Plaasmoordenaar se vonnis ‘’n groot verligting’

Hannes Prinsloo is in 2009 op ʼn plaas in Settlers in Limpopo vermoor. (Foto: Verskaf)

“My pa se dood het ons troosteloos agtergelaat met ’n intense verlange om net weer sy stem te hoor, na sy raad te luister of net sy lekker skaterlag uit sy maag vir almal se grappe te geniet.”

Só het Corrie van der Merwe (62), dogter van die vermoorde boer Hannes Prinsloo (84), Maandag aan Maroela Media gesê.

Hoewel sy 13 jaar ná sy moord steeds ’n intense verlange na haar pa het, vind sy berusting in die wete dat sy moordenaar lewenslange tronkstraf opgelê is.

Maroela Media het vroeër berig dat Oscar Mashiloane Vrydag uiteindelik gevonnis is nadat hy Prinsloo in Januarie 2009 op ʼn plaas in die Kalkbult-distrik naby Settlers in Limpopo vermoor het. Hy is met ʼn das verwurg en van geld en selfone beroof.

Mashiloane is in Augustus 2020, 11 jaar en sewe maande ná die moord, deur speurders van Bosveld-misdaadondersoeke (BMO) saam met die Bela-Bela-speurdiens en die polisie se misdaadintelligensie-eenheid in Mamelodi, oos van Pretoria, in hegtenis geneem.

Benewens lewenslange tronkstraf vir die moord, is hy in die hooggeregshof in Polokwane ’n verdere 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede en vier jaar tronkstraf vir huisbraak met die opset om te roof.

Mashiloane is met die moord verbind nadat sy vingerafdrukke op die toneel gevind is.

Van der Merwe sê die vonnis is “’n groot verligting”.

“Die trane rol vanself oor my wange want ná 13 jaar verlang ek nog steeds só baie.

“Sekere dae is die verlange oorweldigend en dan wens ek dat ek al my lief, leed en sommer net alles wat in my lewe aangaan met my pa kan deel.”

Sy sê sy hou vas aan die wete dat die Here “stadig, maar nooit laat is nie”.

Van der Merwe sê dat die familie weens Covid-19-beperkinge nie Mashiloane se hofverskynings kon bywoon nie. Sy sal egter altyd dankbaar wees vir die betrokke speurders wat nooit moed opgegee het in Prinsloo se saak nie.

“Kapt. Renier Schutte van die Modimolle-speurtak was van die begin af betrokke en hy was vasbeslote om die skurke te vang. BMO was ook deel van die ondersoek en dit is deur hulle voortgesette soektog dat die moordenaar eindelik op 26 Augustus 2020, op my pa se verjaardag, in Mamelodi in hegtenis geneem is.

“Baie dankie aan kapt. Schutte en die BMO-span wat enduit volgehou het met hul speurwerk. Julle is ons helde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Di ·

Ja jou sondes haal jou wel in! You can run but you cannot hide. Hoop hy vrot in die tronk, skuim van die aarde

Toy ·

‘n Verlange na ‘n ouer gaan nooit weg nie, dit is onmenslik om iemand te vermoor. Dankie aan mense wat nog hulle werk doen in die land.

Erika ·

Plaasmoorde word defnitief aangehits …deur sekeres vir politieke gewin
Geregtigheid sal geskied

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.