Pa geskiet toe hy troeteldier inbring

Abel en Lizelle Pienaar. (Foto: Facebook)

Abel Pienaar (42), ʼn rekenmeester en pa van drie, is in intensiewe sorg nadat hy vroeg Saterdagoggend deur ʼn rower in sy huis in Rustenburg geskiet is.

Pienaar se vrou, Lizelle (41), het aan Maroela Media gesê haar man het laat gewerk toe hy omtrent 02:30 Saterdag gesien het die gesin het hul budjie buite vergeet. Hulle woon in ʼn veiligheidskompleks in Rustenburg.

“Hy het opgestaan om die voëltjie in te bring en toe hy terug is in die huis, staan die rower daar in die sitkamer.”

Die rower het ʼn vuurwapen uitgepluk en op Abel geskiet. “Die eerste skoot was mis en die rower het uit die huis gevlug. Abel wou ons beskerm, toe hardloop hy agterna om seker te maak die rower is uit die erf.” Die rower het egter buite die huis omgedraai en ʼn tweede skoot afgevuur, wat Abel bokant sy naeltjie in sy maag getref het.

Lizelle was bo in die huis by haar drie kinders, onderskeidelik 19, 14 en 10 jaar oud, toe sy die skote hoor. “Dit is die aakligste klank wat jy ooit sal hoor. As ek nou my oë toemaak, hoor ek nog steeds daardie geluid,” sê Lizelle, naby aan trane.

Die egpaar se 19-jarige seun is uit die kamer om hul pa te help, en het op hom afgekom waar hy op die stoep lê. “Mamma, kom help, pappa is geskiet,” het hy na sy ma geroep.

“Ek het my man en die kinders in die kar gelaai en hospitaal toe gejaag,” vertel Lizelle. “Ek kon hulle nie alleen by die huis los nie.”

Volgens Lizelle verkeer Abel in ontsettende pyn en word tans onder verdowing gehou. “Sy dunderm is beskadig en die koeël het sy pelvis versplinter. Maar die dokter is baie positief dat hy sal herstel ná die tweede operasie môre [Maandag]. So ons bid en glo hy gaan oukei wees,” sê Lizelle.

Kapt. Elsabé Augoustides, polisiewoordvoerder in Rustenburg, sê drie rowers het aanvanklik by die huis langs die Pienaars ingebreek en ʼn klomp elektriese toestelle gesteel. “Een van die seuns in die huis het egter wakker geword en die rowers het gevlug. Een van hulle moes toe oor die Pienaars se muur gespring en gesien het die skuifdeur is oop,” sê Augoustides.

Sy het aan Maroela Media bevestig dat ʼn saak van huisroof, diefstal en poging tot moord ondersoek word. “Enigiemand met inligting oor die voorval moet asseblief vir ao. Jannie van der Walt by 082 772 9226 kontak.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

ElizeK ·

Nêrens meer veilig nie. Nie eers in n veiligheids kompleks nie. Ons het vriende wat spog hoe hulle alles ooplos , want “ons woon in n veiligheidskompleks” Ek vertrou hulle lees die nuusberig.

Cherokee ·

Ek dink daar s mense wat ‘n kompleks agter ‘n valhek (boom gate) as ‘n veiligheidskompleks beskou.
Terloops, @ 41jr oud, lyk Lizelle ongelooflik jonk! Sy moet die geheim deel.

Magda ·

Regtig – Jaloers – wie se die foto is NOU geneem. Sterkte aan haar man en hoop hy herstel ten volle. SHAME ON YOU

Oujongvrou ·

Ai man, hoe kan jy na hy klaar op jou geskiet het agter hom aanhardloop. Moes dadelik die deur gesluit het.

Pieter J ·

Ja Oujongvrou ek stem saam met jou. Dit is ongelooflik hoe kinderlik naief die publiek omtrent hierdie situasies is. Mense wat nie opgelei is in die gebruik van vuurwapens besef nie hoe gevaarlik dit in die verkeerde hande is nie. ń Mens kan net hoop hiedie man herstel volkome. Hy en sy gesin is almal nog so jonk.

Sarel ·

Weer ‘n sogenaamde ” Veiligheudkompleks”
Laat ons in simpatie by die gesin staan

Bre ·

Tydsberekening was so verkeerd. Geen plek is meer veilig in SA nie en dis n skande!!!

ES ·

Ek hoop hy herstel volkome. Dit was nie die beste idee om agter die rower aan te hardloop nie maar ek moet Abel prys vir sy dapperheid om agter die booswig aan te hardloop nadat daar alreeds op hom geskiet was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.