Pensioenfondse: ‘Moenie oorhaastig optree ’

Solidariteit waarsku dat hy nie gaan toelaat dat sogenaamde pensioenkaping plaasvind nie. (Argieffoto: pixabay)

Die vakbond Solidariteit het werkers aangemoedig om nie nou oorhaastig op te tree en te bedank om toegang tot hul pensioenfonds te kry voordat die staat sy hande daarop kan lê nie.

“Ons moet eerder saam staan en druk op die staat plaas om te verhoed dat wetgewing verander word om die staat toe te laat om jou pensioengeld te gebruik,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond. Solidariteit het Dinsdag ʼn paneelbespreking gevoer om lede van die publiek in te lig oor die regering se planne met pensioenfondse en ook wat lede van pensioenfondse te doen staan om te verhoed dat hul hardverdiende geld verlore gaan.

Tito Mboweni, minister van finansies, het verlede week tydens sy begrotingsrede gesê hy steun die voorstel dat nie net staatspensioene nie, maar private pensioenfondse ook gebruik word om Eskom se massiewe skuldrekening te delg.

Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group, sê dit is ʼn desperate poging deur die regering om aandag te gee aan die fiskale tekort in die begroting, aangesien daar geen ander manier meer is om die staat se inkomste aan te vul nie. “Die ander opsie is om uitgawes te verminder deur salarisse te sny, maar die vakbonde gaan dit nie toelaat nie. Nou wend die regering hom tot die laaste goud pot wat nog beskikbaar is.”

flip-buys-tweede-groot-trek-02

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. (Foto: Reint Dykema)

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê die pensioenfondsbedryf in Suid-Afrika is baie sterkter as in baie Westerse lande. Hier maak dit ongeveer 73% van die ekonomie uit, terwyl dit in byvoorbeeld Duitsland net 11% van die ekonomie uitmaak,” sê Buys.

“Dit is verreweg Suid-Afrika se grootste bate en verteenwoordig die pensioen van 17 miljoen mense ter waarde van R4 triljoen. Noudat die staat belastinggeld opgebruik het, wil hulle pensioengeld gebruik om staatsondernemings te subsidieer, sonder enige aanduiding dat hulle beleid gaan verander om die entiteite reg te ruk.”

Roodt meen die gemeenskap moet nou saamstaan en druk op die regering plaas om die staatspensioenfonds van ʼn gewaarborgde inkomstefonds na ʼn bydraende fonds om te skakel. “Mense moet dan toegelaat word om groot gedeeltes van hul geld belastingvry uit die fonds te onttrek en beheer te neem oor hul eie spaargeld.”

Hermann sê ook omdat pensioenfondse steeds ʼn statutêre plig het om sy mandaat uit te voer, naamlik om in belang van die lede van die fonds op te tree, glo Solidariteit hy het baie sterk gronde om regsaksie te neem, sou die fonds hierin versuim.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Wilhelm ·

Nee, bedank, vat jou geld, en neem jou toekoms in jou eie hande. Probeer so ver as moontlik om al jou bates bestand te maak teen die staat, aanvaar dat hulle al jou bates gaan probeer vat, neem jou besluite daarvolgens.

Kietsie ·

Makliker gesê as gedaan. Waar kry jy ander werk om na jou gesin se daaglikse behoeftes om te sien. Dan ook om te bedank beteken jy verloor van jou pensioen gelde en as jy die dag nie meer kan werk nie wie gaan vir jou sorg. Gaan jy ook maar backhand voor SASSA staan en met die bietjie oor die weg probeer kom. Maar dit bly elkeen se eie besluit en niemand kan ‘n ander oordeel oor sy/haar besluit nie

Jan ·

Die grootste denkbare druk moet ingespan word om hierdie stroping van pensioenfondse te stuit. Hierdie is nou die tyd vir almal in die land om saam te staan.
GEPF lede moet nou organisasies soos Solidariteit en AMAGP ondersteun om totale bankrotskap te vermy.

Belinda ·

Stem saam Jan, almal moet saamstaan en nie laf raak, om te bedank en jou werk vir altyd te verloor gaan jou in ellende bring, staan liewer saam en behou jou werk en pensioen.

