Ouetehuis-moordenaar van nóg ʼn moord aangekla

John Leonard du Plooy. (Foto: Valke)

John Leonard du Plooy (32) het Donderdag in die Roodepoort-streekhof op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede verskyn. Du Plooy dien reeds twee lewenslange vonnisse en ’n bykomende 30 jaar uit vir moord en roof wat in 2018 in onderskeidelik Springs en Alberton gepleeg is.

Du Plooy is saam met Shaun Oosthuizen vir die destydse roof en moord op Hetta van Wyk by die Rus ’n Bietjie-ouetehuis in Springs gevonnis. Oosthuizen (38) sal altesame drie lewenslange vonnisse vir die moord op Hetta Potgieter (85), Barbara Esmé Fenton (74) en Van Wyk (86) uitdien. Hy sal ook 55 jaar agter tralies deurbring vir roof met verswarende omstandighede.

Die saak teen Du Plooy wat Donderdag voor die hof gedien het, hou verband met misdade wat in Augustus 2018 in Roodepoort gepleeg is.

Du Plooy en Oosthuizen is destyds in hegtenis geneem ná ’n ondersoek na die moord op vier bejaarde vroue by ouetehuise in Mpumalanga en Gauteng.

Die jongste saak teen Du Plooy is nou tot 22 Julie uitgestel terwyl hy in aanhouding in die Johannesburg-gevangenis sal bly.

Genl.maj. Zodwa Mokoena, die Valke se provinsiale hoof, het die ondersoekers daarvoor geloof dat hulle lewenslange vonnisse vir Du Plooy en Oosthuizen kon verseker, en gesê sy hoop vir bykomende lewenslange vonnisse.

“Ons waardeer die samewerking tussen ondersoekers en die regbank om te verseker dat hierdie hartelose misdadigers wat weerlose bejaardes vermoor het uit die samelewing verwyder word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Swerwer ·

Genl.maj. Zodwa Mokoena, dit is doodreg, die swaarste en ergste straf moet sulke wesens opgelê word want hul hoort nie in die samelewing nie. My vraag is net waarom word dieselfde straf nie ook aan al die ander moordenaars, sluit plaasmoorde in, toegepas nie. Die dubbele standaarde in die strafreg proses steek my dwars in die krop.

ES ·

Gemors wat oumense vermoor. Ek hoop hy kom nie weer uit die tronk nie!

Helene ·

Good Grief, die kind is behoorlik met ‘n nat comic book geklap!
Stem 100% saam, regte vonnis, maar wat van die wat plaasmoorde pleeg…hoekom word hulle ook nie onder dieselfde kam getrek as die nar nie?

Korrelkop ·

Almal begin as “oulike klein babatjies” en dan raak sommiges die pad heeltemal byster. Wat sou dan tog in die mens se lewe skeef geloop het? Dalk ‘n afwesige pa??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.