Paramedici met messe aangehou, beroof

Argieffoto: ER24

Argieffoto: ER24

Vier paramedici is Woensdag in twee afsonderlike voorvalle met messe aangehou.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê twee paramedici het omstreeks 11:00 ʼn motor in die baan vir aankomende verkeer gesien ry naby Christiaan de Wet-rylaan in die weste van Johannesburg. “Die motor het oomblikke later in die ambulans vasgery. Lede van die publiek het by die toneel stilgehou en aangedui dat dieselfde motor ook teen verskeie ander motors gebots het.”

Volgens Vermaak het die paramedici die man in die motor genader om uit te vind of hy beseer is. “Die man het uit die motor geklim en ʼn mes uitgepluk. Die twee paramedici het teruggetree terwyl die man voortgegaan het om hulle te dreig. Die paramedici kon gelukkig daarin slaag om hulself te verdedig terwyl hulle op die polisie gewag het.”

Die polisie het kort hierna op die toneel opgedaag en die man in hegtenis geneem.

In ʼn afsonderlike voorval is paramedici van ER24 in Durban van hul persoonlike besittings beroof terwyl hulle na ʼn pasiënt in KwaMashu omgesien het. Volgens Vermaak het paramedici ʼn man behandel by ʼn dokter se spreekkamer vir borspyn. Een van die paramedici het die man in die ambulans gelaai terwyl die ander een die rolstoel na die spreekkamer teruggestoot het.

“Mense het begin skree dat die paramedikus buite aangerand word. ʼn Groep van ses jong mans het die sakke van die paramedikus se uniform oopgeskeur om by sy beursie uit te kom. Die mans het ook twee selfone uit die ambulans gesteel en die radiostelsel wat gebruik word om noodvoertuie te ontbied uitgeruk voordat hulle gevlug het.”

Volgens Vermaak het die paramedici voortgegaan om die pasiënt te behandel en na ʼn nabygeleë hospitaal te vervoer voordat hulle die voorval by ʼn plaaslike polisiestasie gaan aanmeld het.

Vermaak het gesê geen van die paramedici is tydens die voorvalle beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Krisjan Fourie ·

Die tipping point is op ons. As die lewensredders aangeval word, moet ons onsself vergewis met wat die psige is waarmee ons werklik mee deal hier. Dis erger as politiek. Dis ‘n dier met ‘n honger kyk. Wat nou?

Piet Pompies ·

Dit wil voorkom of heelwat mense se lewens bestaan in 1983 opgehou het, 33 jaar later is alle positiewe lewens bestaan weg geneem en hulle hele bestaan gaan oor die blamering van ander. Glo my, daar is ‘n beter lewe daar buite.

Han ·

Doring, ag magtig man, hou tog nou op teem oor de Klerk en die ja-stem! Kom by!

grietje ·

Dis nou stank vir dank,wie gaan daai gemeenskap weer wil help in ñ noodgeval

Grap ·

Dit is duidelik dat dinge nou vinnig vererger net wanneer ek dink dit is die ergste wat ek gesien het gebeur iets erger soos die voorval

Amanda Van Vuuren ·

Dis nie erg nie! dis flippen disgusting, wreed en barbaars!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.