ʼn Pa van Johannesburg het verdrink toe hy sy dogter uit die see by Port Edward in KwaZulu-Natal probeer red het.
Die voorval het omstreeks 08:55 by Peter Pan-strand plaasgevind, het Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), gesê.
ʼn Jong meisie het in die moeilikheid beland terwyl sy in die see geswem het waarna haar pa en ma in die water ingegaan het om haar te probeer help. Volgens Lambinon het ʼn branderplankryer en ʼn swemmer die gesin ook probeer help nadat die ma en pa ook in die moeilikheid beland het.
“Die ma en dogter is in die rigting van rotse getrek waar die branderplankryer hulle gehelp het voor lewensredders hulle na die strand geneem het. Hulle is nie beseer nie.”
Die pa is intussen ook uit die water gehaal en paramedici het onmiddellik noodbehandeling op hom begin toepas. Hulle kon egter nie daarin slaag om hom weer by te bring nie en hy is kort daarna op die toneel dood verklaar.
Volgens Lambinon was die pa vermoedelik 40 jaar oud. Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek. Die NSRI het sy medelye met die oorledene se familie betuig.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
Hierdie is tragies en baie hartseer.
Mense moet uiters versigtig wees vir die see, veral as jy nie bekend is met die soesifieke strand of baai nie. Ons het elke Desember by my Ouma en Oupa op Vleesbaai gaan kuier. My Oupa het altyd gesê: Die see is nie jou speelmaat nie. Ek is al ‘n grootmens, maar sy woorde bly by my elke keer as ek in die see ingaan.
Hierdie Pa het die hoogste prys van ouerskap betaal. Hy is ‘n held. Hy het waarskynlik nie vir ‘n oomblik aan sy eie lewe gedink nie. Baie sterkte aan die gesin. Mag God julle dra in hierdie tyd.
So jammer.
Hartseer,so het n gelukkige gesinsvakansie in n tragedie verander,mag God hierdie ma en dogter styf vashou.