Phala Phala: Geheime stemming gevra

President Cyril Ramaphosa se aankoms by NASREC op 5 Desember 2022. Ramaphosa het oor die naweek bevestig dat hy nie gaan bedank nie. (Foto: Marco Longari / AFP)

ActionSA doen op die vooraand van ʼn parlementêre stemming oor pres. Cyril Ramaphosa se toekoms, ʼn beroep op speaker Nosiviwe Mapisa-Nqakula om te oorweeg dat stemme Dinsdag in die geheim uitgebring mag word.

Terwyl die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) Maandagoggend weer oor Ramaphosa se lot vergader, het die DA sy beplande mosie ingedien om te vra vir die ontbinding van die Nasionale Vergadering wat eindelik tot ʼn vervroegde verkiesing sal lei.

“Dit is in die land se beste belang,” hou DA-leier John Steenhuisen vol.

Herman Mashaba, president van ActionSA, wys weer daarop dat dit die eerste keer is dat die parlement die reëls aangaande die artikel 89-proses op die proef gestel word. “Ons glo dat die erns van hierdie situasie die speaker regverdig om haar diskresie uit te oefen wat ’n geheime stemming betref.”

Die versoek om ’n geheime stemming volg kort nadat die nasionale werkkomitee van die ANC Sondagaand besluit het om nié die artikel 89-paneel van ondersoek se bevindings na die gebeure oor die Phala Phala-voorval te aanvaar nie, maar dat daar eerder in die parlement daaroor gestem moet word.

ANC-LP’s sal glo ook gevra word om Dinsdag om die president laer te trek.

“Dit is nie hoe aanspreeklikheid werk nie,” sê Mashaba.

“Die speaker het ʼn plig teenoor die mense van Suid-Afrika om onafhanklikheid uit te oefen en nie toe te laat dat die proses polities deur die ANC se onbehoorlike invloed gedryf word nie. Ons glo dit kan bereik word deur toe te laat dat die stemmery in die geheim geskied sodat daar geen vergelding is teen lede van die regerende party wat wil hê die proses moet behoorlik ontvou sonder vrees of guns nie.”

Steenhuisen sê Suid-Afrika se toekoms behoort nie deur “omgekoopte” ANC-afgevaardigdes bepaal te word nie, maar deur al die kiesers van die land.

(Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

“Die parlement se rol is juis om in tye soos hierdie op te tree en die mag aan die mense terug te gee. Dit kan dit net gebeur deur die Nasionale Vergadering te ontbind sodat die president ʼn vroeë verkiesing kan uitroep.

“Terwyl pres. Ramaphosa veg vir sy politieke toekoms, sink die land al hoe vinniger in ʼn toestand van lyding, vernietiging en chaos. Die presidensie beweer dat Ramaphosa slegs gelei word deur ʼn oorweging van wat in Suid-Afrika se beste belang is.

“Daar kan geen twyfel wees dat ʼn vroeë verkiesing in die land se beste belang is nie. Dit is die enigste uitweg uit die verskriklike gemors waarin ons is,” sê Steenhuisen.

Mabuza ‘onbevoeg’ om oor te neem

Steenhuisen sê ook adjunkpres. David Mabuza is onbevoeg om die leisels by Ramaphosa oor te neem, sou die president in ʼn staat van beskuldiging geplaas word.

“Mabuza het ʼn internasionale reputasie dat hy op die pad na bo doodgemaak en gesteel het en niks van waarde vir Suid-Afrika gedoen het sedert hy adjunkpresident geword het nie. Sy opkoms tot waarnemende president sal ʼn verdere slag aan Suid-Afrika se welstand en geloofwaardigheid toedien.”

Steenhuisen sê die ander moontlike kandidate wat die ANC se leisels kan oorneem – Zweli Mkhize en Paul Mashatile – is self besoedel deur bewerings van korrupsie, terwyl die ANC verlam is deur bankrotskap, binnegevegte en verouderde idees.

“Die ANC se benoemingslys vir setels op sy nasionale uitvoerende komitee (NUK) van 80 lede is propvol veroordeelde misdadigers en korrupte individue,” sê Steenhuisen.

  • Daar sal Dinsdag oor die artikel 89-paneel van ondersoek se bevindings in die parlement gedebatteer word voor daar gestem sal word of Ramaphosa in ’n staat van beskuldiging geplaas moet word. Daar heers tans diep verdeeldheid binne die regerende party, maar dit wil voorkom of Ramaphosa die meerderheid steun geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kobus ·

Afrika tyd, Afrika mentaliteit. Ek gaan nie eers Oros en popcorn kry nie. ANC is belangriker as SA. Hy word beskerm. Instruksie is reeds deur ou brombeer / fosiel Mantashe gegee. Wat ‘n skande

Tredoux ·

Ek het nou gesoek vir boeie in die foto hierbo, maar “who am I kidding”…

JohanR ·

Cyril Ramaphosa het nou geen geloofwaardigheid nie. Wie gaan na hom luister en enige wat hy te se het in die volgende 5 jaar……GEEN geloofwaardigheid!

Antie Sarie ·

Alles gebeur buitendien in die geheim. Jare gelede het n wyse persoon gese, mense wat polonie eet en die regering se reels ondersteun, moet nie sien hoe word enige van die twee gemaak nie,

Althes ·

Ag hou op in Arthur Fraser se hande te speel!!!!
Al die oppurtuniste wat nou ñ vroegtydige geleentheid sien, en die situasie wil ryp druk, moet pasop dat dit nie backfire nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.