Parlement: ‘Staatsrede sal nie ontwrig word’

EFF-LP’s word tydens ‘n vorige geleentheid uit die parlement verwyder. Foto: Jacaranda/Twitter

Die voorsittende beamptes van die parlement het die versekering gegee dat daar toepaslike meganismes is om “dekorum en waardigheid” te behou tydens die staatsrede.

Pres. Cyril Ramaphosa sal Donderdagaand sy staatsrede lewer en die EFF het reeds te kenne gegee dat hy die verrigtinge sal ontwrig indien Ramaphosa nie teen daardie tyd vir Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, die trekpas gegee het nie.

Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, het gesê die gesamentlike reëls van die parlement beskerm die sittings voldoende teen wanorde.

“Openlike dreigemente om die werk van die parlement te ontwrig, insluitend die verspreiding van samesweringsteorieë, is nie in die belang van die publiek nie. Dit dien slegs as pogings om die parlement se aandag van sy werk af te trek,” het Mothapo gesê, oënskynlik met verwysing na Julius Malema, EFF-leier, se uitlatings.

Malema het beweer daar word geheime vergaderings in die parlement gehou met die doel om ʼn “sameswering” te koördineer waarvolgens polisielede in die parlement “ingesmokkel” sal word as parlementêre veiligheidsbeamptes.

Julius Malema (Desember 2019) (Foto: EFF/Twitter)

“Die EFF sal nie geïntimideer word nie en ons sal die uitvoerende gesag verantwoordbaar hou.” Malema het verder ʼn waarskuwing aan Ramaphosa gerig: “Hy moet versigtig wees dat die skuld wat hy het aan Gordhan hom nie laat misluk om die mense van Suid-Afrika en die ekonomie eerste te stel nie.”

Volgens Malema sal die EFF ook met Ramaphosa afreken soos wat hulle met die “grondwetlike oortreder en die korrupte Zuma” afgereken het indien hy ʼn postuur van wetteloosheid en kriminaliteit aanneem.

Mothapo het politieke partye of LP’s genooi om die voorsittende beamptes van die parlement te nader indien hulle enige bewyse van ʼn beweerde sameswering het om onwettig die polisie te gebruik tydens die staatsrede.

“Suid-Afrikaners word deur ʼn verskeidenheid sosio-ekonomiese probleme in die gesig gestaar. Die parlement en openbare verteenwoordigers is verplig om ʼn bevorderlike omgewing vir die staatsrede te verseker aangesien die staatsrede ingrypings uiteensit om hierdie ontberings te pak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Foefie ·

Ja, wys vir daai clowns ‘n kamera en hulle raak hul boompies kwyt.

Bloedhond ·

Ek is slag gereed. Pepsi Popcorn en Peanuts kannie wag nie.

Jannie van Niekerk ·

Gelukkig sal die mal onderkorporaal en sy ongedissiplineerde troepe verwyder word voordat hulle weer Kragafrika se naam bollie maak….

Jaco ·

Hoe langer die EFF van die ANC verskil, hoe langer word onteiening sonder vergoeding uitgestel.

Magda ·

Hou die EFF HEELTEMAL uit die STAATS rede uit, as hulle – hulle wil gedra soos onopgevoede gemors veriden hulle in die eerste plek NIE om daar in te gaan nie. HOU HULLE UIT

Colombo ·

Ongelukkig skep die hansworsstreke n baie swak beeld in die buiteland.SA kan nie verdere negatiewe beriggewing bekostig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.