervan is sowat 4 200 MW se nuwe kragopwekkingskapasiteit oor die afgelope jaar by die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) geregistreer.

Mavuso sê dit is ʼn merkwaardige prestasie wat in wese die sleutel tot die beëindiging van die kragkrisis is.

“Saam met die vordering wat gemaak is om huishoudings en sakeondernemings aan te spoor om in sonkrag te belê, is dit duidelik dat daar ʼn groot reaksie is om die kragkrisis te pak,” sê sy.

“Hoewel ons nie besonderhede het oor presies wanneer die honderde nuwe aanlegte aanlyn gaan kom nie, is die aanlooptye vir son- en windfasiliteite baie korter as aanlegte wat fossielbrandstof gebruik.

“Dit is hoekom kenners voorspel dat beurtkrag teen die einde van 2025 tot ʼn einde sal begin kom.”

Ramokgopa sê daar is ook vordering by munisipaliteite wat klante aanspoor om in ingebedde opwekking te belê deur hulle vir voering in die kragnetwerk te betaal.

Kaapstad is aan die voorpunt van hierdie inisiatief, maar verskeie ander gebiede, soos Nelson Mandelabaai, Buffalo City en Ekurhuleni, probeer dieselfde doen.

Volgens Yelland sit ander stede, soos Johannesburg en Tshwane, egter die pot heel mis hiermee.

“Hoewel hierdie stede of munisipaliteite baie planne en voornemens het om dit te doen, is hulle finansieel net té beperk.”

Munisipaliteite kan met minder burokratiese rompslomp ook vinniger werk om private opwekking moontlik te maak, meen Mavuso.

Meer kapasiteit nodig, maar wie gaan betaal?

(Foto: Natsuki via Unsplash)

Benewens al die vordering wat gemaak is, gaan dit niks beteken nie as daar nie meer kapasiteit in die kragnetwerk beskikbaar is nie.

“Meer netwerkkapasiteit word benodig om die produksie van hernubare energie uit te brei,” sê Mavuso.

“Maar om dit te verseker, kos baie geld.”

Volgens Ramokgopa gaan dit Eskom sowat R210 miljard uit die sak jaag om die netwerkkapasiteit te verhoog. Eskom se balansstaat kan egter nie hierdie belegging finansier nie.

Yelland sê die groot vraag is dus wie daarvoor gaan betaal.

“Daar is geld, maar Eskom het nie genoeg nie. Die geld wat Eskom van die nasionale tesourie ontvang is boonop deel van ʼn reddingsboei en moet gebruik word om lenings terug te betaal. Dit kan nie gebruik word om nuwe kapitaaluitgawes te finansier nie,” sê hy.

“Eskom moet na ʼn innoverende sakemodel kyk om dit moontlik te maak om die uitbreiding van die kragnetwerk te finansier. Een van hierdie moontlikhede is om die private sektor te betrek om die nodige bates te bou en dan die besit en bedryf daarvan aan Eskom oor te dra sodat Eskom dit oor ʼn bepaalde tydperk kan afbetaal eerder as om dit vooraf uit sy sak te finansier.”

Ramokgopa sê hierdie is een van die opsies wat Eskom oorweeg, maar daar moet na koste gekyk word sodat verbruikers nie mettertyd selfs meer opdok nie.

Rudi Dicks, hoof van projekbestuur in die presidensie, wat ook by Sondag se mediakonferensie was, sê  ʼn “groot gedeelte” van die R210 miljard sal deur die vennootskap vir ʼn billike energieoorgang (JetP) gefinansier word. Die JetP is die klimaatbefondsingsooreenkoms wat in 2021 met verskeie ontwikkelde lande gesluit is.

“Daar is verskeie gesprekke tussen die tesourie en internasionale vennote oor watter vorm dit sal aanneem terwyl ons kyk na verskillende modelle van belegging om die tekort aan netwerkkapasiteit op te los,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek is huidiglik in Pretoria en die beurtkrag het minder geword.

Hannes ·

Die ANC moet bewys die aanstelling van, nóg ‘n minister en bedanking van Andre de Ruiter het gewerk. Nou “skreeu” hulle Stage 1 beurtkrag, maar onvoorsiende krag onderbrekings vind daagliks plaas in Pretoria, ure lank op ‘n slag. Kragstasies in Pretoria slaan aan die brand… soos die engelse sê, “go figure”

Martie Smartie ·

Dis vreemd. Vandat mnr Die Ruiter en mnr Jan Oberholster weg is by Eskom , gaan dinge beter. Lankal gedink hulle is nie so bevoeg as wat almal dink nie.

Johan Tredoux ·

Ek stem heelhartig saam met jou. Jou kommentaar is bewys dat jy vir jouself kan dink. Ek sal nie verstaan, óóit, hoekom daar so baie is wat hulle ophemel nie.

