Panyaza Lesufi nou die premier van Gauteng

Panyaza Lesufi (Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Panyaza Lesufi is Donderdag tydens ʼn spesiale sitting van die Gautengse provinsiale wetgewer aangewys as premier van Gauteng.

Lesufi was die LUR van onderwys in die provinsie. Hy is as premier verkies deur 38 stemme teenoor die 22 stemme vir Solly Msimanga (Demokratiese Alliansie) op hom te vestig. Die EFF het uitgeloop voor die verkiesing plaasgevind het.

“Die tyd het aangebreek om die aflosstokkie oor te gee in ʼn span wat meer as twee dekades gelede begin het met Tokyo Sexwale, Mathole Motshekga, Mbhazima Shilowa, Paul Mashatile, Nomvula Mokonyane en David Makhura,” sê Thembinkosi “TK” Nciza, provinsiale sekretaris van die ANC. “In premier Lesufi het ons iemand wat die mense dien en homself onderskei het as ʼn betroubare en doeltreffende instrument in die hande van die ANC om die lewens van al ons mense te verbeter.”

Maroela Media het vroeër berig David Makhura het Dinsdag bedank. Hy was meer as agt jaar premier van Gauteng. Makhura het gesê hy het deeglik met die leierskap van die ANC beraadslaag oor wanneer die beste tyd sal wees om uit te tree om ʼn gladde oorgang te verseker wat in die beste belang van Gauteng en sy inwoners sal wees.

(Foto verskaf deur die ANC)

Volgens Nciza is Lesufi se taak as die provinsiale voorsitter van die ANC in Gauteng om die gehalte van mense se lewens in die provinsie te verbeter en om dringend te reageer op die onmiddellike uitdagings waardeur mense in die gesig gestaar word – insluitend werkloosheid en misdaad. “Misdaad in Gauteng, insluitend gewelddadige misdaad, het onaanvaarbare hoë vlakke bereik. Sy onmiddellike taak is om Gauteng te red uit ʼn greep van misdadigers en bendes en om ons townships terug te neem van kriminele elemente wat ons mense in vrees laat leef.”

Die ANC het voormalige premier David Makhura bedank vir sy leiding die afgelope agt jaar.

Intussen het Solly Msimanga, leier van die DA in Gauteng, sê inwoners in die provinsie kan uitsien na dieselfde tipe dienslewering onder premier Lesufi. “Ons verwag nie dat Lesufi enigiets anders gaan doen nie. Gautengse inwoners gaan steeds ly onder die leierskap van die ANC. Korrupsie sal onverpoosd voortgaan en daar sal geen waarde vir geld wees wanneer tenders toegeken word nie.”

Msimanga sê, net soos Makhura nie in staat was om beleide uit te voer of in te stel wat die lewens van inwoners verbeter het nie, sal Lesufi ook deur sy politieke meesters geblok word. “Hy sal nie in staat wees om strategiese besluite te neem wat tot voordeel strek van die inwoners van ons provinsie nie.”

Volgens hom moet Lesufi seker maak dat alle leefstyloudits voor die einde van die jaar afgehandel word en dat beamptes aanspreeklik gehou word wat in die PPE-tenderskandaal geïmpliseer is, as hy verbind is daartoe om te verander hoe die provinsiale regering sake doen.

“As Lesufi boonop regtig verbind is daartoe om ʼn nierassige en nie-gesegregeerde Gauteng te bou, moet hy in die openbaar sy vorige verdelende uitlatings oor Afrikaans in skole veroordeel. Dienslewering sal bly ly onder die leierskap van die ANC-geleide Gautengse regering. Ons inwoners het die mag om die huidige ANC-regering te vervang en vir ʼn bekwame DA-regering in 2024 te stem wat beter dienste sal lewer en lewens sal verbeter.”

Anton Alberts, nasionale voorsitter van die VF Plus, meen die verkiesing van Lesufi as nuwe premier is die begin van ʼn nuwe fase in die VF Plus se stryd om te sorg dat Lesufi en die ANC tot die opposisiebanke gerelegeer word ná die 2024-verkiesing.

