Pitbull-slagoffer wil ‘net weer soos ander mense lyk’

Dupuo Kokolosi (47) is erg vermink nadat sy deur drie pitbulls verskeur is. (Foto: Verskaf)

Waarskuwing: Hierdie berig bevat foto’s wat sensitiewe lesers kan ontstel. 

As die 47-jarige huiswerker Dupuo Kokolosi net weer soos ander mense kan lyk, sal haar droom verwesenlik wees.

Só het haar dogter, Patricia (Nunu) Modise, vandeesweek aan Maroela Media gesê byna vier maande nadat haar ma deur drie pitbulls verskeur is.

Maroela Media het vroeër berig dat Kokolosi se neus, oor, lip en wang onder meer in die aanval by haar werkgewer se huis in Potchefstroom afgeruk is. Sy het ook beserings aan haar oog, been en arm opgedoen.

Kokolosi is op 19 Maart uit die Chris Hani Baragwanath-hospitaal ontslaan en sou verlede maand rekonstruktiewe chirurgie ondergaan het. Volgens haar dogter is dit egter vir die soveelste keer uitgestel en moet Kokolosi op 20 Junie weer na dié Johannesburgse hospitaal terugkeer. Hulle hoop dat dokters dié keer met die chirurgie – aan haar gesig én bene – sal begin sodat haar ma weer soos haarself kan voel.

“Sy is baie hartseer. Sy bid dat sy weer soos ander mense kan lyk.”

Modise sê die voorval het nie net ʼn fisieke effek op haar ma nie, maar ook emosioneel.

Dokters moes die gat waar Dupuo Kokolosi se oor was, toewerk. (Foto: Verskaf)

“Dit gaan darem al beter sedert sy berading ontvang het. Dit het soms gelyk of sy van haar kop af wil raak.”

Modise sê haar ma se gehoor is ook aangetas aangesien haar oor heeltemal weg is en dokters die gat waar haar oor was, moes toewerk. Kokolosi se sig is ook belemmer weens die besering aan haar oog en volgens Modise traan haar ma se oë gedurig.

Kokolosi woon tans op Bloemhof in Noordwes waar haar ma haar versorg. Modise woon intussen in haar ma se huis op Potchefstroom, maar reis gereeld na Bloemhof om haar ouma met Kokolosi se versorging te help.

Sy sê die geld wat met die Back-a-Buddy-geldinsamelingsfonds ingesamel is, help om vir dié reise asook al Kokolosi se mediese uitgawes te betaal. Modise is werkloos en Kokolosi, wat na Modise en haar twee kinders omgesien het, is nog nie in staat om weer te werk nie.
Die kinders moes boonop óók berading ontvang, aangesien hulle glo erg getraumatiseerd is oor Kokolosi se voorkoms.

“Toe die kinders haar vir die eerste keer ná die aanval sien, was hulle bang vir haar. Hulle is egter nou oukei nadat hulle berading van ʼn maatskaplike werker ontvang het.”

Modise is opgewonde oor die moontlikheid dat haar ma in ʼn private hospitaal in Durban opgeneem kan word, hoewel dit nog nie bevestig is nie.

Sy sê sy het intussen ʼn klag van nalatigheid namens haar ma by die polisie ingedien, maar nog niks weer omtrent dié klag gehoor nie. Die polisie het vroeër aan Maroela Media gesê dat hulle die voorval ondersoek.

Maroela Media het ʼn navraag by die polisie oor die vordering met die ondersoek ingedien en wag tans op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hasie ·

Die eienaar van die honde moet ook help met onkostes …dit is niks meer as regverdig nie . Pitbulls is berug vir hul agressie .Drie Pitbulls op een erf is definitief al klaar bekommernis.

KatjieDeKat ·

Wat hierdie vrou moes deurmaak en nog steeds doen is absoluut onaanvaarbaar. Sue the owners of the dogs into vagrancy please. Pitbulls..ek wil al braak as ek die woord hoor.

Luhelen ·

Kan Solidariteit se Private Vervolgingsgesag nie ASSEBLIEF betrokke raak nie? Die eienaars van die honde MOET aanspreeklik gehou word!! Hierdie vrou se lewe is ingrypend negatief aangetas. GEREGTIGHEID moet geskied!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.