Ouetehuise, gesinne trek swaar weens KZN-onluste

Inwoners in Ladysmith staan al vroegoggend in lang rye om by die plaaslike Spar in te gaan na onluste in KZN waar talle winkels geplunder is. (Foto: Verskaf)

Helpende Hand het sy Krisisfonds en landwye Josef Silo’s gemobiliseer om as afsetpunte te dien waar die publiek met donasies gesinne en inwoners van ouetehuise in KwaZulu-Natal kan bystaan. Dele van dié provinsie word weens voortslepende onluste deur ʼn voedseltekort in die gesig gestaar.

Die situasie in KwaZulu-Natal is benard met mense en veral ouetehuise wat sukkel om kos in die hande te kry, nadat plunderaars sedert die naweek grootskaalse skade aan die voorsieningsketting aangebring en verskeie winkels rot en kaal besteel het.

“Daar is verskeie gebiede waar die inwoners geen manier het om kos of brandstof aan te koop nie. Vars brood en melk, asook ander kosprodukte is in sommige winkels onverkrygbaar. Die oorblywende winkels maak net vir kort tye oop, en die mense staan tou om inkopies te doen. Voorraad raak dan op, en die winkels sluit weer hul deure.

“Alles het so skielik gebeur dat daar van die tehuise is wat nog net vir ʼn dag of twee kos oor het. Hulle kan eenvoudig net nie gaan kos koop nie, want die winkels is gesluit,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

Noëth sê Helpende Hand het reeds goedgevestigde strukture, soos Josef Silo’s in elke streek, waar die publiek kosskenkings kan gaan aflaai. Die kos sal in samewerking met AfriForum se veiligheidstrukture vervoer word, om te verseker dat dit veilig by die onderskeie eindbestemmings uitkom. Lede van die publiek wat nie hul huise wil verlaat nie, kan geld aan die Solidariteit Beweging Krisisfonds skenk, wat dan gebruik gaan word om kos mee aan te koop.

Helpende Hand het sy Josef Silo’s in Maart 2020 op die been gebring te midde van die eerste algehele inperking wat weens die Covid-19-pandemie veroorsaak is. Oor die afgelope jaar het die Josef Silo’s meer as 24 000 gesinne met kontant of produkte gehelp. Meer as 2 400 instansies is bygestaan, en nagenoeg R27 miljoen se produkte of goedere is ontvang en uitgedeel.

Die Solidariteit Beweging het toe ook die Krisisfonds gevestig om die maatskaplike nood, wat as gevolg van die Covid-19-krisis ontstaan het, te verlig. Die fonds word deur Helpende Hand bestuur en word onder meer ondersteun deur AfriForum, die vakbond Solidariteit en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK). Die fonds is tot dusver met meer as R26 miljoen deur Suid-Afrikaners versterk, en moet nie met die regering se Solidarity Fund verwar word nie.

Noëth benadruk dat Helpende Hand die beginsel volg om “reg te gee” in die wete dat mense gerus kan wees dat dit wat hulle ook al skenk, reg uitgedeel en aangewend gaan word om die werklike nood volhoubaar te help verlig.

Hy verduidelik die naam van die projek spruit uit die Bybel – toe Josef opdrag gekry het om tydens die sewe jaar van oorvloed in Egipte kos bymekaar te maak en te stoor vir die sewe jaar van hongersnood wat sou volg.

“Die uitdagings wat ons beleef begin nou eers. Die huidige kostekort kan nog ʼn wyle duur totdat die hoofweë beveilig en winkels herbou is. Dus versoek ons die publiek om te help waar hulle kan, maar om reg te help en die regte kanale te gebruik om dit te doen,” sê Noëth.

Hy sê Helpende Hand maak ook gereed om met hulp uit te reik, sou daar noodtoestande in ander provinsies weens die onluste ontstaan.

  • Besoek www.josefsilos.co.za om met jou Helpende Hand-verteenwoordiger in jou streek kontak te maak om te reël vir ʼn kosskenking. Mense wat kontant wil skenk, kan die Krisisfonds besoek by www.helpendehand.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Manda ·

So, ons regering verkies om stil te bly, met blote ‘miskiene’ waar mense moontlik dalk onluste aangehits het. Maybes, perhaps’s, ifs help niks nie. Waar is government waneer die gewone man op straat swaarkry?

Blomme ·

Sjoe.. Het ons ooit kon dink dat ons ń Zimbabwe situasie in die gesig sal staar.. SWAK uiters SWAK. Aanduiding van swak leierskap. Die ANC se tyd het uitgeloop. Liewe Heer bring asb ń verandering in ons dierbare land.

Paul ·

Ek sal paar sente skenk – op voorwaarde – slegs vir Blankes!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.