Opskort van e-tol ‘oorwinning vir burgery’

Die drukgroep Outa sê ook die departement van vervoer en Sanral stuur teenstrydige boodskappe oor die afskakeling. (Foto: Outa)

Die VF Plus bestempel die uiteindelike opskorting van die e-tolstelsel as ʼn deurbraak vir die burgery teen die ANC. Die omstrede stelsel word Donderdag kort voor middernag afgeskakel.

Anton Alberts, nasionale voorsitter van die VF Plus, sê die e-tolstelsel is op Gautengers afgedwing en sonder openbaredeelnameprosesse ingestel. Die party is daarvan oortuig dat indien ʼn behoorlike openbaredeelnameproses, soos vereis deur die Grondwet, plaasgevind het, sou die meeste Gautengers hul teenkanting duidelik gemaak het as die stelsel laat vaar moes word.

“Die feit dat die e-tolstelsel in werking gestel is sonder enige behoorlike openbare deelname van die provinsie se inwoners, is eintlik simbolies van hoe die ANC die land tot dusver regeer het. Onnodige projekte word uitgedink en tenders word aan die hand daarvan uitgedeel aan ANC-kaders met geld wat dan weer ʼn pad terug na die ANC vind,” het Alberts gesê.

Hy meen dit was onnodig om die bestaande snelweë in Gauteng, wat reeds in die vorige bedeling gebou en afbetaal is, met nuwe skuld te belas.

“Dit is een van die redes waarom mense in opstand gekom het, aangesien hulle besef het dat padgebruikers sal moet betaal vir iets wat nie werklik nodig is nie.”

Die VF Plus neem ook kennis van die Suid-Afrikaanse Padagentskap (Sanral) se stelling dat motoriste steeds tot middernag e-tolgeld sal moet betaal, asook hul agterstallige skuld sal moet delg.

Alberts sê dit is onaanvaarbaar.

“Daarom sal die party ʼn ondersoek doen om te bepaal tot watter mate regstappe suksesvol gedoen kan word om die agterstallige rekeninge af te skryf en geld vir rekeninge wat reeds betaal is, terug te eis.”

Die VF Plus is van mening dat die afskakeling van e-tol tydens Lesufi se termyn nie die ANC van ʼn inploffing in Gauteng gaan red nie; Alberts sê inwoners van die provinsie weet dat die ANC hierdie stelsel geskep het.

“Ons was van die begin af gekant teen die e-tolstelsel en die party het selfs hof toe gegaan as deel van die Tolhek-aksiegroep (TAG) om e-tol te keer,” het Alberts gesê.

Volgens Alberts het die druk van die party, asook druk van burgerlike organisasies die ANC geknak.

“Dit is ʼn les dat die ANC wel met sukses aangedurf kan word.”

Die drukgroep Outa sê ook die departement van vervoer en Sanral stuur teenstrydige boodskappe oor die afskakeling, wie waarvoor gaan betaal, hoekom Sanral steeds uitstaande e-tolskuld wil invorder en hoe hy beoog om dit te doen.

Panyaza Lesufi, Gautengse premier, en Sindisiwe Chikunga, minister van vervoer, het Woensdag weer bevestig dat die stelsel afgeskakel word.

Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, Maandag tydens ’n mediakonferensie na afloop van sy provinsiale rede. (Foto: Gauteng Provincial Government)

Wayne Duvenage, woordvoerder van Outa, sê egter die inligting by hierdie mediakonferensie was verwarrend en oor sommige kwessies is geen duidelikheid gegee nie.

Chikunga het byvoorbeeld gesê motoriste het “steeds ʼn verpligting om te betaal”, maar sy het ook toegegee dat gesprekke om hierdie betaling af te dwing, voortduur.

Outa help motoriste wat dagvaardings vir uitstaande e-tolskuld gekry het en die organisasie om hulp genader het, intussen steeds in hul verweer. Die sake is op die lange baan geplaas nadat Sanral al in 2019 opgehou het om skuld te probeer invorder.

Die drukgroep se regsverteenwoordigers het reeds aan Sanral se prokureurs geskryf om duidelikheid oor die pad vorentoe te probeer verkry.

Duvenage sê daar was ook ʼn verwarrende antwoord op ʼn vraag oor die kwessie of e-tolskyfies by ander tolhekke gebruik kan word. Sanral het benadruk dat die skyfies by alle tolhekke gebruik kan word en dat historiese e-tolskuld nie by toekomstige e-tolskyfies geabsorbeer gaan word nie. Dit is egter steeds onduidelik hoe dit gaan werk.

“Wat vir Outa duidelik is, is dat daar steeds geen verskoning van die owerhede is nie vir die inwerkingstelling van ʼn grof irrasionale en duur stelsel wat onderwerp is aan buitensporige opgeblase konstruksiekoste en e-tol-invorderingskontrakte wat tot ʼn vermorsing van R14 miljard aan openbare geld gelei het.

“Ons glo ook nie premier Lesufi se verduideliking dat hy verkeerd in die media aangehaal is oor sy stelling dat diegene wat e-tolgeld betaal het, terugbetaal gaan word nie. Hy het hierdie stelling duidelik gemaak en in daardie stadium nooit die indruk gewek dat dit bespreek word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Di ·

Ja hulle moes planne beraam om meer geld te kan verduister. Kyk, as dit by skelm kom kan mens baie by die korrupte spul leer

Danie ·

Daar is in elk geval genoeg geskep.Wil die geraamtes nou met die sluit ook begrawe.

Michael ·

Die burgers moet dieselfde doen met skole, mediese dienste en die regering wys wat demokrasie is.

Hendrik ·

Is dit werklik ‘n oorwinning? Wie gaan nou vir daardie paaie betaal? Ten minste was e-tol se doel om die gebruikers van die paaie te laat betaal – nou word die koste eenvouding na ‘n kleiner groep belastingbetalers verplaas.

koos10 ·

Die N4 vanaf Pretoria na Rustenburg. Splinternuut gebou, 100% dat dit ‘n tolpad kan wees. N1, N2, N3 en al die ander was bestaande paaie wat opgeknap was, en vir donkiejare betaal ons maar. Is dit nie tyd dat die paaie ook tolvry word nie? Ek is oortuig dat ons reg op vrye beweging ingeperk word met tolpaaie. As jy nie betaal nie mag jy dit nie gebruuk nie, al behoort die paaie aan alle SA burgers.

Koen ·

@Hendrik. Gooi jy brandtof in jou kar? Betaal jy belasting? Dan betaal jy vir paaie. Verstom my dat mense dit ne besef nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.