Party sal subsidiebetalings aan kinderhuise ondersoek

(Foto: Verskaf)

Die VF Plus sal in die komende jaar ʼn volle ondersoek doen rondom die kriteria wat deur die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling toegepas word rakende staatsubsidies aan kinderhuise.

Die VF Plus moes ʼn week gelede intree nadat die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuise in Pretoria nie betyds hul subsidies ontvang het nie.

“Ná ʼn skrywe aan die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Mbali Hlope, is die agterstallige geld betaal,” sê Amanda de Lange, VF Plus-LPW in Gauteng. Ander kinderhuise in Gauteng sukkel ook om ʼn volle subsidie vir die aantal kinders in hul sorg te ontvang.

“Dit is onregverdig van die departement van maatskaplike ontwikkeling om geld laat aan kinderhuise te betaal. Dit veroorsaak yslike finansiële probleme en kinderhuise moet dan staatmaak op die finansiële hulp van private persone en organisasies.”

De Lange sê die party sal die situasie noukeurig dophou en weer druk op die departement toepas indien subsidiegeld van die vierde kwartaal (Januarie, Februarie en Maart 2023) nie betyds oorbetaal word nie.

Maroela Media het vroeër berig die twee kinderhuise het, nadat die subsidiebetaling vertraag is, besluit om die gemeenskap om hulp te vra en meer as R200 000 en allerlei goedere ter waarde van R180 000 is vroeg in Desember deur lede van die gemeenskap aan die kinderhuise geskenk.

“Ons is verlig en dankbaar,” het Charlene Grobler, hoof- uitvoerende beampte van die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis in Pretoria, aan Maroela Media gesê. Die departement van maatskaplike ontwikkeling moes reeds teen einde September die sowat R6 miljoen-subsidie aan die kinderhuise betaal het.

“Danksy die media se beriggewing was daar ʼn oorweldigende positiewe reaksie van die gemeenskap en ons is van ʼn krisis gered,” het Grobler bygevoeg.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het eers aandag gegee aan die kinderhuisnavrae nadat daar oor die subsidiekwessie in die media berig is, aldus Grobler. “Die departement het gevolglik belowe dat die subsidie teen 9 Desember betaal sou word, maar dit het nie gebeur nie.” Ná verdere navrae deur die kinderhuise is die subsidie uiteindelik op 13 Desember uitbetaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.