“Die VF Plus sal alles in die stryd werp om dit reg te kry deur die maksimum stemme onder minderhede in die provinsie te werf deur Lesufi te ontbloot vir die swak leier wat hy is. Die kanse is goed dat die ANC onder 36% sal val in die 2024-verkiesing, veral met dié rasse-demagoog as leier.”

Alberts sê die VF Plus sal dan as stabiele koalisievennoot die kern vorm om al die redelike opposisiepartye saam te snoer in ʼn koalisieregering wat die ANC kan vervang.

In sy premierstoespraak het hy groot gewag gemaak van beter dienslewering en die uitwis van armoedige informele nedersettings. Die VF Plus het daarop gereageer deur te sê dat die ANC byna 30 jaar gehad het om dit te doen en daardie toets oortuigend gedruip het.

“Lesufi se toespraak was oninspirerend en het niks nuuts op die tafel geplaas om die mense van Gauteng hoop te gee nie. Hy het eerder klem gelê op sy struggle-verlede. Daar was geen breë uiteensetting van die probleme van die provinsie en hoe dit aangepak gaan word nie. Nog minder enige daarstelling van ʼn visie vir die provinsie. Lesufi het bloot sydelings teruggeval op die ou 2030 ANC-plan wat duidelik nie gewerk het nie.”

Alberts sê hierdie swak premierstoespraak was ʼn goeie aanduiding van die gebrek aan visie en energie waarmee Gauteng onder Lesufi bestuur gaan word.

Die VF Plus begin nou in alle erns voorberei vir die ontseteling van die ANC in Gauteng in 2024.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Anel ·

Hy kon net die bestaande Afrikaanse skole skade doen. Hoeveel het hy gebou? Nou wil hy ‘n provinsie regeer? Ag, asseblief! Van watter planeet kom die rasistiese pateet? As ons iets wil gedoen hê, sal ons dit maar self doen!!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Self doen is goed, maar kos geld. En jy moet steeds die heersers betaal.

Delia ·

Dankie vir die politici wat nog baklei teen die ANC en nie net boedel oorgee

H.A. ·

Die comrade beweging sorg net vir die kamerade van die verlede.

Republikein in die Wes Kaap ·

Gedeeltes van die Wes Kaap is ligjare beter as Gauteng, ten minste vir nou.

Nicholaas ·

Dit is n ramp, as ek iets verder se gaan dit lelik wees.

Leon ·

Dankie tog ons bly nie meer in Gauteng nie. Dink net aan watse dodelike kombinasie Eskom en Lesufi gaan maak

Gertdup ·

Hier kom moeilikheid vir ons paar afrikaners wat nog uithou in die land.ons moet nou ????????????die anc word in 2024 uit gestem

Anton ·

Nou kan ons uitsien na die kern van ons ekonomie in dieselfde toestand as ons skole

Lood ·

Dis hartseer dat iemand wat so erg onbevoeg is in so ‘n posisie beland.

Hendrik ·

As iemand stadig ry op die snelweg dan sit jy net jou flikker aan en gaan verby. Ons moet onsself steur aan eie sake wat belang is die gemeenskap waarin jy woon. Indien jy nie in so gemeenskap woon nie skep so ‘n gemeenskap of trek na so gemeenskap. #OnsSalSelf

Piet 6 ·

Almal in Gauteng sal seker nou moet aansoek doen vir ń blyplek en dan word jy in ń huis geplaas deur foutiewe stelsel wat deur korrupsie bekom is!

Vonkprop ·

Is nie juis verbaas nie. Die ANC is bekend vir swak besluitnemings so hulle bou maar net voort op hulle legacy. Die ANC het al soveel geleenthede gehad om hulle reputasie goed te doen deur bevoegte mense aan te stel, maar elke liewe keer besluit hulle op die swakste opsie wat hulle het. Is die talent dan so swak in die hele ANC?

Keelvol ·

Was daar ooit n provinsiale verkiesing gewees waar hy ingestem was? Want duidelik het ek daardie verkiesing iewerste gemis.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ongelukkig werk die verkiesingstelsel nie so nie. Politici kom en gaan tussen verkiesings.

Marelize ·

Ek weet nie waaroor glimlag die 3 nie? Het julle 3 gesien wat gaan in die land aan? Glimlag julle omdat julle nie kan wag om in te spring en dinge reg te ruk nie of kan julle nie wag om deel te wees van die huidige gemors nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.