Opruimingswerk begin ná Tafelberg-brand

Opruimingswerk het die afgelope naweek in die Tafelberg Nasionale Park begin (Foto: SANParks, Facebook)

Opruimingswerk het die afgelope naweek in die Tafelberg Nasionale Park begin waar ʼn brand verlede maand uitgebreek en verwoesting gesaai het.

Volgens Frans van Rooyen, parkbestuurder van die Tafelberg Nasionale Park, sal sekere gedeeltes van die park gesluit bly totdat rehabilitasiewerk afgehandel is. Dit sluit onder meer die gebied by die Rhodes-gedenkteken en Deer Park in.

“Ons word oorval met oproepe en boodskappe van besoekers wat wil teruggaan en verskillende aktiwiteite in die gebiede wil aanpak, maar ongelukkig is dit in hierdie stadium onveilig om toegang toe te laat tot die rehabilitasiewerk afgehandel is,” sê Van Rooyen.

SANParke beoog om voetpaaie en loopplanke op te ruim deur gebrande bome langs voetpaaie en loopplanke te verwyder en ook beskadigde loopplanke te vervang. Hulle gaan ook inligtingsborde langs voetpaaie en loopplanke vervang.

Sekere gedeeltes van die Tafelberg Nasionale Park sal steeds vir lede van die publiek gesluit bly (Foto: SANParks, Facebook)

SANParke is toegespits daarop om in samewerking met die Stad Kaapstad grondstabilisering te doen om modderstortings en erosie te voorkom. Die opruimingswerk gaan ook die herstel van waterpype en kraglyne insluit.

“SANParke wil die gemeenskapslede vir hul deurlopende ondersteuning bedank en ons sal mense op die hoogte hou van die vordering met die opruimingswerk.”

Die brand het op 18 April aan die voet van Tafelberg, naby die Rhodes-gedenkteken, uitgebreek en ʼn paar dae lank gewoed en blitsvinnig versprei. Maroela Media het vroeër berig altesaam 11 strukture is oor die afgelope drie dae in die brand beskadig of vernietig. Dit sluit woonhuise, ses kampusgeboue by die Universiteit van Kaapstad (UK), twee erfenisgeboue, waaronder die ikoniese Mostert se Meul en die UK se historiese Jagger-biblioteek, en die restaurant by die Rhodes-gedenkteken in.

Minstens 600 ha grond in Tafelberg Nasionale Park het afgebrand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarel ·

Nog is niemand in.hegtinis geneem nie???? Soos met al die voorvalle landwyd

Alexander ·

Totdat daar nie strenger opgetree word teen brandstigters nie gaan hierdie voorvalle nie hokgeslaan word nie. Ek sou reken dat 10 jaar tronkstraf ‘n strenger sanksie sal wees. Ek twyfel of daar ooit tronkstraf vir brandstigting is, dalk net opgeskorte vonnis.

Jaco ·

Mark my words: Rhodes Memorial sal nooit weer oopmaak nie. Dis mos kolonialisties.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.