Phillip ·

Ek kan nie bedank nie het n hius en n seun om teversorg en is nog jonk ook het nog 22 jaar oor voor ek kan aftree moet maar toe kyk hoe my geld verby my vlieg goud pot toe (:-((

Jan ·

Ek wag nou al 3 maande vir myne. Maar dankie tog dan is ek ook uit

Louis ·

Klink vir my na ‘n catch 22 – senario. Ek weet “as” is verbrande hout, maar veronderstel dit is die laaste uitweg om Suid-Afrika se kantelpunt te vermy en almal in die land in armoede te dompel, wat dan? Gelukkig weet ons ook wat ‘n drenkeling maak as jy hom probeer red. So die reddingsboei moet groot genoeg wees om ALMAL te red anders sink ons saam. Hofsake gaan nie die kantelpunt keer nie. Dawie se voorstel klink goed op papier, maar gaan dit die realiteit van Suid-Afrika aanspreek?. 50% Mense in Suid-Afrika leef reeds in armoede ook die wat pensioen ontvang. Die res verdien meer as wat hulle nodig het om van te leef en sukkel om te deel, vanaf die bedelaar tot by die president. Howe sal die pyn uitstel maar dit gaan nie die realiteit van SA aanspreek nie. Sny die kanker heeltemal uit en begin met bestraling, wat dit ook mag behels.

Jan ·

Louis
Ek is bevrees ons is verby die kantelpunt. Alle geld wat in Eskom ,SAA , e-tol , Prasa ens gepomp word gaan steeds geplunder word. Die nie-betalers gaan ook nie skielik betaal nie.
Na my mening is die nie-betalers die groot probleem. Selfs n goedbestuurde besigheid kan nie oorleef as hulle nie vir dienste betaal word nie

EMILY ·

Daar gaan niks goed van kom nie. die staat het oor die jare gewys hulle kan nie met groot geld werk nie. dit is asof die duiwel van hulle besit neem om alles in hul eie sakke te druk. Kyk wat het met al die miljoene gebeur en nog geen mens is in hegtenis daarvoor geneem nie. NE

Johan Venter ·

Hier kom groot moeilikheid. Ek kan nie sien dat Cyril en die ANC regering gaan besgee nie. Die gryp van pensioene gaan hoegenaamd nie die einde van Suid-Afrika se energie treurmare beteken nie en die probleme by Medupi kragsentrale kan ook nog 10 jaar neem voor dit opgelos sal wees.

Die ekonomie is reeds in die grond in geboor, hulle het die pot verlede week misgesit met die begroting wat nou nie eens ‘n week daarna nie soos ‘n seer vinger uitstaan. En hulle/die kaders met rooi gesigte laat? Hulle is al gewoond daaraan.

As ons pensioene op is, ons grond gegryp is en ook die NGV gegryp is, wat bly oor, die Handelsbanke en die Reserwebank?

En dit van ‘n eens suksesvolle land so kort terug as 20 jaar gelede, toe ons grootste ekonomie in Afrika was.

JN ·

Hul die Anc plunder die een na die ander belasting betalers koffer asof daar geen more is nie, sonder sorge vir die nagevolge!! Genade die dom astrante Anc lot ken geen perke of skaamte nie, net blootweg arrogansie!! Hul vrywaar hulself eenvoudig net van hul eie onbekwaamheid en verantwoordbaarheid en dit ten spyte van die hele Suid Afrika!! Hoeveel keer het hul alreeds miljarde rande van Suid Afrikaanse belastings geld verkwis aan hul eie falende persoonlikke spaar varkie staats ondernemings nie? Hul roof als bankrot en gooi dan net eenvoudig nog n lewenslyn uit keer op keer op die onkostes van die Suid Afrikaanse burgers??? Suid Afrika kan net nie meer die roekelose onbevoegde duur sous trein ryers bekostg nie! Waar gaan dit eindig?

Johanncb ·

Ons kan nie toelaat dat pensioengeld ook vermors word nie! Dit is ‘n resep vir algehele ondergang! Solidariteit se optrede word verwelkom!

marius ·

Die bangmaak stories van jare glede word nou dag by dag realiteit . Dit was afgelag as snert . Leef nou maar daarmee saam .

Louis ·

Die realiteit is dat die wat dit afgelag het is diegene wat ‘n ander god aanbid het en op hulle bankbalans vertrou het.

Louis ·

Die wat die waarskuwings afgelag het, het op hulle bankbalanse vertrou. Wat deel is van die afgode wat vandag aanbid word. Elkeen moet maar vir homself hieroor besluit.

EMILY ·

Bedank en neem jou geld. As de ANC eers hulle vraatsige hande daarop gele het is dit die laaste sien van die blikkantien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.