Orania se watervleuel red man na voorval op Oranjerivier

(Foto: Orania)

Die Orania-veiligheidsdienste se watervleuel het die afgelope naweek ’n man gered nadat hy van sy waterponie geval het toe hy oor ’n keerwal in die Oranjerivier gery het.

Die watervleuel is gestig na die tragiese verdrinking van Klarissa Joubert in Januarie 2021.

Terwyl Oraniërs Saterdag in ʼn vrolike luim was tydens die dorp se karnaval, het die beheerkamer om 16:25 ʼn noodoproep ontvang oor ’n voorval op die Oranjerivier.

Etienne de Lange en Theuns Wessels van Orania-veiligheidsdienste het die skipper, boot, paramedikus en lede van die groep geaktiveer en in rekordtyd die toerusting by Sandbaai in Orania gehad, gereed vir ontplooiing. Volgens die operasionele tydlyn is die boot teen 16:45 te water gelaat.

Terwyl dit gebeur het, het twee hengelaars stroomop die persoon wat in die ongeluk was aan die omgekeerde waterponie sien klou.

“Ons kon eers nie sien wat die voorwerp was nie, en moes ʼn verkyker uitkry,” het Marco Lyons, een van die hengelaars, gesê.

“Toe ons besef dit is ʼn man wat aan die omgedopte waterponie klou, het ek so vinnig ek kon met my bootjie na hom geroei, my arms het naderhand gebrand, maar ek wou nie sien dat nog ʼn Oraniër verdrink nie!”

Die man was ernstig beseer en nie by sy volle bewussyn nie. Lyons en Dean von Waldzleben het die beseerde man na die wal gehelp en hom by sy bewussyn gehou. Hulle oplettendheid en vinnige optrede het ʼn  groot rol in die reddingspoging gespeel.

Die OVD-watervleuelspan het mediese behandeling op die man toegepas en hom met ʼn spinale bord vervoer tot by ʼn toeganklike gebied waar ʼn ambulans hom na Orania se mediese sentrum kon haas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Prikkie ·

So werk stelsels nog waar daar NIE onbevoegde kaders in beheer is nie.

SjN ·

Dankie aan al die betrokkenes, darem positiewe nuus vir n slag.

Mariana ·

Dis sulke nuus wat mens weer laat glimlag. Wel gedaan Oraniërs!!

JohanR ·

Wel ek dink nie ons sal ooit ‘n hoofberig sien wat se “ANC se watervleuel red man na voorval op Oranjerivier(enige rivier)”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.