Phala Phala ‘toets van SA se demokratiese vryheid’

Pres. Cyril Ramaphosa se politieke toekoms is steeds onseker. (Argieffoto: Rajesh Jantilal/AFP)

ʼn Parlementêre proses om pres. Cyril Ramaphosa moontlik in ʼn staat van beskuldiging te plaas, asook die ondersoeke deur die Reserwebank, die Openbare Beskermer, die Valke en die parlement se staande komitee oor finansies, moet ruimte gegun word om afgehandel te word en aanspreeklikheid moet op grond van dié ondersoeke aanvaar word.

“Nes die geval tydens [oud-]pres. Jacob Zuma se bewind, staar politieke onstuimigheid en gepaardgaande ekonomiese druk ons land in die gesig wat spruit uit die twyfelagtige optrede van diegene in gesag in die regering,” sê Wayne Duvenhage, uitvoerende hoof van die drukgroep Outa.

“Suid-Afrika se groei en voorspoed sal weereens in die gedrang wees terwyl ons vaar op die stormwater wat voorlê en wat vererger word deur interne faksiegevegte wat die regerende party teister in aanloop tot sy leierskapsverkiesing oor ʼn paar weke.”

Outa het gereageer ná die artikel 89-komitee vandeesweek verdoemende bevindings teen pres. Cyril Ramaphosa oor die Phala Phala-skandaal gemaak het. Die verslag is Woensdag aan die speaker van die parlement oorhandig.

Die paneel het bevind die president het hom moontlik skuldig gemaak aan ʼn ernstige skending van die Grondwet en dat die parlement op grond hiervan verdere ondersoek moet instel oor of hy in ʼn staat van beskuldiging geplaas moet word.

Een van die redes hiervoor is weens ʼn moontlike botsing van belange tussen sy amptelike verantwoordelikhede en sy private sakebelange.

Outa het die verslag verwelkom en ʼn beroep op politici gedoen om uiters versigtig en volwasse op te tree terwyl die proses ontvou. Volgens Duvenhage is die proses boonop ʼn “nodige toets vir Suid-Afrika se demokrasie”.

“Ons demokrasie is broos en presteer veel swakker as sy volle potensiaal, hoofsaaklik weens korrupsie en wanbestuur in die regering. Oor die afgelope 15 jaar het ons parlement tekortgeskiet in sy rol om die uitvoerende gesag verantwoordbaar te hou.

“Partybelange is voor die behoeftes van Suid-Afrikaners geplaas en dit het die hervorming van ons kiesstelsel in die soeklig geplaas,” sê Duvenhage.

Corruption Watch sê ook die bevindings het ernstige gevolge vir die president se vermoë om die land doeltreffend te lei en terselfdertyd die vertroue van die publiek te behou op grond van sy sterk uitsprake teen korrupsie.

Die organisasie het ʼn beroep op instellings met ʼn oorsigrol – en wat enige bewyse het – gedoen om die kwessie as ʼn saak van dringendheid te hanteer en sê daar is geen ruimte vir onnodige vertragings nie.

“In ʼn land geteister deur korrupsieskandale oor ʼn uitgerekte tydperk, wat instellings verswak, die ekonomie weggekalwe en dienslewering geraak het, verdien Suid-Afrikaners nou antwoorde,” sê Karam Singh, uitvoerende hoof van Corruption Watch.

“Vir ʼn president om van sulke ernstige skendings beskuldig te word is net nóg ʼn krisis vir ʼn land wat reeds steier onder ʼn vlaag uitdagings waarvan baie met korrupsie verband hou.”

Corruption Watch stem saam met Outa dat die prosesse toegelaat moet word om afgehandel te word en waarsku ook “dat niemand toegelaat moet word om straffeloos op te tree nie”.

Die land se demokrasie is op ʼn mespunt en dit is belangrik dat die oppergesag van die reg vir álmal geld, veral omdat Suid-Afrika nie juis ʼn indrukwekkende geskiedenis het om die uitvoerende gesag aanspreeklik te hou nie.

“Dit is sekerlik belangrik dat die president, wat die hoogste amp beklee, aan dieselfde standaarde en prosesse onderwerp word as enigiemand anders,” sê Singh.

“Indien die president kies om te bedank, behoort sy bedanking ter wille van aanspreeklikheid en demokratiese regeringsbeginsels te wees.”

ʼn Onseker tyd lê vir Suid-Afrika voor en Outa sê ook sou Ramaphosa bedank en ʼn leierskapsverandering plaasvind, vertrou die organisasie die nuwe leiers sal opnuut die vertroue van mense wen om die land vorentoe te neem en die stryd teen korrupsie en magsmisbruik voort te sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Wel dis nie asof die rugraatlose magsmal leunaar verandwoordelikheid gaan aanvaar vir wat sy eie self waan aan die land doen nie? Multibiljoenêr wat lag vir ons patete wat geregtigheid vra. Hy kan begin om te betaal.vir die R5.4 miljoen kostes vir die ondersoek?

Johann ·

Foto sê als…as ek als lank genoeg ignore…sal.dit weg gaan. Toe nou nie.

Groen Ghoen ·

Op die keper beskou is daar nog geen ondersoek oor die voorval gedoen met ‘n dossier wat suksesvol in ‘n hof getoets kan word nie. Getrou aan die ANC en Ramapromises se aard is die hele petalje gehul in ‘n waas van dubbelspraak. “Verdoemende getuienis?” Die regter het blykbaar slegs onderhoude gevoer. Verwag dus dat Ramapromises net soos Zuma onskuldig gaan pleit en “Die lang spel” ad infinitum speel, hierdie keer met die top advokate wat sekerlik al aangestel is.

Tredoux ·

Die nie-dansende “Zuma” wat meeste mense so betower het.

Nie Verbaas ·

Phala Phala ‘toets van SA se demokratiese vryheid’? Nee, eerder n bewys van tipiese ANC tekort aan integriteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.