Parate inwoners help ‘skotteldiewe’ vastrek ná wilde jaagtog

Die verdagtes by die bakkie wat gerol het. Foto's: Verskaf.

Die verdagtes by die bakkie wat gerol het. Foto’s: Verskaf.

Te danke aan die optrede van parate inwoners en ʼn plaaslike veiligheidsmaatskappy is vier verdagtes Woensdagaand vasgetrek ná ʼn wilde jaagtog deur die strate van Kempton Park aan die Oos-Rand.

Volgens Dwaine Hansen (25), ʼn beampte van Alpha Security & Alarms se misdaadbekampingseenheid, was twee van hul kliënte, slegs bekend as Coenie en Susan, omstreeks 20:30 van ʼn restaurant op pad huis toe, toe hulle ʼn huisbraak in Glen Marais sien plaasvind het.

“Susan het my gebel en gesê hulle jaag agter ʼn silwer bakkie aan wat pas ʼn DStv-skottel by ʼn huis in die omgewing gesteel het,” het Hansen Donderdag aan Maroela Media gesê.

Hansen was met die vrou in verbinding en het hom in sy reaksievoertuig na die gebied gehaas waar die egpaar op die hakke van die verdagtes was.

“Ek was sowat ʼn kilometer van hulle af toe die bestuurder beheer oor die bakkie verloor het. Hy het teen ʼn randsteen vasgery, waarna die bakkie gerol het,” het Hansen gesê.

Twee verdagtes het uit die bakkie geklim en van die toneel weggehardloop. Twee is beseer en het op die toneel agtergebly. Die bestuurder van die bakkie het ernstige beserings opgedoen en die ander man is matig beseer.

Ondersteuning was kort daarna op die ongelukstoneel. Die beseerdes is aangehou totdat beamptes van die Ekurhuleni-metropolisie opgedaag en hulle in hegtenis geneem het.

Hansen en Coenie het intussen die twee mans wat gevlug het agternagesit en sowat 300 meter van die ongelukstoneel af vasgetrek.

Volgens Hansen het die verdagtes drie DStv-skottels in die bakkie gehad. Daar het ook talle plakkate om die wrak rondgelê wat DStv-installasies adverteer.

Buiten die DStv-skottels het die mans sowat agt selfone en vier voertuie se sleutels in hul besit gehad. Daar word vermoed dat die mans lukraak DStv-skottels by huise steel om weer by ander huise te gaan installeer.

Die Kempton Park-polisie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Antoinette ·

Goed gedaan! Dankie dat julle help om ons hopelose polisie se werk te doen.

Landie ·

Goeie werk!!! En so dankbaar dat niemand van die goeie mense seergekry het nie!! Die boewe moet maar weet ons gewone burgers is nou net mooi dik vir julle, en ons sal julle aanvat as die polisie dan nou te slapgat is om dit te doen!! Hoera!!!!!!!!!!!!!

neelsie ·

Dat n ou se besigheid nou so moet ondergaan…..haha
Dis hoe dit gedoen moet word.

Tiny du Preez ·

Knap gedaan!! Ons kort beslis meer sulke paraat mense in ons gemeenskappe.. Iemand het nie dalk gesien wie die blikslaers is wat vanoggend my hek motor gesteel het nie?

Isabel Rossouw ·

Knap gedaan pragtig en baie dankie ons het meer van julle mense nodig om ons land van ondergang te red!! Almal moet saamstaan en die wat van ander sommer net wil steel aan die pen laat ry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.