Partye teen EFF se voorstel om parlement te skuif

Die gebou van die Nasionale Vergadering op die perseel van die parlement in Kaapstad. (Foto: Verskaf)

Verskeie partye is teen die EFF se jongste voorstel om die parlement van Kaapstad na Pretoria te skuif. Die hoofrede is dat dit bloot net te duur sal wees om dié skuif te regverdig.

Die EFF-leier Julius Malema het vandeesweek in die Nasionale Vergadering ʼn private wetsontwerp voorgestel om die setel van die parlement na Tshwane te skuif.

Die ANC, DA en die VF Plus het egter hierdie voorstel summier verwerp weens die koste hieraan verbonde.

“Die EFF gee altyd hoog op oor sy besorgdheid oor gewone werknemers. Met hierdie voorstel word dit geïgnoreer,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Die sittings van die Nasionale Vergadering is sedert die Covid-19-pandemie en daarna die verwoestende brand by die parlementsgebou verlede jaar erg ontwrig.

Die ANC se Hope Mankwana Papo het in die kortstondige debat oor die wetsontwerp gesê dat daar geen rede is om meer geld te bestee om die hele parlement te skuif nie.

Die parlement word wetlik verplig om alle beskadigde erfenisgeboue te herstel, daarom is R2 miljard begroot om dit te doen.

“In hierdie moeilike ekonomiese klimaat sal dit hoogs onverantwoordelik wees om geld te bestee om die beskadigde parlementsgebou te herstel en dan daarna dit te verlaat om na Gauteng te skuif,” sê sy.

Sy voer aan dat die EFF se “irrasionele” afsku vir die Wes-Kaap en sy inwoners “asof hulle nie ook deel van Suid-Afrika is nie” is geen rede om nog meer geld te bestee nie.

Die VF Plus wys daarop dat benewens die fisieke skuif na Gauteng, dit ook nodig sal wees dat die parlement se personeel en hul gesinne, wat reeds in Kaapstad woonagtig is, moet verhuis.

Die parlement het sowat 1 300 werknemers. Saam met die amptenare waarskynlik sowat 2 000.

“Hierdie [aspekte] word hoegenaamd nie eers in die wetsontwerp verreken nie,” sê Groenewald.

“Hierdie persone is boonop nog nie eens geraadpleeg om hul gedagtes oor die saak te hoor nie,” sê Papo.

Die partye wat teen Malema se voorstel is, sê die parlement se komitees kan steeds op ʼn hibriede metode hul werk voortsit totdat die parlementsgebou ten volle herstel is.

Die ANC sê ook gegewe die ander belangrike sosiale en ekonomiese prioriteite in die land is hierdie voorgestelde wetsontwerp baie laag op die prioriteitslys.

“Ons ondersteun hoegenaamd nie hierdie voorstel nie,” sê Papo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.