OVK moet ANC ondersoek wat kiesers oor elektrisiteit mislei

ANC-se-vlag-deur-ANA

(Argieffoto: ANA)

Die Demokratiese Alliansie meen die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) moet ondersoek instel oor die ANC wat misleidende inligting versprei aan kiesers oor elektrisiteitsverspreiding in Johannesburg.

Maroela Media het vroeër berig die ANC in die Groter Johannesburg-streek het ʼn verklaring uitgereik wat beweer dat Stad Johannesburg ʼn kragaankope-ooreenkoms met Eskom aangegaan het “wat die stad in staat sal stel om Eskom-buurte oor te skakel na City Power”.

Volgens die verklaring sal die ooreenkoms “verseker dat elektrisiteit, wat in grootmaat by Eskom aangekoop word, die stad se elektrisiteitsverspreider, City Power, in staat stel om veilige en betroubare verspreiding van elektrisiteit aan die inwoners van Johannesburg kan verskaf”.

Sikonathi Mantshantsha, Eskom se woordvoerder, het egter gesê dié nuus is vals.

Dada Morero, sekretaris van die ANC in die streek, het later gesê die ooreenkoms is met die privaat Kelvin-kragstasie aangegaan, nie Eskom nie.

Kevin Mileham, die DA se skaduminister van minerale hulpbronne en energie, sê die ANC is só desperaat om die publiek se aandag van beurtkrag af te lei dat hulle nou skynbaar op leuens en waninligting staat maak.

“Die OVK het ʼn plig om ondersoek in te stel en sanksies toe te pas teen politieke partye wat vals nuus publiseer,” sê Mileham. “Hierdie blatante leuen deur die ANC moet veroordeel word en dit wys hoe laag die organisasie bereid is om te daal om vas te klou aan mag.”

Mileham sê anders as die ANC kry die DA-geleide munisipaliteite sake gedoen wat elektrisiteits-onafhanklikheid betref. “Die Wes-Kaapse provinsiale regering het in Julie memorandums van verstandhouding onderteken met ses kandidaat-munisipaliteite wat deelneem aan die munisipale energieweerstandigheidsinisiatief in die provinsie. Die Wes-Kaap en sy munisipaliteite is goed op pad om inwoners te bevry van Eskom se greep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Philip ·

Elktriesiteit is in 1993 deur Eskom van die Soweto Munisipaliteit oorgevat weens wanbetaling en met die intrapslag was die vereiste van swart partye en faksies dat die reuse bedrae aan Eskom afgeskryf word As a gesture of goodwill .Die destydse Soweto munisipaliteit het die ou Wesrandse Administrasie raad vervang juis omdat die laasgenoemde maar n betreurenswaardige invorderings vermoe gehad het. Dit hou nie verband met die lewering van ekstra vermoe van die Kelvin kragstasie dit is 2 verskillende aangeleenthede maar soos ek verstaan wil Eskom handdoek ingooi met Soweto en dit na JHB munisipaliteit oorgee met natuurlik in die proses weer n afskryf van skuld.

Kokerboom ·

Sou afskrywing plaasvind(WEER) dan is dit darem UITERS onregverdig teenoor pligsgetroue verbruikersbetalings

Johann ·

Maar hoe dan nou? Is als nie vorniet en graates vir “the people” nie? Howk? Nou julle wil hê the people moet potaal?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.