Oud-Wilgenhoffers swyg oor ‘gruwelvertrek’ in koshuis

Die Wilgenhof-koshuis. (Foto: Facebook)

Oud- en huidige inwoners van die Universiteit Stellenbosch (US) se Wilgenhof-koshuis het Vrydag oënskynlik laer getrek om die oudste manskoshuis op die dorp nadat “items” in twee vertrekke gevind is wat glo van ʼn “ernstige aard” is.

Die US het vroeër vandeesweek in ʼn verklaring gesê hy het ʼn “oudit van ruimtes en geriewe by die Wilgenhof-koshuis onderneem” en tydens dié oudit is daar op die items afgekom.

Die universiteit het geen verdere besonderhede oor die aard van die items bekend gemaak nie.

News24 het egter berig grafiese beelde, sketse en geskrewe beskrywings van “straf” wat in dié koshuis toegedien is, is onder die items wat agter die geslote deure van Wilgenhof-koshuis gevind is. Daar is ook verwys na die “gruwelike mishandeling” waaraan sommige van die inwoners onderwerp is.

Maroela Media het verskeie oudinwoners om kommentaar genader oor die items en die doel daarvan, maar die versoeke is herhaaldelik ferm van die hand gewys.

“Dit is veiliger so,” het een van die voormalige inwoners gesê.

Terwyl die universiteit nie uitgebrei het oor presies wat in die koshuis gevind is nie, het die US wel gesê dat personeel tydens die oudit op items in twee vertrekke in die koshuis afgekom het wat “bestudeer moet word om die aard en konteks daarvan te verstaan voordat ʼn besluit geneem word oor watter verdere stappe nodig is”.

Prof. Deresh Ramjugernath, visekanselier van leer en onderrig aan die US, sê ʼn span is saamgestel om die “items te bestudeer” en “aanbevelings aan die uitvoerende bestuur [te] doen oor gepaste stappe in die hantering van die saak”.

Die Wilgenhof-alumnivereniging het luidens News24 in reaksie op die US se verklaring gesê die items “is gevind in ʼn argief wat oor ʼn tydperk van meer as 100 jaar strek”.

“Die inhoud vorm deel van Wilgenhof se geskiedenis en het dus behoue gebly.

“Soos dikwels die geval is met historiese artefakte, kan sommige van die inhoud moontlik aanstoot gee of misverstaan ​​word as dit nie in die korrekte historiese konteks verduidelik word nie,” lui die brief.

“Ons het met die US geskakel en aangebied om die nodige historiese konteks in hierdie verband te verskaf. Ons het egter nie die items gesien nie en kan dus nie volledig kommentaar lewer oor die inhoud nie.”

Maroela Media het ʼn navraag aan dié organisasie gestuur, maar wag nog op terugvoer.

Foto’s wat News24 van ʼn betroubare bron ontvang het, wys sommige van die inhoud van die kamers in die koshuis. Hoewel dit nie duidelik is wanneer van die foto’s geneem is, of hoe oud sommige van die items is nie, het dit nogtans ʼn donker prentjie geskets.

Daar was foto’s, name, handtekeninge en beskrywings met die presiese datums van wat in die vertrek gebeur het en wanneer.

Talle oud-Maties het intussen verwys na die sogenaamde “geheimsinnigheid” wat nog altyd oor Wilgenhof-koshuis gehang het.

“Ek was by een van Wilgenhof se susterskoshuise en die een ding wat nog altyd waar was van Wilgenhof is dat sy inwoners nooit praat oor wat by hulle koshuis gebeur nie,” sê dié oud-Matie op sosiale media.

Nog ʼn sosialemediagebruiker sê “al het almal nie alles geweet nie, weet baie al van iets vir ʼn lang tyd”.

“Geen konteks kan sekere gedrag regverdig nie.”

Met die onthulling van dié items is die US opnuut onder die vergrootglas en oudstudente is van mening dat hierdie ʼn katalisator vir verandering aan koshuiskultuur sal wees.

Nadat Maroela Media nog vrae aan die universiteit gerig het, het die US gesê hy sal mettertyd weer ʼn verklaring oor die saak uitreik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Hannatjie ·

Dit is absoluut siek en skandelik! Ons lewe in ‘n wereld waar seksuele misbruikers tussen ons rondloop en ons kinders word aan die monsters bloot gestel. Dis geklik dat familie, vriende en vyand almal net stil bly en beskerm! Hoekom maak mense nie hulle monde oop en praat nie? Hoekom beskerm familie oortreders? Hoekom word hierdie aksies goedgekeur?? Almal wil altyd in die mou hierteen praat maar niemand wil niks aan die groot klok hang nie! Ek is baie jammer ek sal sonder skaamte stroom op swem, en my stem dik maak en ek sal jou noem by die naam as jy jou met geklikheid ophou. Dit is ‘n skande dat volwasse nie die vermoe het om hulle giere vir hulself te hou en ons kinders veilig nie. My kinders sal nie universteite koshuis ooit toe gaan nie (onder andere). Nee dankie!

Prikkie ·

Nou kom ons noem maar die gruwel gebruike by die naam – ONTGROENING

Ouers gaan lenings aan, neem tweede verbande op hul eiendom uit of doen ‘n na-uurse werk om dit te kan bekostig om hulle kinders universiteit toe te kan stuur, en dan is dit waaraan die kinders onderwerp word.

Studente het al hulle studies gestaak as gevolg van dit, ander is ernstig beseer, sommige lewenslank. Dit is gewoon afsootlik.

En voordat jy “aanlê” om my te wil skiet omdat ek ‘n sissie is – kry eers jou feite reg. Ek was meer as 10 jaar ‘n staandemaglid van die SA weermag, het onder andere op die grens diens gedoen, so soos die Engelsman sê “cool it”.

Jacobus ·

Maak toe die koshuis. Een van die UOVS se koshuise is in 2008 toegemaak agv goed wat daar gebeur het. so alle tersiêre instellings wat hulle skuldig maak aan snert moet die gevolge daarvan dra.

kommentaar ·

Ongeag. Ek sal nie my Jong onervare seun hieraan wil blootstel nie

vuurvliegie ·

@ Prikkie. Ek stem 100% saam met jou brief. Oor die weermag het baie dienspligtiges maar slegte gevoelens en herhinderings want dis waar die meeste ontgroening en geboeliery was in die geskiedenis van Suid Afrika. Staandemaglede het troepe misbruik en fisies geslaan om ‘n punt te probeer bewys en om gesag af te dwing. Ek weet nie alle lede was skuldig hieraan nie maar in veg eenhede het dit rof gegaan. Ek val jou geensins aan nie maar noem dit net.

Jedi Knight ·

Prikkie, was jy n kok in die weermag? Of n stoorman? Of n admin klerk?

Philip ·

Wag maar tot alle inligting ingesamel is voor julle op hol gaan. Ontgroenning het gemaak dat ek al die inwoners van die koshuis se name, al die reëls, tradisies ens in een week leer ken. Spanbou, ruggraat kry. Baie van daai items is net om vrees in te boesem.

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n Regter gaan weer die saak ondersoek en beslis dat apartheid die oorsaak is.

Andre ·

…US was nog altyd die universiteit wat alles wat verkeerd is, beliggaam;
of dit nou urinering, sedeloosheid,taalmiskenning ,of wat ookal is.

Vrijburger ·

Groot histerie met bitter min inligting beskikbaar, gemaak op erge aannames. Kom ons kry eers die feite.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.