Althes ·

Daar is meer kundige personeel ingebring wat nie daar was toe A de Ruyter aan stuur was. Noudat hy die blokke vir hul vuurwarm gemaak het, begin ons resultate sien Martie Smartie

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Dink nie hulle was onbevoeg nie, net so bevoeg soos wat die ANC hulle toegelaat het om te wees met die beperkte middele & mag tot hulle beskikking. Nou moet die ANC rondspring en gesig koop en damage control doen vir ‘n vale want ewe skielik is hulle reputasie op die spel & they must save face.

Frank ·

Feitlik almal glo die sabotasie en kwaai onklaarraking is georganiseerd so dit is verspot maklik om dit bloot vir ruk te stop met die gevolg dat De Ruiter en kie sleg voorkom en die huidige klase “bevoeg”. As teenvraag wanneer laas het jy gelees van sabotasie of feitlik daaglikse onklaraking van eenhede? (deeglike instandhouding is nie 1 dag joppie nie so dit kan De Ruiter se werk oor lang tyd wees wat vrugte afwerp (Met verdere instandhouding wat gestop word om dinge nog beter te laat lyk)

Blomkind ·

Lyk my jy hou nogal van di stand van sake hoe dit nou gaan. Jy gaan nog jou woorde sluk. Tot my Seuntjie van 7 Jaar oud kan sien hulle is besig om stemme te werf vir volgende jaar. Hull hou net n wortel voor almal se neuse, tot na die verskiesing sal jy dan sien hoe dans die poppe. Dan wens jy ons het de Ruyter & Oberholzer op gehemel.

Delia ·

Ek hoop nie jou seuntjie hoor al hierdie politieke gesprekke in jou huis nie. Ons moet daarteen waak om nie ons kleintjies hooploos groot te maak nie.

JN ·

Jy redekabel oor n klomp twak man..
Vra jouself eerder hoekom dinge lyk soos dit lyk..Dink jy De Ryuter moes als reg toor?? In watter sprokie wereld leef jy? Jare en jare van onbevoegde kader korrupte indiensneming en jy blameer De Ruyter,??? Regtig..
Sien die probleem vir wat dit is en word tog net wakker asb.!!

VaalDonkie ·

Mens moet darem in ag neem dat De Ruyter tjommies in die ANC moes gehad het om die aanstelling te kry. ‘n Wit vel maak jou nie outomaties slim of goed nie.

Chris dupreez ·

Dit is de Ruyter en Oberholzer se beplande instandhouding wat nou vrugte afwerp. Dit gaan weer slegter gaan as dit nie volgehou word nie.

Johan Tredoux ·

*kug*, natuurlik. En n timer wat ingeskop het net na hul vertrek.

JN ·

Kan nie by ons ekonomie by hou nie ???
Bwaaahahaaha…..Nogals net so nê Eischhh..
Regtig? Genade hoe dom kan jy wees om die Anc lot se tjol te glo..Hel maar hul het geen perke of skaamte nie..Almal in hul oë aan wie hul die tjol voer is stupid of so glo huk blykbaar.

SjN ·

Kragnetwerk kan en sal nie byhou met ekonomie nie, dit is mos nie rocket signs nie, enige regdenkende mens kan dit in sien, weekliks word nuwe aansluitings gedoen (wonder hoeveel betaal vir die diens) en geen uitbreiding of nuwe energiebronne word op die been gebring om voorsiening te maak daarvoor, hul kan tans nie eers aan die huidige aanvraag voorsien nie!

annie ·

Nou is daar weer besware teen sonpannele dat dit die ‘grid’ juis gaan benadeel wanneer mense te veel self doen. Wat blyk dat daar mense is wat voordeel trek uit die huidige kragkrisis… en dit wil laat voortduur.

Papsak ·

Ag asb dinge vorder stadig asb man van dat DeRhyter en Oberholzer weg is van eskom af het alles plat geval hierdie goed wat probeer eskom reg ruk is vertraag verby daarom lyk hierdie land nog so alles gaan agteruit onder hulle hande dus tyd hulle moet gelug word en vinnig ook hou op stem vir die anc maak oop julle oe

Amelia ·

#En hoe nader stem dag kom hoe vinniger sal daar krag wees paaie reg gemaak word ngv is als nog stories om stemme te werf weet net om die wat nie te slim is nie te flous

annie ·

Groot Amok maar dit kós. Ons glo die man kan toor vandaar die minder kragonderbrekings… Wag en kyk, nee voel. Die oom het nou volmag om geld te strooi, maar selfs in Afrika, ‘the darling of the world’, kos alles ‘n pennie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.